
Sy klink so trots soos enige ma wanneer sy oor haar ‘‘kleuter’’ gesels. Maar soos elke ma van ’n woelige kleinding van twee en ’n half jaar het sy ook al moeilike dae en slapelose nagte agter die rug waarin die trane gevloei het en die lesse op die harde manier geleer is.
Tog glo Oprah Winfrey dat die Oprah Winfrey Leader-ship Academy for Girls, die meisieskool in Gauteng wat haar naam dra en wat sy liefdevol haar kleinding noem, net van krag tot krag sal gaan en dat van die leiers van die toekoms nog hier sal uitstap.
Dit sê die TV-megaster self aan Huisgenoot toe ons op uitnodiging ’n paar uur deurbring by die skool waar 300 begaafde meisies uit minderbevoorregte omstandighede ’n groot hupstoot in die lewe gegun word.
Al van die eerste dag toe dit in Januarie 2007 geopen is, brand die wêreld om Oprah se skool te sien. Tot dusver moes ons tevrede wees met nuusbrokkies oor wat in die slaapsale en gange van die skool van R280 miljoen in Henley-on-Klip aangaan – en dit was meestal slegte nuus. ’n Huismoeder is in die skool se eerste jaar in hegtenis geneem op ’n klag dat sy verskeie meisies in haar sorg seksueel aangerand het. En vroeër vanjaar is vier meisies geskors en drie ander tydelik geskors oor seksuele wandade.
Maar vandag is hier geen sweempie te bespeur van al die omstredenheid van vroeër nie. Die skool spog met alles wat jy sou verwag van die geesteskind van een van die wêreld se rykste vroue, en nog meer.
‘‘Hierdie pragtige kampus en toerusting wat van oral in die wêreld hierheen gebring is, is daarop gemik om die meisies aan die heel beste dinge bloot te stel om van hulle leiers te maak,’’ sê Oprah geesdriftig.
Die meisies noem haar “mam” Oprah. Hulle drom om haar saam en staar haar vol bewondering aan. Maar soos enige toegewyde ma kan Oprah ook streng wees.
Nog meer oor hierdie luukse skool en foto’s in Huisge-noot van 2 Julie.