Thursday, 25 June 2009

’n BOK VIR WEN


Vannag sal Morné Steyn heerlik droomloos slaap. Want waaroor droom ’n mens immers as ál jou drome klaar verwesenlik is?

Die nuwe Springbok is net ’n bietjie moeg. Hy het heeldag geoefen vir die tweede toets teen die Leeus. “Is dit nie elke seuntjie se droom om vir die Springbokke te speel nie? Ek weet dit was altyd myne. Maar Victor Matfield herinner my tog nou daaraan dat dit eintlik net die begin is.”

Nie dat Morné nie reeds ’n droomseisoen agter die rug het nie. Hy en sy spanmaats by die Bulls is hierdie seisoen se Super14-kampioene, en sonder aarseling gaan hy voort: “Vir enige speler sou dit die hoogtepunt van hul seisoen gewees het om die Super14 te wen. En om vanjaar voor die skare by Loftus te kon speel, het die oorwinning ekstra spesiaal gemaak. Dit sal altyd ’n hoogtepunt wees wanneer ek na my loopbaan terugkyk. Maar om ’n Bok te word, is nóg groter.”

Hy het sy eerste toets in die Groen-en-Goud agter die rug en sy lewenslange droom is verwesenlik. En nou het hy net een doel voor oë, en dit is dat die Bokke die reeks wen. “Dis vir my veral baie spesiaal om nou gekies te word terwyl ons teen die Britse en Ierse Leeus speel, want daar is spelers wat nooit die kans gekry het nie. Nou moet ons wen.”

Die uitdeel van die truie aan die manne wat die dag op die veld gaan draf, was nog altyd ’n gewigtige Springbok-tradisie. Gewoonlik is dit die voorreg van ’n voormalige speler wat dan vertel hoe trots hy gevoel het toe hy die trui gedra het en watter opofferinge jy daarvoor moet maak. Maar dié keer het die sakeman Johann Rupert, grootbaas van Remgro, die truie uitgedeel.

“Ál my besittings kan steeds nie vir my een van dié besorg nie en julle moet trots wees op wat julle bereik het,’’ het Johann gesê voor hy die gesogte truie uitgedeel het.

Lees hoe dit voel om ’n Springbok te wees in Huisgenoot van 2 Julie.

LIEFDE IN DIE LAAN VOL DORINGS


Hy is enige skoonma se droom: ’n saggeaarde, hartlike, ordentlike en hubare man wat boonop as die beste kok in die buurt bekend is. In 7de Laan het Brenda self so gesê, maar toe sy uitvind haar dogter, Ciska, is sy meisie, was Vince glad nie meer die droomskoonseun nie . . .

En dis nie ál teenstand wat hierdie gewilde sepie se eerste gemengde paartjie ondervind nie – op die kassie én in die werklike lewe.

Nie net is die verhouding oor die kleurgrens heen die grootste besprekingspunt in die Laan nie, in koerante word ook uitgevaar dat hierdie intrige ‘‘15 jaar te laat is’’ omdat verhoudings soos dié net nie meer ’n knelpunt in die samelewing is nie. ‘‘Kom net by, 7de Laan’’, het ’n onlangse opskrif in ’n Sondagkoerant pront-uit geskel.

Kykers se reaksie wissel, sê Danie Odendaal, die ver-vaardiger van die reeks. ‘‘Party kykers voel dit is heel-temal natuurlik en hoog tyd, en ander dreig om hul TV’s af te skakel.’’

Ook Jacques Blignaut (29) – hy speel Vince – meen ’n gemengde verhouding laat tog nog wenkbroue lig. En hy praat van ondervinding.

Hy het self onder kritiek deurgeloop toe hy nege jaar gelede met ’n wit meisie, Melanie Wright, op universiteit begin uitgaan het. Hy en dié joernalis by Transwêreld Radio is in Mei getroud (Amore so reg uit die Laan, 11 Junie).

‘‘Ons was gelukkig nooit in ’n lelike situasie waar mense ons uitgekryt het nie, maar daar was tog gevalle waar jy die ondertone van afkeer kon hoor, of agterkom mense skinder agter jou rug. Of jy kry snaakse kyke wanneer julle saam by ’n funksie opdaag.’’

In die sosiale kringe waarin hy vandag beweeg, het niemand ’n probleem met ’n gemengde verhouding nie. ‘‘Maar daar sal altyd ’n klein groepie mense wees wat dit nooit sal aanvaar nie. Nie net in Suid-Afrika nie, maar oral ter wêreld.’’

Vince en Ciska se romanse is vir Jacques een van die mooiste storielyne waarby hy nog in 7de Laan betrokke was. ‘‘Dit is ’n pragtige liefdesverhaal wat ’n opregte liefde tussen twee mense uitbeeld,’’ sê hy.

Lees meer wat die sepiesterre deurmaak met hul liefde oor die kleurgrens heen in Huisgenoot van 2 Julie.

OPRAH KWEEK LEIERS VIR TOEKOMS


Sy klink so trots soos enige ma wanneer sy oor haar ‘‘kleuter’’ gesels. Maar soos elke ma van ’n woelige kleinding van twee en ’n half jaar het sy ook al moeilike dae en slapelose nagte agter die rug waarin die trane gevloei het en die lesse op die harde manier geleer is.

Tog glo Oprah Winfrey dat die Oprah Winfrey Leader-ship Academy for Girls, die meisieskool in Gauteng wat haar naam dra en wat sy liefdevol haar kleinding noem, net van krag tot krag sal gaan en dat van die leiers van die toekoms nog hier sal uitstap.

Dit sê die TV-megaster self aan Huisgenoot toe ons op uitnodiging ’n paar uur deurbring by die skool waar 300 begaafde meisies uit minderbevoorregte omstandighede ’n groot hupstoot in die lewe gegun word.

Al van die eerste dag toe dit in Januarie 2007 geopen is, brand die wêreld om Oprah se skool te sien. Tot dusver moes ons tevrede wees met nuusbrokkies oor wat in die slaapsale en gange van die skool van R280 miljoen in Henley-on-Klip aangaan – en dit was meestal slegte nuus. ’n Huismoeder is in die skool se eerste jaar in hegtenis geneem op ’n klag dat sy verskeie meisies in haar sorg seksueel aangerand het. En vroeër vanjaar is vier meisies geskors en drie ander tydelik geskors oor seksuele wandade.

Maar vandag is hier geen sweempie te bespeur van al die omstredenheid van vroeër nie. Die skool spog met alles wat jy sou verwag van die geesteskind van een van die wêreld se rykste vroue, en nog meer.

‘‘Hierdie pragtige kampus en toerusting wat van oral in die wêreld hierheen gebring is, is daarop gemik om die meisies aan die heel beste dinge bloot te stel om van hulle leiers te maak,’’ sê Oprah geesdriftig.

Die meisies noem haar “mam” Oprah. Hulle drom om haar saam en staar haar vol bewondering aan. Maar soos enige toegewyde ma kan Oprah ook streng wees.

Nog meer oor hierdie luukse skool en foto’s in Huisge-noot van 2 Julie.

MEJ. SA – WAT ’n VUURDOOP!


Sy’s lieflik lank met eindelose bene en ’n volmaakte figuur, sy’s beeldskoon en haar vel is vlekloos, haar klerekas hang vol ontwerpersrokke en sy bruis behoorlik van selfvertroue. Nou hoekom het Tatum Keshwar dan haar eerste maande as Mej. Suid-Afrika stilletjies om-trent omgehuil?

Het jy die donkerkop-skoonheid ’n paar maande gelede gevra hoe dit voel om die kroon te dra waaroor baie klein meisietjies droom, het jy dalk geskrik vir die antwoord.

Sy was ’n meisie van Durban wat oornag alleen gelaat is in die gewoel van ’n wêreldstad waarin sy g’n mens geken het nie. Haar program was moordend, sy moes sprankelend by elke geleentheid opdaag en sy moes vrou-alleen daar uitkom in dié gans onbekende miernes wat hulle Johannesburg noem.

G’n wonder Tatum moes soms haastig eers die maskara weer regdokter voor sy uit die motor klim nie. ‘‘Ek onthou ek het op pad na een van my eerste openbare optredes lekker verdwaal,’’ vertel die 25-jarige skoon-heid toe sy by Huisgenoot se kantoor in Sandton inloer. ‘‘Ek moes eers stilhou en goed huil!’’

Sy’t gewens daar was net tydjie vir ’n blaaskans dat sy eers alles kan inneem, maar so werk dit nie in die wêreld van skoonheid nie. En wat jou nie doodmaak nie, maak gelukkig uiteindelik van jou ’n sterker mens. ‘‘Agterna beskou sien ek die beproewing van veral daardie eerste twee maande het my geleer om enige situasie te kan hanteer,” vertel sy trots. ‘‘En as Mej. Suid-Afrika moet jy op enigiets voorbereid wees.

‘‘Soms daag jy ewe niksvermoedend by ’n geleentheid op net om aan die diep kant ingegooi te word en gevra te word om gasvrou te speel. Of jy moet op die plek ’n toespraak voor 1 000 mense lewer waarvan jy niks geweet het nie. Dit kan omtrent ’n vuurdoop wees.’’
En toe verjaar haar pa boonop in Februarie en sy’s nie daar nie.

Mej SA maak haar hart oop in Huisgenoot van 2 Julie.

REFILWE – PA TOBIE SE TROTS


Sy is 14 jaar oud en skaam soos enige tiener, maar Refilwe Matsimela weet reeds wat sy eendag wil doen. Nee, sy wil beslis nie in haar pa se akteur-voetspore volg nie. Sy wil ’n vlieënier wees.

En hy is doodtevrede. ‘‘Jong, ons ken die bedryf en weet hoe moeilik dit is. Dan is ’n mens maar net te dankbaar dat jou kind nie dieselfde pad wil stap nie!’’ meen die veteraan-akteur Tobie Cronjé wat deesdae ook in die sepie Binnelanders te sien is.

Refilwe is sy trots en hy haar emosionele en finansiële pa, sê die grapkas-akteur, en vertel dan nostalgies hoe dit alles begin het. Dit was ’n koel lente-oggend in Sep-tember 1994 toe hy ’n oproep van die destydse JG Strydom-hospitaal in Johannesburg kry met die nuus dat sy huishulp die lewe aan ’n kind geskenk het, onthou Tobie nog.

Hy het dadelik in sy motor gespring. By die hospitaal het ’n bekommerde Philippine Matsimela hom vertel dat sy nog nie haar baba gesien het nie, want die verpleegsters het haar onmiddellik weggeneem. Hulle het haar net vertel dis ’n meisie.

Tobie wou onmiddellik die kind sien. In ’n ander saal kom hy toe op ’n trollie af waarop twee babas lê: ’n seun en ’n meisie. Toe weet hy watter een sy kind is.

’n Paar maande voor die bevalling het Philippine, wat toe al twee jaar as huishulp vir Tobie gewerk het, hom vertel dat sy swanger is, maar dat daar nie ’n pa vir die kind is nie. Toe sê Tobie: ‘‘Dan sal ek maar ’n pa vir die kind wees.’’

Hy onthou nog goed hoe hy gevoel het toe hy haar die eerste keer aanskou. ‘‘Ek was so verbaas oor die wonder van die lewe. Sy was so klein en so perfek. Sy het glad nie gehuil nie. Sy was net pragtig.’’ Hy wou nog altyd ’n kind gehad het.

‘‘Ek vind maklik aanklank by kinders. Ek hou van hul spontaniteit en lewensenergie. Dit is ook waarom ek dit so geniet om elke jaar in Janice Honeyman se kinder-konserte te speel.

Kyk hoe lyk Tobie as pa in Huisgenoot van 2 Julie.

Thursday, 18 June 2009

Gerrie Pretorius sing danksy modelmeisie


Dit was so ampertjies of die sanger Gerrie Pretorius se stem het permanent stil geword. Hy’t vroeg in Mei in ’n desperate oomblik besluit om die mikrofoon finaal weg te pak en sy sangloopbaan te laat vaar. Alles was verby.

Die donkerkop met die bry het besluit hy gaan nie weer op ’n verhoog klim nie en sy negende CD wat binnekort uitgereik word, sou sy laaste wees. Dit het ’n vrou gevat om die sanger van treffers soos Annemarie My Skat en Sewe Sondes te oorreed om weer te dink oor dié oorhaastige besluit. En nie sommer enige vrou nie . . .

Dit was sy nuwe meisie, die beeldskone model Monique Strydom, wat hom reguit in die oë gekyk en gesê het: ‘‘Dink mooi oor wat jy doen.’’

Monique loer liefdevol na haar kêrel in sy stylvolle huis in Irene, Pretoria. ‘‘Ek sal Gerrie ondersteun, maak nie saak wat hy doen nie, maar ek was bang hy sou oor ses maande leeg gevoel het as hy ophou sing het. En hy sou baie mense teleurgestel het.

“Dit sou wees soos ’n Olimpiese atleet wat hard werk om ʼn goue medalje te wen, net om sy hardloopskoene weg te pak sodra hy dit uiteindelik regkry,’’ sê Monique (27).

‘‘Sy is die een wat my weer opgewonde gemaak het oor sing,’’ beaam Gerrie (31). ‘‘En nou gaan ek die brieke losmaak, ek gaan volstoom voort!’’

Hy het die afgelope maand of wat vreeslik oor sy loopbaan gewroeg, erken die sanger wat ook ’n suksesvolle eiendomsontwikkelaar op Mosselbaai is (Ek wil werk tot op 90!, 12 April 2008) en tussen die Suid-Kaap en Blou Bul-wêreld pendel. ‘‘Ek wil nooit weer ’n maand soos die afgelope Mei beleef nie. Alles het skeefgeloop. My sakebelange het al my aandag geverg en ’n groot projek het misluk. Toe het ek besluit om my sangloopbaan te laat vaar sodat ek voortaan al my aandag aan my onderneming kan gee.”

Lees meer oor die sanger in Huisgenoot van 25 Junie.

Sexy sokkerspelers in Fifa-Konfederasiebeker


Sjoe, is dit nie opwindend nie? Dié fees van sokker waaroor almal so tekere gaan. Dis nou die sokkerskouspel wat vir ons ’n watertand-voorsmaak moet gee van die hoofgereg van volgende jaar en so aan en al daardie dinge.

En die Fifa-Konfederasiebekertoernooi is seker wonderlik, al daardie jong mans op die kruin van hul loopbaan wat balle skop en keer. Maar hier’s die rede hoekom die toernooi vir ons in Huisgenoot se kantoor eintlik louter vreugde is: Daai smeulende spelers . . .

Kom ons wees nou maar eerlik: Die hoogtepunt van die wedstryd is aan die einde wanneer hulle hul hemde uitpluk en met die ander span s’n omruil. Hier is ’n keur van die sexyste deelnemers aan die Konfederasiebekertoernooi. Lekkerrr!

Fernando Torres (25), doelskieter van Spanje

Wat maak hom sexy? Die lang, lenige, blonde Fernando is so grasieus soos ’n gemsbok, die soort ou van wie jy nie jou oë kan afhou wanneer hy oor die veld hardloop nie. Hy is nou so smaaklik soos ’n tortilla met ’n geurige porsie paella daarby. Spierpaleis-telling 9/10.

Wetenswaardigheid: Hy verskyn in ’n musiekvideo van die Spaanse rock-groep El Canto del Loco en het ’n klein rolletjie gehad in die Spaanse komedie-rolprent Torrente 3: El Protector van 2005. ’n Man van vele talente.

Fabiano Cannavaro (33), middelagterspeler van Italië

Wat maak hom sexy? Hy lyk soos ’n stout seuntjie met sy kaalgeskeerde kop, gebeitelde gelaatstrekke en ’n kakebeen waarop jy kaas sou kon sny. Voeg daarby maagspiere waarop ’n mens sou kon trampolien spring en genoeg passie om enige veld aan die brand te speel en jy het ’n amper volmaakte pakket van daardie Latynse oemf. Wie wil hom nou nie huis toe neem nie?
Spierpaleis-telling 8/10.

Wetenswaardigeid: Sy ma was ’n huishulp en sy pa ’n bankklerk. Hy het sy loopbaan by sy plaaslike klub as baljoggie begin.

Kyk na die ander spierpaleise van die sokkerwêreld in Huisgenoot van 25 Junie.

Franse parfumeur is pure boer


Hy praat met ’n swaar Franse aksent, maar sy kleintyd-herinneringe is van die olifante in die Krugerwildtuin en die uitsig oor die Gewelberge vanaf Clifton se strand. Maar die lekkerste onthou van alles is die skoolvakansies in die gesin se motor deur die Oranje-Vrystaat op pad na hul familieplaas buite Bothaville.

Dan het sy ma, Mireille Soury-Lavergne, die provinsie se naam so mooi in haar moedertaal oor haar tong laat rol: État libre d’Orange. Jare later toe dié boorling van Sunnyside, Pretoria, moes besluit wat hy sy aweregse parfuum-maatskappy in die wêreldstad Parys gaan noem, het Etienne de Swardt weer sy ma se stem gehoor en besluit om dit Etat libre d’Orange te noem.

Hy het dadelik geweet die naam is perfek. Die klank was mooi, die herinneringe was mooi, en dit was simbolies van die vrye republiek wat hy daarmee in die konserwatiewe parfuumwêreld geproklameer het. Want anders as in die bekende skoonheidshuise van Parys en New York is daar geen taboes in Etienne se parfuumryk nie. Elke parfumeur in sy stal word aangemoedig om unieke en aweregse geure te meng om ’n produk te skep wat die parfuumreuse na hul asem sal laat snak.

‘‘Daar is net te veel moenies as jy vir die groot modehuise parfuum ontwerp,’’ sê hy. Etienne weet, want hy was self ’n hele paar jaar die een wat parfumeurs van Moët Hennessy Louis Vuitton (LVMH) moes bly herinner dat hul geure eenvoudig moet wees om in baie verbruikers se smaak te val. Nou hoef hy hom gelukkig nie meer te steur aan vermanings oor ‘‘finansiële risiko’’ en ‘‘beperkings’’ nie.

‘‘Hoe meer risiko, hoe meer vernuwing; hoe meer pret die parfumeurs het, hoe gelukkiger is ek,’’ lag Etienne waar hy in sy gitswart ontwerperspak op die stoep van ’n hotel in Sandton sit. Dis ’n siening wat sy unieke reeks maar te duidelik adem. En praat van ’n gekke mengelmoes . . . bloed en rose, wierook en kougom, malvalekkers en tabak-as . . .

Lees meer oor hierdie Boere-Fransman in Huisgenoot van 25 Junie.

Madonna ‘kry Mercy vir R156 m.’


As die popkoningin iets wil hê, kry sy dit gewoonlik – al is dit dan ook drie maande en miljoene dollars later. En nou het sy haar. Madonna (50) kan klein Mercy James, die vierjarige Malawiese meisietjie wat sy in April daar moes agterlaat toe haar aanneemplanne skeefgeloop het, saam huis toe neem na New York.

Die meisietjie se weeshuisdae sal binnekort net ’n vae herinnering wees. En in New York wag ’n lewe van ongekende weelde en geleenthede saam met een van die wêreld se rykste vrouesangers. By haar luukse nuwe blyplek in Manhattan wag ook ’n splinternuwe sussie, Lourdes (12), en twee nuwe boeties, Rocco (8) en David (3). Klein David was Madonna se eerste aanneemkind uit Malawi en nou het ’n appèlregter die superster se grootste wens vervul – om ’n sussie uit sy eie land vir David huis toe te bring.

Al drie die kinders is in April met groot afwagting saam met Madonna Malawi toe om klein Mercy te gaan haal (Madge groet Mercy, 16 April), maar toe keur ’n regter die aanneming af omdat Madonna nie die wetlik vereiste minimum van 18 maande in die land gewoon het nie.

Veral Lourdes was bitter hartseer toe hulle weer sonder haar moes huis toe, want sy het al vir haar nuwe kleinsus ’n kinderkamer help regmaak en die klerewinkels ingevaar sodat Mercy met haar koms nes al die ander klein Amerikanertjies sou kon aantrek.

Madonna was self diep teleurgesteld, maar toe haar prokureur haar sowat twee weke gelede in die vroeë oggendure in New York wakker bel met die goeie nuus, was alle hartseer vergete. ‘‘Ek is in ekstase. Ek en my gesin sien uit daarna om ons lewe met haar te deel,’’ sê sy.

‘‘Mamma wag vir jou oorsee,’’ het Madonna later in ’n telefoongesprek vir haar nuwe dogtertjie gesê. ‘‘Jou ousus, Lola, het ’n kamer vir jou versier. Jy sal daarvan hou.’’

Gelukkig kon Mercy darem verstaan, want sy het intussen al lesse in Engels gehad terwyl sy die afgelope paar maande gewoond begin raak het aan ’n luukser lewe as dié van die meeste kinders in Malawi.

Lees meer in Huisgenoot van 25 Junie oor die luukse lewe wat wag op die Malawiese weeskind.

Bekeerde Bobby nou ’n prediker


Soos ná elkeen van sy vertonings stroom die mense weer vorentoe om hom te ontmoet. Maar waar hulle vir sy handtekening of ’n foto saam met hom vra, soek hulle dié keer ook iets heel anders – dat hy hulle die hande oplê en hul siektes en seerkry genees.

‘‘En waar mense gewoonlik uit die gehoor vorentoe kom om met my te gesels, kom hulle dié keer vorentoe om meer van die Here te leer,’’ sê Bobby van Jaarsveld met vonkelende blou oë. ‘‘Ek plaas my hande op hulle en bid vir hulle, en vertrou God om hulle te genees.’’

Die prentjie wat die 22-jarige sanger kort voor ’n optrede by die Centurion-teater skets, is nog nie ’n werklikheid nie – dis iets wat hy onlangs een nag gedroom het, en waaraan hy sedertdien daagliks dink.

‘‘Dis waarna ek streef – ek wil hê die Here moet deur my werk. Ek droom daarvan dat hy my hande sal gebruik om mense gesond te maak.’’

Dis ook geen onrealistiese hersenskim nie. Want hoewel Bobby steeds tussen musiekfeeste en optredes landwyd rondrits, wy hy sy lewe eintlik deesdae aan die Here. Hy’s nie meer net Bobby die ligtekop-hartebreker wat liedjies soos Duisend Ure sing nie – hy’s nou Bobby die prediker.
Sy kunstenaars noem die toegewyde Christen nie om dowe neute Pastoor nie. En uiteindelik sal die gewilde sanger dié titel amptelik ontvang, want hy volg deesdae ’n deeltydse kursus in Christelike literatuur en teorie aan die Universiteit van Suid-Afrika en wanneer hy hopelik oor drie jaar sy graad behaal, sal hy ’n opgeleide pastoor wees.

‘‘Ek is nie haastig om die kursus te voltooi nie; ek gaan my tyd vat. Ek wil in dié stadium net soveel moontlik by die Here leer. En hoe meer ek die Here leer ken, hoe meer wil ek vir Hom doen.

“Ek is heeltemal verlief op die Here; ek is verslaaf aan Hom!’’ sê hy jubelend.

Lees meer oor Bobby die prediker in Huisgenoot van 25 Junie.

Friday, 12 June 2009

Bok sê hy wil nie mense opsweep


Die woorde staan in groot hoofletters gedruk op die binneblad van die CD se omslag: ‘‘Afrikanerhart is nie ’n lied wat roep na enige vorm van revolusie of opstand nie . . . Al wat ons probeer sê, is dat die Afrikaner ook gebloei het om Suid-Afrika te bou.’’

Bok van Blerk herhaal dié woorde terwyl hy sy eerste koppie koffie van die dag in sy hande toevou om die winterkoue af te weer. Hy benadruk elke woord, en hy doen dit met die selfvertroue van iemand wat ’n vreeslike storm oorleef en anders anderkant uitgekom het.

Want die sexy 31-jarige sanger is dié keer voorbereid; hy weet wat kom. Sy langverwagte tweede album, Afrikanerhart, is pas uitgereik, en hy besef die titelsnit kan weer dieselfde moles veroorsaak as sy debuutalbum, De la Rey, in 2006.

Maar dié keer wil hy sommer uit die staanspoor sê: ‘‘Asseblief, moenie die liedjie uit verband ruk nie.’’

Bok was destyds heel oorbluf deur die vloedgolf mense wat die liedjie De la Rey vir hul eie doeleindes aangegryp het. Dit het fanatiese aanhangers se volkslied vir verset teen veranderinge in Suid-Afrika geword, en kritici het gesê Bok probeer mense opsweep om laer te trek teen die nuwe demokrasie.

Die donkerkop het nie verwag om oornag die simbool van ’n volkstryd te word nie en die ophef het hom onkant gevang. Hy’t immers duim vasgehou daar sal darem 8 000 eksemplare van sy debuutalbum verkoop word – toe word dit net duskant 200 000.

‘‘Ek het nie verwag dit gaan die hele land op hol hê nie!’’ sê hy met ’n suggie. Hy skud sy kop. Dit was ’n moeilike tyd van ontbering en openbaring (G’n Bok vir roem, 6 Maart 2008).

Maar dan verhelder sy gesig en sy onnutsige glimlag sprei van oor tot oor. ‘‘Ek sou dit tog nie anders wou gehad het nie. Dit was deel van grootword. Mense kan my nou maar met enigiets gooi.’’

Lees meer oor wat Bok oor sy nuwe CD te sê het in Huisgenoot van 18 Junie.

Ons kuier by Patricia en die Hoff


Hy onthou steeds haar ouerhuis se telefoonnommer . . . selfs al het 20 jaar verbygegaan sedert hy sy eksmeisie die laaste keer by dié nommer gebel het.

En toe die Amerikaanse akteur en sanger David Hasselhoff verlede jaar besluit om ’n album met duette op te neem, het hy op die ingewing van die oomblik besluit om te kyk of die nommer dalk nog werk.

Hy’t immers ’n paar jaar gelede by ’n gemeenskaplike vriend verneem sy het sedert hul laaste ontmoeting in 1989 ’n Suid-Afrikaanse sangsensasie geword. Miskien sou sy instem om ná al die jare ’n liedjie saam met hom op te neem?

En toe David (56) die nommer skakel, antwoord Patricia Lewis (41) se ma sowaar!

‘‘Ek kon dit nie glo toe ek Linda se stem weer hoor nie – en sy het my dadelik onthou!’’ grinnik die akteur wat kultusstatus verwerf het met sy rolle in die reekse Baywatch en Knight Rider.

‘‘Toe vertel Linda my Patricia het vir haar ’n Mercedes gekoop, en haar jonger sussie het kanker oorleef, en dit gaan goed met die ander sussie, en ons gesels sommer 45 minute lank oor ditjies en datjies voor ek Patricia se nommer vra,’’ sê die hemelbesem met die breë skouers.

Hy knipoog vir Patricia, wat giggelend na haar ekskêrel luister waar hulle saam in ’n ateljee in Germiston ’n blaaskans neem tussen opnames. Mark Whitfield, Patricia se man, kyk geamuseerd toe en lag kort-kort vir die uitbundige David se staaltjies.

Hy’s glad nie jaloers op die bruingebrande spook uit sy vrou se verlede nie, selfs al het Patricia spesiaal voor David se koms 5 kg verloor sodat sy op haar beste kon lyk vir die herontmoeting. Mark en David het sommer groot pelle geword nadat hy die Amerikaanse ster by die lughawe gaan haal het. ‘‘Mark is ’n regte guy’s guy; hy’s ’n koel ou,’’ verduidelik David.

Lees onder meer oor die Afrikaanse liedjie wat Patricia en David saam opgeneem het in Huisgenoot van 18 Junie.

Sportpes spog met sy ‘prestasies’


Wat Roger Federer en die toeskouers om die Philippe Chatrier-baan op die dag van die Franse Ope-eindstryd nie geweet het nie, was dat die man wat so amper Roger se historiese oomblik bederf het, ’n ou kalant is wat wedstryde al so gereeld ontwrig het dat hy selfs ’n bynaam het: Jimmy Jump.

Dié sportmal sensasiesoeker is eintlik Jaume Marquet Cot van Spanje.

Wanneer Jaume nie sportbeamptes die harnas injaag nie, verkoop hy eiendomme. Hy is ná sy groot oomblik op Roland Garros in hegtenis geneem en ondervra.

Hy wou maar net vir Roger verseker van sy steun, het omstanders hom hoor sê toe die wagte hom wegsleep.

‘‘Maar kon jy nie dit van die paviljoen af gedoen het nie?’’ het Federer-aanhangers later op webtuistes gemor.

Indien die Franse tennisfederasie ’n klag teen hom indien, kan Jimmy Jump 12 maande agter tralies deurbring, maar dit skeel hom min.

Hy spog eerder nou op sy webtuiste oor sy ‘‘prestasie’’ by die eindstryd van die Franse Ope.

Hy wil die wêreld laat lag, sê hy, en hy droom al van die dag dat hy sy eie ster op die Hollywood Walk of Fame kry . . .

Hy was selfs die inspirasie vir ’n dokumentêre rolprent, Jump! The World’s Greatest Streakers, hoewel Jimmy met al sy klere aan nael.

Jimmy Jump doen nou al vyf jaar sy ding, van die dag in die Euro 2004-sokkereindstryd tussen Portugal en Griekeland toe hy ’n vlag na die Portugese kaptein geslinger het.

Lees meer oor Jimmy Jump in Huisgenoot van 18 Junie.

Rock-ster wil agtjarige Leané red


Soos die gekletter op ’n stel tromme stortreën dit vanmiddag hier oor die Bellville-woonbuurt Loevenstein. ’n Swart Merc kom straataf gejaag. Die lang, blonde hare wat so tussen die ruitveërhale sigbaar is, wys die kitaar-towenaar Theo Crous van die groepe K.O.B.U.S! en Springbok Nude Girls is in aantog.

Theo is ’n vegter. Ses jaar gelede het hy die stryd teen dwelmverslawing aangepak nadat ’n oordosis heroïen hom by die dood laat omdraai het en vandag staan hy steeds sterk. Ses jaar al, sedert daardie byna noodlottige dag in die hospitaal, is hy dwelm- en drankvry.

En nou is dit tyd vir ’n ander stryd. ’n Lewe is weer op die spel, maar hierdie keer dié van ’n meisietjie van net agt jaar. Sy is Theo se kleinniggie van Bloemfontein, en sy is die slagoffer van ’n potensieel dodelike siekte wat reeds haar sussie se lewe geëis het.

Theo draai by die oprit van sy huis in, hier agter ’n stokou peperboom waar hy ook sy ateljee het, en spoedig gesels ons in die kombuis.

“Ek het die geskenk van ’n skoon lewe ontvang en wil daarom iets teruggee,” verduidelik hy. Daarom het hy geen oomblik gehuiwer om betrokke te raak by die stryd om die lewe van klein Leané Kleynhans nie.

Sy het Fanconi se anemie, ’n uiters seldsame, oorerflike beenmurgsiekte waaraan net sowat 1 000 mense wêreldwyd ly, en dit verhoog die kans aansienlik om bloedkanker te ontwikkel.

In 2003 is Leané se ouer sussie, Colissa, so dood. Sy was net vier jaar oud.

As ’n beenmurgoorplanting voor Leané se tiende verjaardag gedoen word, is die kans op oorlewing byna 90 persent, maar later sak dit terug tot sowat 50 persent. Maar die koste is onmenslik hoog – byna ’n miljoen rand word benodig om ’n gepaste skenker te soek en die oorplanting te laat doen.

Lees hoe jy Leané kan help in Huisgenoot van 18 Junie.

Die man wat Bafana se koppe dokter


Lank, lank gelede, in 1996, het Bafana Bafana soete sukses gesmaak toe hulle die Afrika-Nasiesbeker gewen het. Maar sedertdien, ai . . .

Vandag, sê Bafana se pas aangestelde sportsielkundige, is dit tyd vir ’n nuwe daeraad. En vir dié wat sinies glimlag – julle het nog nie vir Henning Gericke ontmoet nie. Kyk dan net wat het hy met die Springbokke reggekry.

Vir sy eerste sessie saam met Bafana, kort voor die afskop van die Fifa-Konfederasiebekertoernooi, het hy spesiaal vir hulle ’n DVD gemaak. Op die televisieskerm het hul Brasiliaanse afrigter ’n inspirerende toespraak gelewer – in die stem van Al Pacino.

Henning se oë blink. ‘‘Ek wou Al Pacino se toespraak uit die fliek Any Given Sunday gebruik.’’ Hy haal diep asem en dan word Henning Tony D’Amato uit dié fliek: ‘‘All comes down to today, and either we heal as a team, or we’re gonna crumble. Inch by inch, play by play . . . ’’


Toe hy hom by die Bafana-span aansluit, was hy bekommerd oor hul geestelike fiksheid. Hy grinnik en erken ná die eerste ontmoeting het hy ’n heel ander vrees: ‘‘Die span is op ’n high en hulle is hónger. Nou moet ek daaraan werk om hulle koelkop te hou sodat hulle nie uitbrand nie!’’

Nadat hulle na die DVD gekyk het, het hy al die spelers op die vloer laat sit. Kruisbeen in ’n sirkel het hulle ’n Bafana-trui omgestuur. Vertel vir jou spanmaats wat jy vir die trui sal doen, het hy vir hulle gesê.

‘‘Ek sal sterf vir dié span,’’ was die algemeenste antwoord. Terwyl hulle die trui aangegee het, was daar trane in hul oë.

In sy huis in Middelburg, Mpumalanga, wat hy met sy vrou, Hennelie, en vyf kinders deel, vertel Henning opgewonde van die nuwe uitdagings om ons manne in goud weer in kampioene te help omtower. Sy beknopte kantoor is vol aandenkings van sy jare saam met die Springbokke. Hy het vier jaar lank saam met Jake White gewerk en was in Parys toe hulle die Wêreldbeker in 2007 gewen het.

Lees oor Henning se wenplanne vir Bafana Bafana in Huisgenoot van 18 Junie.

Friday, 05 June 2009

Diaan gee Jody die jawoord


Die gehoor is reeds op hul voete om by die teater uit te stap toe die akteur almal terugroep en vra om weer te sit. Hy trippel senuagtig rond en vroetel met sy hande in sy broeksakke.

Diaan Lawrenson en Jody Abrahams het mos klaar hul buiging op die planke gemaak ná die laaste vertoning van hul toneelstuk Under the Fig Tree. Hoe dan nou?

Diaan kan self nie verstaan waarom haar kêrel hier op die verhoog van die Baxter-teater in Kaapstad talm nie. Hy wil almal seker vir oulaas bedank, dink die aktrise verward voor sy op versoek van Jody op ’n bankie op die verhoog gaan sit.

Maar dan staan ook die musikante nader en trek los met ’n liedjie op die basviool en kitaar.

Dis toe dat Jody na die gehoor draai en iets sê wat Diaan, oftewel die sepie 7de Laan se Paula, nooit sou kon verwag nie.

In die toneelstuk het Jake, Jody se karakter, 24 dae lank elke dag vir Beth, Diaan se karakter, gevra om te trou, maar die aktrise het gedink jare sou nog verbygaan voor dit in die regte lewe met haar gebeur.

Maar net daar, voor die gehoor, sê Jody wraggies: ‘‘Ek doen seker iets verkeerd. Ek het 24 dae lank vir dié vrou gevra om met my te trou. Ek besef toe ek vra haar heeltyd as Jake, en Jake is eintlik ’n bietjie van ’n bleeksiel. En toe dink ek dit is seker beter as ek dit eerder as Jody Abrahams doen . . .’’

Hy bring ’n ringboksie te voorskyn en die gehoor van sowat 170 mense snak hoorbaar na hul asem. ‘‘My nerves is klaar!’’ skerts Jody, wat ook op TV as Donovan in 7de Laan en in die reekse Heartlines en Hard Copy te sien was.

Dan gaan hy op sy knie en vra: ‘‘Diaan Lawrenson, sal jy met my trou?’’

Lees meer oor Jody en Diaan se groot oomblik in Huisgenoot van 11 Junie.

Pappa Victor tuis by sy meisies


In sy lemmetjiegroen plakkies en gebleikte denim lyk hy byna meer soos ’n branderplankryer as na iemand wat eintlik deel is van die rugby-elite. Victor Matfield is nou wel een van die beste lynstaanspelers in wêreldrugby, maar vandag is die gevreesde Bulls- en Springbokslot pure gesinsman.

Hy lyk sorgeloos in ’n liggeel Slush Puppy-T-hemp met ’n oopbek-hond op sy bors – allermins soos die bul van ’n leier wat op die veld vrees inboesem by sy teenstanders.

Die rugbyster wat as die Bulls se kaptein een van die groot dryfvere agter hul onlangse sukses in die Super14-reeks is, is 32 en die toonbeeld van gesondheid, met net hier en daar ’n grys haar tussen die swart krulle.

Maar in die ruim huis op die luukse gholflandgoed Silverlakes in Pretoria wat hy met Monja, sy tandarts-vrou, en hul twee dogters deel, is daar geen teken van die spel wat hom op die kruin van die rugbygolf laat ry nie. Net foto’s van die gesin hang teen die mure.

Giselle is net ses weke oud, en sy was vandag by die pediater. ‘‘Mamma kry nie op die oomblik baie slaap in nie, sy borsvoed en die kleintjie is siek,’’ vertel Victor. ‘‘Gelukkig kry ek nou af en mis ek die pajama-dril omdat ons in die rugbyseisoen is.’’

Hy het al elke denkbare rugbytitel verower, maar niks is vir hom kosbaarder as Monja, die nuwe baba en die skattige Jaime (3) wat reguit op haar pa afpyl toe sy sy stem hoor nie.

Jaime het self Giselle se naam gekies, vertel Victor. ‘‘Giselle is die prinses se naam in haar gunsteling-fliek, Enchanted.’’

Monja het weer hul oudste se naam gekies, maar sy beurt sal nog kom . . .

‘‘Ek sal Boeta se naam kies. Ons sal nog een keer probeer om ’n seun te kry,’’ lag hy skaam. ‘‘Elke pa wil seker ’n seun hê.’’

Soveel te meer as jy een van Loftus se Bulle en volksbesit in Pretoria is. Dan moet daar mos iemand wees om in jou toks-spore te volg . . .

Lees meer oor Victor en sy gesin in Huisgenoot van 11 Junie.

Die Laan se Vince trou


Vandag is ’n dag wat bewys dat God gebede verhoor, sê Jacques Blignaut beslis.

Melanie Wright sit digby hom, en sy straal. Op haar troudag val sulke woorde soet op ’n vrou se ore . . .

Hulle het mekaar nege jaar gelede ontmoet en gevind, net om mekaar weer te verloor. Maar Jacques weet, en so was dit toe ook beskik: as ’n vrou vir ’n man bedoel is . . .

Dis ’n stil wintermiddag in Muldersdrift en die 120 gaste wag al in die klein Moon & Sixpence-kapelletjie. Teen kwart oor drie op die Saterdagmiddag ry die wit-en-blou 1947-Bentley Mark VI stadig in die klippaadjie af en hou onder die bome stil.

Toe Melanie (27) uitklim, is haar gevolg dadelik by om haar trourok reg te trek. Die rok is ’n empire-styl-skepping van Oleg Cassini, afgerond met kraalborduurwerk en kant-en-lintversierings, en die bruid lyk lieflik.

In die kapel kyk die gaste al kort-kort om, en dan val ’n harp, dwarsfluit en tjello weg met ’n Prelude van Bach. Sy’s op pad!

Jacques (29) kan nie ophou glimlag terwyl Melanie by hom inhaak en haar hand op sy arm laat rus nie. Hy’t immers baie gebid dat hy die regte vrou gegee sou word, en hier staan sy nou styf langs hom . . .

Sewe jaar lank het hy nie geweet die meisie wat sy hart op universiteit al verower het, sou wel eendag sy vrou word nie.

Jacques, wat Vince in die sepie 7de Laan speel, het Melanie in 2000 by die Universiteit van die Witwatersrand se dramadepartement ontmoet.

Hy was in sy derde jaar en sy ’n eerstejaar, maar vir hom was dit liefde met die eerste oogopslag. Sy was stil en teruggetrokke en onweerstaanbaar. Hy het nie gras onder sy voete laat groei nie en die twee was gou ’n paartjie.

Lees meer oor Jacques en Melanie se troue in Huisgenoot van 11 Junie.

Susan Boyle: Geknak deur ’n droom


Praat van die een dag niemand, die volgende wêreld-beroemd: Binne net twee maande het mense 200 miljoen keer op die net na haar eerste optrede gekyk, sy’t op Oprah verskyn en in koerante en tydskrifte oor die wêreld heen.

Maar steeds was dit nie genoeg om haar te laat wen nie . . .

En toe Susan Boyle, ’n 48-jarige kerkvrywilliger van Blackburn in Skotland, op 30 Mei tevrede moes wees met die tweede plek in die werklikheidsreeks Britain’s Got Talent, het dit aanvanklik gelyk asof sy dit goed hanteer.

Maar alles het toe wel net te veel geword, en die polisie moes die oggend ná die konsert na haar hotel ontbied word toe sy glo ’n emosionele ineenstorting gehad het ná haar skoknederlaag.

Sy’t gevloek en ’n koppie water oor ’n hotelbestuurder gegooi wat haar probeer kalmeer het. Sy is kort daarna na die psigiatriese eenheid van ’n nabygeleë kliniek geneem, glo weens “uitputting’’.

Nadat sy in April die wêreld se verbeelding aangegryp het met haar weergawe van I Dreamed a Dream uit die blyspel Les Misérables, het sy die ganse wêreld se liefling geword (Hallo, roem – en wie lag nou?, 30 April).

Demi Moore het selfs op haar Twitter-blad geskryf: Aan die lieflike Susan Boyle – Vertrou dat die wêreld jou ondersteun, wat ook al die uitslag is! Jy het niks om te verloor nie; hou net aan om jou lig te deel!

Susan het die eindronde gehaal met haar weergawe van Memory uit die blyspel Cats, en vir die laaste kragmeting het sy toe weer I Dreamed a Dream gesing.

Sy was die groot gunsteling, en almal het gedink sy sal met die prysgeld van £100 000 (sowat R1,35 miljoen) wegstap. Maar toe stof die dansgroep Diversity – ’n groep van 10 dansers tussen 12 en 25 jaar oud – haar uit en wen onder meer ook ’n optrede voor koningin Elizabeth by die Royal Variety Show in November.

Lees meer oor hoe Susan geknak het in Huisgenoot van 11 Junie.

Fafa en sy vuurwarm Kiki


Toe Kiki, die mooi verleidster in die TV-reeks Getroud met Rugby, sommer in die heel eerste episode al vir Fafa by sy motor inwag en haar jas vir hom oopknoop sonder dat sy ’n draad klere onder aanhet, het sy die land blitsig laat regop sit.

Praat van witwarm aksie so met die afskopslag al . . . En dit raak net hoe later hoe kwater.

Midde-in al die intrige in die lewe van die reeks se rugbyspelers en die meisies wat hulle bemin, is Kiki die sexy rasieleier uit die onderdorp met smeulende kaskenades. Hier is ’n meisie wat vir haar ’n rugbyman wil vang, kom wat wil. En sy is glad nie skaam om van haar klere ontslae te raak of tussen die lakens uit te haal en te wys nie.

En ja, natuurlik is dit net ’n storie, dié reeks wat heel toevallig te midde van die storm oor die sogenaamde Joost-seksvideo op kykNET begin het. Maar dis wel ’n storie wat deeglik gaan kers opsteek het by wat werklik agter die skerms in Suid-Afrikaanse rugbykringe aangaan.

Al die intriges, afpersing, skandale, seks en politiek is losweg op die waarheid gegrond, sê Deon Opperman, die hoofskrywer. Om hierdie stories te kry, is navorsing in die binnekringe gedoen.

Die twee medeskrywers van die reeks, Hanli Rolfes-Opperman en Sandra Vaughn, het heelparty rugbypartytjies bygewoon waar die tonge blykbaar ná ’n paar drankies lekker los geraak het. Deon vertel hulle was verras oor wat hulle alles gehoor het.

Van die stories was so erg dat hulle dit nie kon gebruik nie.

Oor die Joost-toevalligheid met die eerste episode se uitsending sê Deon: ‘‘Ek moet sê, die gode was met ons.’’
Maar hy sê nie watter stories met die waarheid ooreenstem en watter nie . . .

Leer ken die akteurs wat die rolle van Fafa en Kiki vertolk in Huisgenoot van 11 Junie.