
Die strelende klanke van vioolmusiek dans in die oggendlug en ’n vrolike atmosfeer heers onder die gaste. Die rooikop-man-van-die-oomblik voel effens benoud in sy deftige pak – veral toe die vioolspeler lostrek met Celine Dion se My Heart Will Go On.
“Jong, is dit nie daai liedjie wat gespeel het toe die Titanic gesink het nie? Ek hoop nie dis ’n teken nie,” spot Thys Streicher (34), ook bekend as Die Bosveldklong.
Vandag kry die sanger en komediant die strop om die nek en die senuwees knaag nogal hier in die tuin van die spoggerige Café Gannet met sy pragtige uitsig oor die see by Mosselbaai.
Die trompetspeler begin die troumars speel en toe, alte pragtig in ’n ivoorkleurige trourok van die ontwerper Annie P, kom Debbie van Deventer (32) aangestap.
En daar langs die dominee, dr. Pieter de Jager met sy groen das (Thys noem hom die Outsurance-man), kan g’n mens die breë glimlag van die bruidegom se bakkies afgevee kry nie.
Pieter se knieë het gelukkig darem ophou bewe – net ’n dag tevore het hy saam met Thys, ’n regte adrenalienvraat, by die Gourits-brug gereksprong.
Sy boodskap is kort en kragtig. “Onthou altyd die woordjie ’bravo’,” sê hy. “Die B is die boustene van die huwelik – julle moet begrip vir mekaar hê. Die R is vir
respek – julle moet so optree dat julle mekaar se respek verdien. Die A staan vir aanvaarding – julle moet mekaar aanvaar soos Christus julle aanvaar. Die V staan vir vertroue en die O vir openhartigheid, een van die belangrikste boustene van die huwelik.”
En voor jy kan sê Titanic, is Thys en Debbie meneer en mevrou, en almal kuier in die restaurant. Daar smul die gaste alte heerlik aan Thaise hoenderkebabs, seekos-paella, wildspotjie, gevulde hoenderborsies, kraakvars slaaie en nog wat, gevolg deur pure dekadensie – ’n sjokoldade-fontein, malvapoeding, kaaskoek en aarbeie vir die lafhartiges.
“Ek het die mooiste vrou,” sê Thys toe hy sy toespraak hou. “Ek is baie lief vir jou en dankie dat ek jou man mag wees.”
Lees in Huisgenoot van 19 Februarie meer oor Thys Die Bosveldklong en sy nuwe vrou.





