Friday, 06 November 2009

Die waarheid: Huilende Joost bieg


Dit is net ná agtuur op ’n Dinsdagoggend en hy sit in sy motor voor hul huis in Dainfern, Johannesburg. Joost van der Westhuizen het pas sy kinders by die skool afgelaai, en nou luister hy oor sy motorradio na wat vir sy vrou, Amor Vittone, ’n baie moeilike onderhoud moet wees.

Hy is te skaam om in die huis te gaan luister. Hy is bang hul huiswerkers sien hoe hy huil.

Amor probeer dapper klink, maar ’n mens kan hoor sy sluk haar trane. Joost het immers nou eindelik voor die hele wêreld gebieg hy het haar met ’n ontkleedanseres verkul, dwelms gebruik én toe vir haar en die wêreld daaroor gelieg.

Dan sê Amor in die onderhoud met 94.2 Jacaranda FM die woorde wat Joost die diepste tref: “Ek is lief vir hom. Jy sal nie in ’n huwelik wees as jy nie is nie. En mmm . . . watter soort keuses maak jy, hoe hanteer jy so iets en hoe beskerm jy jou kinders?”

“Ek het soos ’n kind gehuil,” vertel hy later die dag toe ons hom ontmoet vir ’n onderhoud. Sy oë is vol trane. “Dan vra jy: Hoe kon jy? Daardie drie woorde. Dat ek wragtig vergeet het wie ek was, waar ek vandaan kom! Die klein seuntjie van die Moot.”

Die boorling van dié tipiese middelklasgebied in Pretoria vertel toe die radio-onderhoud met Amor klaarmaak, kon hy hoor sy is weer in trane. Sy foon het gelui – dit was Amor wat wou weet of dit oukei was. Maar hy het so gehuil dat hy nie ’n woord kon uitkry nie.

Twyfel Amor dan steeds? Want dié oggend het sy in die onderhoud gesê: “Ek wil net die eerlike waarheid weet. Ek moet besonderhede hê. Ek moet verduidelikings kry . . .’’

’n Paar uur later laat gly Joost sy nuwe biografie driftig oor die blink hout van sy prokureur se konferensietafel in Hatfield, Pretoria. “Dit wat in hierdie boek staan,” sê hy, “is die waarheid.”

Lees wat Joost sê oor onder meer sy baie verbintenisse met vroue, die dwelms en sy drankmisbruik in Huisgenoot van 12 November.