Friday, 06 November 2009

Skok: Bles Agassi was op tik!


Met sy wilde hare, uitspattige klere en ondeunde seuntjieglimlag was hy die liefling van die tenniswêreld – die oulike outjie wat selfs Barbra Streisand se hart verower het.

Hy was supertalentvol, aantreklik, elke ma se droom vir haar dogter. Maar nou het Andre Agassi sy eie beeld aan skerwe laat spat met die skok-onthulling dat hy dwelms gebruik het terwyl hy gespeel het.

En net om verdere sout in die wonde te vryf, bieg hy dat hy tennis haat met ’n “diep en geheime passie”. En dat daardie wonderlike, woeste hare eintlik ’n pruik was . . .

Dit is geen wonder die 39-jarige tennisliefling wat op sy dag agt Grand Slam-titels gewen het, het die tenniswêreld nou behoorlik op hol nie.

Andre het onlangs erken hy het in 1997 metamfetamien, plaaslik bekend as tik, begin gebruik toe sy tennis agteruit begin gaan het. En toe hy met ’n opkikkertoets uitgevang word, het hy vir die ATP, die gesagsliggaam vir manstennis, gelieg om skorsing vry te spring, onthul hy in sy outobiografie, Open: An Autobiography.

Die hare-onthulling is nog ’n skok . . .

“Elke oggend sou ek opstaan en nog ’n stuk van my identiteit op die kussing, in die wasbak, in die prop se gat kry,” skryf hy. “Ek het myself gevra: Wil jy ’n pruik dra? Op die baan?”

Die antwoord was toe ja, want hy was te skaam om op 20 met ’n bles voor miljoene pare oë te verskyn.

Die aand voor die Franse Ope in 1990 het hy onder die stort gestaan toe sy pruik uitmekaar begin val.

Hy het dadelik sy broer, Phillip, laat kom en saam het hulle dit met haarknippies aanmekaargeflans.

Die volgende dag het hy sy eerste Grand Slam-titel verloor omdat hy heeltyd moes keer dat sy haarstuk afval, vertel Andre. Sy eksvrou, die aktrise Brooke Shields, het hom later oorreed om sy hare af te skeer.

Maar dis vanselfsprekend die dwelmonthulling wat die tenniswêreld nou werklik ruk . . .

Lees meer oor Andre se onthullings en wat die wêreld daaroor sê in Huisgenoot van 12 November.