
Praat van die een dag niemand, die volgende wêreld-beroemd: Binne net twee maande het mense 200 miljoen keer op die net na haar eerste optrede gekyk, sy’t op Oprah verskyn en in koerante en tydskrifte oor die wêreld heen.
Maar steeds was dit nie genoeg om haar te laat wen nie . . .
En toe Susan Boyle, ’n 48-jarige kerkvrywilliger van Blackburn in Skotland, op 30 Mei tevrede moes wees met die tweede plek in die werklikheidsreeks Britain’s Got Talent, het dit aanvanklik gelyk asof sy dit goed hanteer.
Maar alles het toe wel net te veel geword, en die polisie moes die oggend ná die konsert na haar hotel ontbied word toe sy glo ’n emosionele ineenstorting gehad het ná haar skoknederlaag.
Sy’t gevloek en ’n koppie water oor ’n hotelbestuurder gegooi wat haar probeer kalmeer het. Sy is kort daarna na die psigiatriese eenheid van ’n nabygeleë kliniek geneem, glo weens “uitputting’’.
Nadat sy in April die wêreld se verbeelding aangegryp het met haar weergawe van I Dreamed a Dream uit die blyspel Les Misérables, het sy die ganse wêreld se liefling geword (Hallo, roem – en wie lag nou?, 30 April).
Demi Moore het selfs op haar Twitter-blad geskryf: Aan die lieflike Susan Boyle – Vertrou dat die wêreld jou ondersteun, wat ook al die uitslag is! Jy het niks om te verloor nie; hou net aan om jou lig te deel!
Susan het die eindronde gehaal met haar weergawe van Memory uit die blyspel Cats, en vir die laaste kragmeting het sy toe weer I Dreamed a Dream gesing.
Sy was die groot gunsteling, en almal het gedink sy sal met die prysgeld van £100 000 (sowat R1,35 miljoen) wegstap. Maar toe stof die dansgroep Diversity – ’n groep van 10 dansers tussen 12 en 25 jaar oud – haar uit en wen onder meer ook ’n optrede voor koningin Elizabeth by die Royal Variety Show in November.
Lees meer oor hoe Susan geknak het in Huisgenoot van 11 Junie.