
Vannag sal Morné Steyn heerlik droomloos slaap. Want waaroor droom ’n mens immers as ál jou drome klaar verwesenlik is?
Die nuwe Springbok is net ’n bietjie moeg. Hy het heeldag geoefen vir die tweede toets teen die Leeus. “Is dit nie elke seuntjie se droom om vir die Springbokke te speel nie? Ek weet dit was altyd myne. Maar Victor Matfield herinner my tog nou daaraan dat dit eintlik net die begin is.”
Nie dat Morné nie reeds ’n droomseisoen agter die rug het nie. Hy en sy spanmaats by die Bulls is hierdie seisoen se Super14-kampioene, en sonder aarseling gaan hy voort: “Vir enige speler sou dit die hoogtepunt van hul seisoen gewees het om die Super14 te wen. En om vanjaar voor die skare by Loftus te kon speel, het die oorwinning ekstra spesiaal gemaak. Dit sal altyd ’n hoogtepunt wees wanneer ek na my loopbaan terugkyk. Maar om ’n Bok te word, is nóg groter.”
Hy het sy eerste toets in die Groen-en-Goud agter die rug en sy lewenslange droom is verwesenlik. En nou het hy net een doel voor oë, en dit is dat die Bokke die reeks wen. “Dis vir my veral baie spesiaal om nou gekies te word terwyl ons teen die Britse en Ierse Leeus speel, want daar is spelers wat nooit die kans gekry het nie. Nou moet ons wen.”
Die uitdeel van die truie aan die manne wat die dag op die veld gaan draf, was nog altyd ’n gewigtige Springbok-tradisie. Gewoonlik is dit die voorreg van ’n voormalige speler wat dan vertel hoe trots hy gevoel het toe hy die trui gedra het en watter opofferinge jy daarvoor moet maak. Maar dié keer het die sakeman Johann Rupert, grootbaas van Remgro, die truie uitgedeel.
“Ál my besittings kan steeds nie vir my een van dié besorg nie en julle moet trots wees op wat julle bereik het,’’ het Johann gesê voor hy die gesogte truie uitgedeel het.
Lees hoe dit voel om ’n Springbok te wees in Huisgenoot van 2 Julie.


















