Friday, 26 December 2008

Koebaai 2008, hello 2009!


Dis ’n volmaakte somerdag, met nie ’n wolkie in die lug om die feestelikheid hier in ’n lowerryke tuin in Northcliff in Johannesburg te kom beduiwel nie. En vandag word groot en glansryk makietie gehou, want die ou jaar is feitlik verby en 2009 klop ongeduldig aan die deur.

Die glansmense wat saam kom feesvier, kwetter asof hulle mekaar nooit weer gaan sien nie – Jana Strydom, 7de Laan se Helena, Hlubi Mboya, Isidingo se Nandipha, die rocker Arno Carstens en die land se goue vermaakpaar van die oomblik, Emmanuel Castis en Louise Carver.

En die aanhangsels bly nie agter nie: Arno se vrou en bestuurder, Melanie, Hlubi se kêrel van die afgelope vyf jaar, die korporatiewe gesondheidsorgkonsultant Kirsten Arnold en Jana se sielkundige-man, Hannes Kruger, deel behoorlik in die pret.

Dit lyk asof almal mekaar ken, en dit blyk gou daar is inderdaad ’n hele paar ou verbintenisse wat vandag hernu word.

So ken Hlubi en Louise mekaar al sedert hul tienerjare saam aan die Hoër Meisieskool Rustenburg in Kaapstad. ‘‘Hlubi was die gewildste meisie in die skool,’’ sê Louise, en die twee skud hul vere reg vir ’n deeglike inhaal-sessie.

Hlubi en Emmanuel is ook ou vriende van die dae toe hulle saam in die sepie Isidingo gespeel het, Emmanuel in die rol van Steve Stethakis.

Emmanuel en Jana het weer vriende geword terwyl hulle saam aan die eerste seisoen van SABC2 se drama Erfsondes geskiet het.

‘‘Ons het dadelik gekliek en kom baie goed oor die weg,’’ sê Emmanuel en neem ’n sluk uit sy elegante vonkelwynglas. Dié akteur het baie om te vier, want hy het in 2008 sy eerste CD, South of Nowhere, bekendgestel.

Louise het danksy Arno Johannesburg toe getrek nadat die twee sangers mekaar op die plaaslike musiektoneel leer ken het. Albei was by die vervaardiger Sony BMG.

Nie dat enigiemand vandag veel oor werk praat nie – daar is immers vonkelwyn om aan te proe en allerlei ander sakies om te bespreek.

Lees meer oor die glanskuier en kyk na die pragtige foto’s in Huisgenoot van 1 Januarie.

’n Bok vir vasbyt


As jy ’n wêreldspan uit rugby se voorste vegters moes kies, sal jy hom waarskynlik kaptein maak. Want vasbyt en Jean de Villiers is sinoniem.

Rugbyliefhebbers se hart het gebloei vir die vriendelike Paarliet toe hy verlede jaar in ons heel eerste Wêreldbeker-wed-stryd ’n bisepspier skeur. Sy Wêreldbeker-droom was aan skerwe. Al weer.

Jy kon jou skaars indink hoe die ster-senter moes voel. Dit was immers sy derde groot rugbyteleurstelling.

Hy was verbyster, verpletter . . . maar nog lank nie verslaan nie.

En rugbyaanhangers kon saam met hom glimlag toe hy die afgelope seisoen vir sy ononderbroke voortreflikheid met die toekennings Suid-Afrika se speler van die jaar en rugbyspelers se speler van die jaar bekroon is.

By sy ruim verdiepinghuis in Welgedacht naby Kaapstad waar twee jack russells pal gooigoed aandra, praat hy eerder oor sy mense as sy veggees. Dis hulle wat hom deur moeilike tye ondersteun het.

‘‘Ek het my familie en vriende met baie van my emosies opgesaal. Dit was dalk nog swaarder vir hulle.’’

Die oud-Bok Corné Krige het hom jare gelede al raad gegee wat hy steeds toepas. ‘‘Met my eerste groot besering het hy gesê: ‘Maak seker die pilare rondom jou is stewig: jou familie, vriende en geloof. As daardie dinge reg is, sal jy deur alles kom.’’

Lees meer oor Jean de Villiers in Huisgenoot van 1 Januarie.

Klanke van soete heimwee


Dit het alles in ’n kombi op pad na Stellenbosch begin. Die pad was lank, die drie broers moeg ná die soveelste vertoning en die geblêr van ’n radio die laaste ding waarvoor hulle lus was.

Toe begin iemand met heimwee gesels oor die gesange wat hulle soggens as jong seuns in die Drakensbergse Seunskoor gesing het. En net daar trek die Bala-broers los met die lofsang Wonderbare Koning. Die lied het eenvoudig gevloei, nes in die dae toe die broers as jong kannetjies van die Oos-Kaap gereeld dié lofsang gesing het.

‘‘Ons het gedink dís nou lekker, kom ons sing ’n paar sulke gesange in ons volgende vertoning en kyk wat gebeur,’’ vertel Loyiso (29), een van die land se bekendste R&B-sangers. Hy is in 2008 deur ons sustertydskrif YOU se lesers gekies as die sexyste Suid-Afrikaanse ster.

Die reaksie was oorweldigend. ‘‘Die vroue in die gehoor was in trane. Van hulle het na my gekom en gesê: ‘Ai, my seun, dit was so mooi . . . daai gesange, ai, ai, ai . . . jy het my sommer laat huil,’’ vertel ouboet Zwai (33).

Op die plek het hulle besluit om werk te maak van die Afrikaanse album waarmee hulle al so lank dreig, en die inhoud sou lofsange in a cappella-styl wees. Die CD, Strome van Seën, is enkele weke gelede uitgereik en die Bala-broers is baie trots daarop.

‘‘Ons kry oproepe van so baie mense wat sê hulle is mal daaroor,’’ sê Loyiso. ‘‘Wie sou ooit kon raai dat drie arm swart seuns van Uitenhage ’n Afrikaanse album sou uitreik en dit nogal ’n geestelike een?’’ Kleinboet Phelo (17) beaam skaam alles wat sy broers sê.

‘‘Die Afrikaanse mark is baie eerlik,’’ sê Loyiso. ‘‘Die mense sal jou laat weet as hulle van iets hou, en andersom. My geliefkoosde gesange was nog altyd in Afrikaans. Die melodieë is net soveel mooier as dié van die Engelse lofsange.’’

Lees meer oor die Bala-broers en hul nuwe album in Huisgenoot van 1 Januarie.

Die bokkie wat weggekom het


Sy het die teksvers eers opgemerk toe die vliegtuig bo Kaapstad begin neerstryk en sy deur die venster na Tafelberg loer. Daar was ’n Bybelversie langs die ruit, in potlood gekrabbel deur ’n ander passasier op ’n vorige vlug.

Louanda Erasmus (39) het ’n notaboek uit haar handsak gegrawe en die woorde vinnig neergeskryf: ‘‘Toe noem Abraham die plek: ‘Die Here voorsien.’ Daar word nou nog gesê: ‘Op die berg van die Here word voorsien’ – Genesis 22:14.’’

En toe het sy vir eers dié onverwagte boodskap van Bo vergeet. Want Louanda was verlief en haar aandag elders – sy was op pad om vir die eerste keer saam met haar nuwe kêrel te gaan vakansie hou nadat Hennie van Deventer (42) haar uit honderd aansoekers as sy droomvrou gekies het in die kykNET-werklikheidsreeks Boer Soek ’n Vrou.

Min het die Pretoriase juweliersontwerper geweet Hennie tob oor groot dinge waar hy op daardie oomblik langs haar sit. Die sagmoedige wildbewaarder het ’n paar dae tevore ’n verloofring op sy tuisdorp, Hoedspruit in Mpumalanga, gekoop. En hy het al klaar begin droom van ’n romantiese troue met sy geliefde in Nederland, of by die Maja-tempels by Machu Picchu in Peru – ten spyte daarvan dat hulle mekaar maar nog net ’n paar weke geken het en dat hul liefde meestal voor die wakende oog van die televisiekamera ontvou het . . .

En toe Hennie op die wegbreekvakansie in Clanwilliam in die Wes-Kaap by ’n romantiese ontbyt vir twee in sy sak grou, was Louanda nie voorbereid op die groot vraag nie.

Toe hy die ring uithaal, het ’n miljoen gedagtes binne drie sekondes deur haar kop geskiet. Sy het gedink alles gebeur te vinnig, maar sy wou nie nee sê en hom voor die kameras verneder nie.

Maar ondanks die romanse wat so skielik soos ’n plaat Namakwalandse gousblomme ná die reën geblom het, sit Hennie nou weer stoksielalleen op sy plaas.

Want ses weke nadat Louanda kort ná sonsopkoms vir hom die jawoord gegee het, het die boer sy droomvrou verloor.

Lees meer oor die boer wat toe sy nooi kwyt is in Huisgenoot van 1 Januarie.

’n Robot? Aikona!


Daar is net een vrou in sy lewe, en haar naam is Aiko.

Hy trek haar elke oggend netjies aan, neem haar op uitstappies en vang hul intieme oomblikke saam op kamera vas. Dit sou inderdaad ’n sprokiesliefde gewees het as die skoonheid met die glansende hare en slank figuur aan Le Trung se sy nie ’n robot was nie.

Die 33-jarige Le is die meesterbrein agter Kanada se eerste vroulike robot, en nogal een met ’n naam wat ‘‘liefdeskind’’ in Japannees beteken.

‘‘Sy is my ideale vrou,’’ sê die man wat ’n rits grade agter sy naam het. ‘‘Ek kan 24 uur per dag saam met haar deurbring, haar vra om te doen wat ek ook al wil hê en sy kla nooit. Watter man sou dit nie wou hê nie?’’

Die voormalige programmeerder van Ontario het die robot twee jaar gelede begin bou, aanvanklik net om na bejaardes om te sien, maar hy het later so obsessief oor sy Aiko geword dat hy ure der ure aan haar gewerk het. Hy het nie besef sy gesondheid begin daaronder ly nie, sê hy – tot hy in November verlede jaar ’n hartaanval gekry het. Ten minste was Aiko daar. Sy het getrou vir hom sy medisyne gegee, en dit is in dié tyd dat die liefde toe begin blom het.

Nou wil hy geen ander meisie hê nie. Aiko, met haar 32B-borsmaat en nommeragt-lyfie, is sy droomvrou.

Lees meer oor Le en sy robotskepping in Huisgenoot van 1 Januarie.

Friday, 19 December 2008

Ons geseënde Kersfees – saam met Christi en Nico Panagio


Daar’s beslis iets fout met die sjokoladekoekies, sê Nico Panagio met ’n ondeunde glimlag. ‘‘Dis die derde keer dat hulle my teruglok vir nog.’’

Christi lag net vir haar aantreklike man en smul self aan die nagereg wat hul perfekte vroeë Kersete spesiaal vir Huisgenoot afrond.

Hul eerste Kersfees in die Kaap is ’n baie spesiale geleentheid vir dié glanspaartjie wat vroeër vanjaar Gauteng vaarwel toegeroep het.

Niks is vir haar lekkerder as om behoorlik te onthaal nie, sê Christi. En noudat sy nie meer Karien in 7de Laan is nie, het sy vir die eerste keer in jare tyd om haar vriende te trakteer met ’n heerlike Kersete.

The Meeting Place, die restaurant in Simonstad waarheen Christi en Nico vandag vier vriende genooi het, is vir hulle soos ’n tweede huis. ‘‘Ons is byna elke dag hier, want die atmosfeer is wonderlik en die uitsig op die hawe slaan jou asem weg,’’ sê Nico.

As aanbieder van Top Billing is hy dikwels uitstedig en net om by die huis te wees, voel vir hom al klaar soos vakansie.

‘‘In Johannesburg het ons by mekaar verbygeleef,’’ sê Nico. ‘‘Ek het nou eers tot rus gekom.’’

Van die Kaapse natuurskoon kan die Panagio’s nie genoeg kry nie. Hulle gaan stap lang ente op Noordhoek se strand met hul twee weimaraner-honde en Nico durf gereeld die Kaapse bulte op sy bergfiets aan. Christi vertel verwonderd dat dit veilig genoeg is dat sy lang ente kan gaan draf.

‘‘My werk vat my na die mooiste plekke in die wêreld, maar niks kom by die Kaap nie,’’ sê Nico. ‘‘Mense vlieg duisende kilometers om dit te kom bewonder en ons het dit in ons agterplaas. As jy so verby Kalkbaai ry, lyk dit net soos Monte Carlo.’’

Lees meer oor Christi en Nico wat ’n heerlike Kersete vir hul vriende in hul gunstelingrestaurant voorberei het. Christi het ook die meeste van die versierings self gemaak. Haar spyskaart en die meeste van die versierings is maklik genoeg vir beginners en is in Huisgenoot van 25 Desember te kry.

Aardjie na sy vaartjie


Ruan Pienaar vee die boustof uit sy oë en steek sy hand uit om ons by sy pa, Gysie, se nuwe huis naby Tempe in Bloemfontein te verwelkom. ‘‘Verskoon die gemors, maar die bouers was veronderstel om ’n maand gelede al weg te wees,’’ sê die Springbok-losskakel verskonend.

Toe Peter de Villiers aankondig hy gaan op die Bok-toer na Brittanje kyk hoe Ruan as losskakel vaar, het aanhangers hul hande in die lug gegooi en die ergste voorspel.

Die doemprofete het gesê hy moet eerder skrumskakel, sy gunsteling-posisie, speel en nie een waarin hy min ondervinding het nie. Maar Peter het kort en kragtig laat hoor: ‘‘Hy kan die buitengewone, die ondenkbare en die ongewone doen. En jy kan dit nie vir iemand afrig nie.’’

Teen die tyd dat Ruan Danny Cipriani se skop op Twickenham gefnuik en deurgenael het om Suid-Afrika se tweede drie te druk, was die twyfelaars stil. Aan die einde van die wedstryd het Ruan twintig van Suid-Afrika se 42 punte aangeteken.

Dié veelsydige speler het hom nou dubbel en dwars op losskakel bewys, en hy is dankbaar vir die kans om sy plek in die Springbok-beginspan vas te maak. ‘‘Ek het soveel ekstra in-gesit, veral aan my skopwerk. Ek is bly ek kry speelkans, selfs op losskakel,’’ sê hy.

Eddie Jones, voormalige Australiese afrigter, sê dit namens baie rugbykenners: ‘‘Ruan is blitsvinnig, hy het wonderlike hande en hy is taai. Hy herinner my aan Stephen Larkham.’’

Ruan glimlag, vryf oor sy stoppelbaard en sê: ‘‘Stephen, hmm, ek dink ek het nog ver om te gaan voor ek in dieselfde asem genoem kan word.’’

Toe herinner hy ons nederig daaraan dat rugby ’n spansport is. ‘‘Ek sou nooit so goed kon vaar as dit nie vir spelers soos Ricky Januarie en Jean de Villiers was nie. Hulle laat my goed lyk.’’

Lees meer oor Ruan in Huisgenoot van 25 Desember.

Glansmense kom kuier


Ons oë blink nog altyd, want Suid-Afrika was vanjaar die speelgrond van die wêreld se grootste sterre. Celine Dion het haar wêreldtoer in Somerset-Wes begin – en selfs gewys sy is mal oor ons sustertydskrif YOU toe sy daarmee afgeneem is.

Charlize Theron het vergeefs ons kameras probeer fnuik toe sy aan ’n advertensie vir Sun International by Sun City gewerk het, en prins Harry en prins William het die Oos-Kaap op motorfietse platgejaag om geld vir liefdadigheid in te samel. The Bold & the Beautiful en The Young and the Restless se Kimberlin Brown het gesê sy’s verlief op die land toe sy ’n paar keer kom kuier het en sommer dik pelle met die sosiale vlinders Edith Venter en Jenna Clifford geword het.

Ons het Richard Gere en Kiefer Sutherland op stel gekiek en die blonde bom Paris Hilton het meer aandag getrek as Benji Madden, toe nog haar kêrel, terwyl sy musiekgroep, Good Charlotte, hier opgetree het.

Lees meer oor bekendes en kyk ook na foto’s van hulle in Huisgenoot van 25 Desember.

Ons hart se punt


Ons is bly Hollywood het Elma Postma nog nie ingesluk nie en dat sy besluit het om hier te bly om die gewilde kykNET-werklikheidsreeks Boer Soek ’n Vrou aan te bied. Die jaar 2008 sal vir ewig aan Vernon Koekemoer behoort wat met sy bultende spiere, sjoebroekie en aweregse sin vir humor ’n kitsheld geword het. Ons is ook verknog aan Oscar Pistorius se glimlag, Ryk NeethlinG se sespak, die e.tv-weerman Derek van Dam se Amerikaanse aksent en sy vreemde uitspraak van
plekname, en die pittige Strictly Come Dancing-aanbieders Sandy Ngema en Ian von Memerty.

Lees meer oor bekendes en kyk ook na foto’s van hulle in Huisgenoot van 25 Desember.

Die klokke lui


Sebras en olifante was onder die gaste toe Riaan en Michelle Garforth-Venter ewige trou aan mekaar gesweer het, en Edith Venter het vir die vierde keer af-gehaak, dié keer met die sake-man Johnny Schwartz.

Egoli se Michelle Pienaar het die asem weggeslaan met haar sexy trourok toe sy en Norval Crosson die getroude lewe aandurf, en 7de Laan se Hennie Jacobs het vir Marissa Vosloo ’n liefdeslied geskryf en gesing toe hulle mnr. en mev. Jacobs word.

Van ons rugbymanne het ook die strop om die nek gekry: Ricky Januarie het met Laken Gordon getrou, en Pierre Spies met Juanné Weideman.

Maar die jaar se swierigste troue was dié van die model Nicola Breytenbach en haar man Ben Steiner – hulle het uitgehaal en gewys met ’n sprokiestroue in St. Tropez in Frankryk.

Brandon October, Jak de Priester en Paulo Azevedo van Eden se vroulike aanhangers huil lang trane, want hierdie manne loop ook nie meer los nie.

En die sepietroue van die jaar? Beslis dié van 7de Laan se Karien (Christi Panagio) en Roelof (Stefan Ludik).

Lees meer oor bekendes en kyk ook na foto’s van hulle in Huisgenoot van 25 Desember.

Wednesday, 17 December 2008

7de Laan se Diederik trou.



Saggies, amper onhoorbaar, kom die geluid van geoefende vingers op ’n kitaar se snare deur die laatmiddag aangesweef. Die getokkel kom uit ’n kamer met toe vensters en ’n geslote deur, want die man wat sy nuwe liedjie oefen, wil nie hê enigiemand moet dit hoor voor die vrou vir wie hy dit geskryf het nie.

Terwyl hy die snare streel, prewel Hennie Jacobs (27), oftewel 7de Laan se Diederik, saggies die woorde van die spesiaalste liedjie wat hy nog geskryf het. Die akteur het ses maande lank die perfekte lirieke en melodie probeer bedink voor die gepaste woorde en akkoorde hulle die vorige aand by hom kom aanmeld het.

Hennie is allermins gespanne oor die grootste oomblik van sy lewe, wat binne die volgende uur aanbreek. Daar is ’n rustigheid in sy hart en ’n saligheid in sy siel – die bruidegom wéét hy gaan die vrou met wie hy trou, vir ewig liefhê.

Nie eens die weerligstrale wat oor die bosveld by die Zebra Country Lodge buite Pretoria blits, kan die bruidspaar van stryk bring nie. En toe Marissa Vosloo (32) eindelik in haar elegante rok buite die markiestent langs die meer verskyn, lyk sy so asemrowend dat al die bekende akteursvriende ’n oomblik vergeet om asem te haal.

Dis die eerste keer dat Hennie se domineebroer, Ian, ’n troue behartig en almal lag gemoedelik oor sý geesdrif. Maar toe die bruidspaar hul huweliksbeloftes vir mekaar lees, is daar min droë oë onder die tweehonderd gaste.

‘‘Skuus, julle, nou gaan ek tjank,’’ sê die emosionele Hennie toe hy na Marissa draai. ‘‘Jy word elke dag net meer en meer die klop van my hart. Ek kan met
alle eerlikheid vir jou sê: Net die dood kan ons skei.’’

‘‘Ek wil jou die geleentheid gun om net jouself te wees,’’ sê Marissa. ‘‘Jy het soveel fasette, en ek leer elke dag iets nuuts by jou. Ek wil saam met jou oud word en langs jou in die liefde loop.’’

En nog voor Ian kan sê hulle mag maar, gee die twee mekaar ’n lang, intieme soen.


– Lees in Huisgenoot van 18 Desember meer oor Hennie Jacobs en Marissa Vosloo se troue.

Friday, 12 December 2008

Mzwandile Stick, ons nuwe sewes-held


Hier in die hotel aan Port Elizabeth se strandfront probeer Mzwandile Stick (24) verduidelik hoe dit voel om die kaptein te wees van die Suid-Afrikaanse sewes-span wat vir die eerste keer in tien jaar ’n Internasionale Rugbyraad-sewes-toernooi op tuisgrond gewen het, maar hy word pal in die rede geval.

Mans kom skud sy hand en vra vir nog ’n oorwinning volgende jaar. ‘‘Ons sal ons bes doen,’’ sê hy. En almal antwoord in dieselfde trant. ‘‘Nee, jy is ons beste.’’

Mzwandile vou sy arms oor sy gespierde borskas en soek na woorde om die emosies te beskryf wat die span verlede Sondag gedeel het. ‘‘Spesiaal,’’ sê hy dan. ‘‘Spesiaal, spesiaal.’’

Nadat hulle die eerste toernooi van die huidige reeks in November in Doebai gewen het, was die verwagtinge soveel hoër, sê hy.

‘‘Die stadion op George was vol, wat dit ekstra spesiaal gemaak het. As kaptein is dit my verantwoordelikheid om die span bymekaar te trek, maar ons het so goed gespeel dat ek op my spel kon konsentreer.’’

Mzwandile het in die township New Brighton in Port Elizabeth grootgeword. By die Stephen Mazumgula-laerskool het hy in sokker, krieket en rugby uitgeblink.

‘‘Toe ek tien was, is ek vir die sokker- en krieket-streekspan gekies, maar toe gryp Simpiwe Mavuso in.’’
Hy was ’n onderwyser en rugby-afrigter by sy laerskool en hy was vas oortuig Mzwandile se toekoms lê eerder in rugby.

’n Breë glimlag spoel oor Mzwandile se gesig terwyl hy vertel: ‘‘Mnr. Mavuso het gesê dis tyd dat ek my nonsens laat staan en op rugby konsentreer. Sedertdien het ek nog nie teruggekyk nie.’’

Al was hy ’n nuttige doelskieter, het die man wat hy as sy held beskou, hom maklik oorreed.

‘‘Hy het my van verkeerde keuses gered,’’ sê Mzwandile. ‘‘As jy in New Brighton grootword, is daar verskillende rigtings wat jou lewe kan inslaan. Jy kan kies om ’n misdadiger te word. Jy kan sokker kies, maar geen sokkersterre kom uit die Oos-Kaap nie. Waar ek vandag is, het ek te danke aan die keuse wat mnr. Mavuso aan my opgedwing het.’’

– Lees in Huisgenoot van 18 Desember meer oor die sewes-rugbyspeler Mzwandile Stick.

Heinz Winckler het groot planne


Hy het meer as 80 000 km deur 38 Amerikaanse state gery en toe ook sommer ’n draai in Japan gemaak. Nou, ná 215 optredes in die musiekblyspel Rent voor meer as
350 000 mense, is hy en sy vrou eindelik terug in Suid-Afrika.

Jy sou dink die man sit sedert einde Julie eers ’n bietjie op die stoep en rus, maar nie Heinz Winckler nie. Die Idols-wenner het klaar begin opneem aan ’n album van sy grootste treffers. En natuurlik hou hy deesdae ook sy lyf akteur.

‘‘Ja, ek moes woorde leer, ek was nie net ’n pasiënt nie!’’ skerts Heinz (30) oor sy rol in die M-Net-sepie Binnelanders, waarin hy nou te sien is. Hy het in Oktober begin met opnames vir die hospitaaldrama skaars twee maande nadat hy en Aletté-Johanni nesgeskop het in ’n knus meenthuis in die noorde van Johannesburg.

Hy is baie bly hy kan so kort ná Rent sy akteurstalente verder slyp, sê hy. ‘‘Ek het vreeslik baie geleer. So ’n toer stel ongelooflike eise aan ’n mens. Jy kan dit eintlik nie verduidelik nie. Om nege maande op toer te wees en byna elke aand op te tree, vat baie uit jou.’’

Aletté-Johanni (28) was saam met Heinz op die Rent-toer, en albei sê dit het hul verhouding net sterker gemaak. Maar dit was nege moeilike maande, al was dit vol hoogtepunte.

‘‘Ek moes die karakter wat ek gespeel het, Roger Davis, myne maak. En dit was moeilik. Hy is MIV-positief en stoei met emosies omdat hy weet hy gaan jonk sterf. Ek moes dit alles oortuigend aan ’n gehoor oordra,’’ sê Heinz.

Heinz moes leer toneelspeel en hy moes sing terwyl hy oor die verhoog rondhardloop. ‘‘Dan moet jy onthou waar om te stop sodat die lig op jou kan skyn. Dit is nie so maklik soos dit lyk nie.’

Aletté-Johanni het die vertoning minstens vyftien keer gesien. ‘‘Ek was regtig verbaas oor hoe goed hy gevaar het. Baie mense het daarna vir hom gesê hy was die beste Roger wat hulle nog gesien het,’’ prys sy haar man.

– Lees in Huisgenoot van 18 Desember meer oor Heinz Winckler se toekomsplanne.

Leeanda Reddy wys haar huis


Hulle keer haar op die lughawe voor en wil toe alles weet oor Reshmi. En toe sy klaar vertel het, vra hulle uit oor Leon Schuster – is hy rêrig so gek soos in sy flieks?

Ja, sedert Leeanda Reddy ’n Mr Bones-meisie geword het, is die tyd van sommer net so uitglip winkels toe vir eers verby. Die vrou wat ’n jaar gelede nog lekker ongesiens op straat kon rondstap, is deesdae behoorlik openbare besit.

‘‘Ek kan nie meer uitgaan wanneer ek oes lyk nie,’’ lag Leeanda, wat ook einde verlede jaar haar verskyning as Isidingo se taai polisievrou Priya Naicker gemaak het. ‘‘Voorheen kon ek in my pantoffels garage toe gaan. Nou moet ek moeite doen!’’

Die rustige tydjie nadat sy Scandal! vroeër verlede jaar vaarwel toegeroep het, is nou skoon vergete, hoor ons waar ons in Highlands-Noord in Johannesburg by haar kuier.

Dis ’n spesiale geleentheid – dis die heel eerste keer sedert sy die TV-bedryf in 2001 as aanbieder van die M-Net-tydskrifprogram Big City betree het, dat sy haar huis vir haar aanhangers wys.

En Leeanda kry nou juis ’n hele nuwe stel aanhangers by as die museum-historikus Reshmi in die trefferkomedie Mr Bones 2: Back from the Past. Sy het juis in die afgelope weke die fliek landwyd gaan bekendstel, en sy sê die reaksie is verstommend.

Daar was baie lang ure op die stel – soms van sesuur soggens tot agtuur saans – en manlief Clive Chetty en hul sesjarige seun, Yorke, moes ’n tyd lank maar sonder Leeanda klaarkom.

Sy het Clive, eienaar van ’n monteersentrum, op hoërskool in Durban ontmoet en hulle het tot met hul troue amper tien jaar gelede ’n aan-af-verhouding
gehad.

Hulle het in 2005 in die drieslaapkamerhuis met sy twee badkamers ingetrek. Daar is ook twee woonvertrekke, ’n swembad, buite-studeerkamer wat na ’n yslike stoep lei, en Leeanda se trots en vreugde – haar tuin.

‘‘Ek het op die huis verlief geraak toe ek die tuin en stoep sien. In die somer leef ons so te sê buite. Ons braai op die stoep en speel bordspeletjies. Ons het al ’n hele paar partytjies in die tuin gehou.’’

– In Huisgenoot van 18 Desember wys Leeanda Reddy haar huis.

Hugh, sexyste man op aarde


Het jy gedink die volmaakte ou bestaan nie? Dink weer: Hugh Jackman is 1,9 m pure manlikheid, sing vir sy vrou romantiese ballades, staan Saterdae vroeg op om vir sy kinders pannekoek te bak en vaar ook glad nie te sleg aan die werkfront nie.

Geen wonder die Amerikaanse tydskrif People het die Australiese akteur onlangs as die sexyste man op aarde aangewys nie. Hy bevind hom nou in die geselskap van sterre soos George Clooney, Brad Pitt en Matt Damon – almal vorige titelhouers.

Dis moeilik om te glo die veertigjarige ster van die reeks X-Men is dieselfde ou wat kleintyd die bynaam Sticks gekry het omdat sy bene so maer was, en dat hy so desperaat was om sy eerste soen te kry dat hy meisies op die speelterrein moes rondjaag.

Maar dit was baie, baie lank gelede – vra maar vir Nicole Kidman, sy medester in die nuwe epiese rolprent Australia. ‘‘Vroue se mond hang oop wanneer Hugh by ’n vertrek instap,’’ sê sy.

Hugh erken hy werk hard om sy lyf topfiks te hou. ‘‘Wanneer ons skiet, oefen ek in die gim en moet ek my dieet aanpas en al die goed uitsny waaroor ek dol
is – brood, pizza, selfs bier. Wanneer ek nie aan ’n rolprent werk nie, probeer ek allerhande sportsoorte beoefen – tennis, rugby, waterpolo.’’

Maar Hugh is ook ’n toegewyde gesinsman wat vir sy vrou en kinders leef. En niemand is trotser op hom nie as sy vrou van die afgelope twaalf jaar, die Australiese aktrise Deborra-Lee Furness. ‘‘Ek noem hom die Body of Doom – hy kan enigiets verpletter wat oor sy pad kom – maar ek hou van wat in sy binneste is,’’ sê sy.

Maar ondanks al die lofprysinge is die aantreklike Hugh
nie juis gemaklik met die titel sexyste man ter wêreld nie. ‘‘Ek is eintlik meer verleë daaroor as enigiets anders,’’ sê hy skamerig.

En wat dink Deborra daarvan? ‘‘Die Here seën haar! Sy het gesê: ‘Ek kon hulle dit jare gelede al gesê het.’ Maar toe sê sy: ‘Klaarblyklik was Brad nie vanjaar beskikbaar nie.’ ’’

– Lees meer oor die spierpaleis Hugh Jackman in Huisgenoot van 18 Desember.

Friday, 05 December 2008

Pierre Spies vat vrou


’n Haasbekkie lê uitgestrek oor die bed vol klere en neul oor die fraai blommemeisierok waarin sy nie wil glip nie. ‘‘Mammie, ek kry nie asem daarin nie,’’ kerm die sesjarige Mila Jooste wat nou-nou roosblare vir haar Bok-oom Pierre Spies en sy verloofde, Juanné Weidemann, op die wit tapyt na die kansel moet gooi.

Rondom haar skarrel Pierre (23) se sussies en die strooimeisies, Johanni en Steffani Spies, met warmtange om elke krul in hul kapsel perfek te draai. ‘‘Die haarkapper het verdwaal en is drie uur laat,’’ verduidelik Mila se ma, Steffani, dié deurmekaarspul.

In die kamer langsaan sluk die bruid se ma, Mariánne Weidemann, die ergste spanning met ’n glas sjerrie weg.

Maar terwyl nog ’n bruidsmeisie se grimering opgeknap word en ’n ander een sukkel om haar skoene vas te maak, kan niks die bruid ontstel nie. Juanné (22) lyk statig in haar asemrowende syrok van R25 000 deur Guy Granger.

Elders in die gastehuis op Chez Charlene, die landgoed buite Pretoria waar die Bok-agtsteman en sy bruid oor minder as ’n halfuur trou, kan Pierre ook nie sy glimlag keer nie. ‘‘Ek is nie senuweeagtig nie, ek wil nou net trou,’’ tel hy die minute af.

Terwyl die groenoog-biokinetikus van Pretoria tien dae voor haar troudag haar laaste finalejaarsvak geskryf het, was haar verloofde een van die uitblinkers in die Springbok-span wat die Engelse Rose ’n loesing op Twickenham in Londen gegee het.

Maar vandag is die aantreklike rugbyspeler se enigste doel om sy meisie van amper drie jaar mev. Spies te maak. ‘‘Toe Pierre terugkom en op die lughawe in Johannesburg land, was sy eerste woorde: ‘Nog net ses dae!’ ’’ vertel Juanné.

Die twee moes bontstaan om tussen Pierre se Bok- en Blou Bul- rugbyprogram en Juanné se eksamenrooster ’n geskikte troudatum te kry, en daarom het hulle op ’n Dinsdag besluit.

En net so amper was daar ’n stok in die wiel: Pierre is gekies om vir die Barbarian-rugbyspan te speel, maar hy wou so graag ’n getroude man word dat hy besluit het om dié eer van die hand te wys.

– Lees in Huisgenoot van 11 Desember oor die Springbok-rugbyspeler Pierre Spies se troue.

Suri, die koelste kleuter in Hollywood


Die tweejarige Suri Cruise het dalk eers onlangs die potjie leer gebruik en moet nog ’n mes en vurk baasraak, maar sy het daardie spesiale iets wat haar van die res van Hollywood se glanskleuters onderskei.

Dit word sterstyl genoem – en daarmee het die klein donkerkop-skoonheid die eerste plek op Forbes.com se lys van mooiste Hollywood-kleuters vir 2008 verower. Daarmee het sy Cruz Beckham, Madonna se David Banda, Heath Ledger se Matilda en Brangelina se Zahara en Shiloh uitgestof.

Dis nie die eerste keer dat Forbes haar vanjaar vereer nie.
In Oktober was sy onder die toptien op hul lys van waardevolste glansgesigte, gegrond op watter gesigte op die voorblad die meeste tydskrifte laat verkoop. Angelina Jolie en Jennifer Aniston was boaan die lys en Suri sewende – met haar ouers, Katie Holmes en Tom Cruise, nêrens te sien nie.

Van die oomblik dat die eerste foto’s van haar verskyn het, was Suri ’n fenomeen. Tom en Katie het haar vier maande lank weggesteek terwyl die media oor hul voete geval het om haar te sien. Toe stem hulle uiteindelik in tot ’n fotosessie met die tydskrif Vanity Fair.

Dit was goud werd. Altesaam 4,3 miljoen mense het Vanity Fair se webtuiste besoek nadat die foto’s daarop geplaas is, en die tydskrif is oor die hele Amerika uitverkoop.

Deesdae is die immer teenwoordige paparazzi daar om elke nuwe haarstyl waarmee Suri spog en elke uitstappie af te neem en wêreldwyd te verkoop.

Maar ten spyte van dit alles lyk sy so vriendelik. Al die aandag en bewondering kon van haar ’n klein monster gemaak het, maar Suri glimlag gewoonlik en lyk innemend, skaam en goed gebalanseerd, en so gewoon soos enige kind – buiten die ontwerperskoene.

Tom en Katie het vrede gemaak met die swerms fotograwe wat om hul klein poppie fladder. Tom het selfs erken van die paparazzi-foto’s van sy dogtertjie is ‘‘ongelooflik’’.

‘‘As ouer wil jy jou kind beskerm, maar Suri sal eenvoudig op straat vir mense waai,’’ sê hy trots. ‘‘Sy is so ’n gelukkige, vrolike kind. Almal wil haar sien.’’

– Lees in Huisgenoot van 11 Desember meer oor die skattige Suri Cruise.

Troudag van Taliep se dogter


Haar pa het in ’n droom na haar gestap en haar ringvinger gesoen. Dit is hoe Jawaahier Petersen (22) weet haar vermoorde musieklegende-pa, Taliep, het sy seën oor haar huwelik uitgespreek nog voor haar troue vandag.

Dis 30 November, twee dae voor haar stiefma, Najwa, skuldig bevind is aan die moord op haar pa. Maar vandag het Jawaahier, ’n maatskaplike werker en aanbieder van die TV-program An Nur op SABC1, en Ridhaa Damon (24), ‘n wiskunde-onnie en kranige rugbyspeler, net een vereiste: ‘‘Geen huilery nie, asseblief.’’

Amper twee jaar is verby sedert die moord op haar pa, maar vandag probeer sy naasoudste kliphard keer dat trane haar en haar aanstaande se troudag bederf.

Jawaahier kom uitgestap in ’n roomkleurige pofrok met ’n halssnoer wat blink om haar nek en ’n kroontjie op haar kop. Sy lyk soos ’n prinses. Ma Madeegha Anders soen en druk haar kind tranerig voor sjeg Sieraaj Johaar begin bid en so sy seën oor haar huwelik uitspreek.

Die bruidegom se nikaah-seremonie (trouplegtigheid) is terselfdertyd in die moskee daar naby aan die gang, met net mans wat die seremonie bywoon.

Daarna vertrek die bruid in ’n Rolls-Royce na die Athlone-burgersentrum. Toe Ridhaa ook opdaag, steek hy die trouring aan sy bruid se vinger.

Ná ‘n fotonemery in die Bo-Kaap keer die geselskap terug na die burgersentrum vir die onthaal. Meer as vyfhonderd gaste staan op en klap hande toe die twee en hul gevolg op ’n wit versierde verhoog gaan sit vir nog foto’s en gelukwense.

Ja, sy weet dit is nie tradisioneel dat ’n bruid op haar troudag praat nie, maar Jawaahier se hart brand. Eers bedank sy haar ma en sê toe: ‘‘Van kleins af was ek my daddy’s little girl. Selfs al het ek sy motor met my eerste fiets geskraap, het hy geglimlag.

‘‘Hy was my alles. Maar ek moes sonder hom 21 word en my graad ontvang. Vandag trou ek sonder hom en hy kan nie sien hoe pragtig ek lyk nie. Maar al verander ek my van, ek sal altyd daddy’s little girl bly . . .’’

– Lees in Huisgenoot van 11 Desember meer oor Jawaahier Petersen en Ridhaa Damon se troue.

Bond se beeldskone Olga


Dis ’n heel besonderse Bond-meisie – en die heel eerste een wat nie saam met 007 in die bed beland nie.

Maar moenie twyfel nie: Met Olga Kurylenko van die Oekraïne se voorkoms skeel minder as niks. Die smeulende brunet met die katgroen oë laat vorige Bond-meisies trouens ietwat vaal lyk.

Maar sy’s ’n konserwatiewe Bond-meisie, sê die 29-jarige aktrise en model. In Quantum of Solace is daar geen bedmanewales of selfs eina-bikini’s nie. In die fliek, wat pas hier begin draai het, vertolk sy die rol van die geheimsinnige Camille, ’n Russies-Boliviaanse agent wat, nes Bond, die dood van geliefdes wil wreek.

En Camille is, anders as die Bond-meisies van ouds, nie gediend om bloot aan James se arm te hang en mooi te lyk nie. Sy laat skurke les opsê, spring van geboue af, baklei op ’n motorboot wat teen ’n hoë spoed ry en haal ’n vuurwapen binne ’n rekordtyd van agt sekondes uitmekaar.

Sy het aanvanklik gedink sy het nie met die oudisie vir die 22ste Bond-fliek die paal gehaal nie. Sy het die verkeerde teks gememoriseer en die regisseur, Marc Forster, was nie te ingenome met haar nie

Maar nog twee oudisies in Londen het gevolg, en toe kom die groot nuus. ‘‘Dit was Oukersaand toe ek hoor ek het die rol gekry. Ek was saam met my vriende en kon nie ’n beter present gevra het nie,’’ vertel sy opgewonde.

Daniel Craig, wat nou vir die tweede keer die rol van Bond vertolk, het self ’n goeie woordjie vir haar gedoen omdat hy so gemaklik saam met haar gevoel het.

Die maand lange voorbereiding vir die rol was straf. Sy moes vier uur per dag oefen vir aksietonele, en nog ’n ekstra twee uur leer hoe om met ’n vuurwapen te werk.

Maar dit was toe al die sweet werd. Toe Quantum of Solace op Olga se 29ste verjaardag uitgereik is, het dit in Brittanje en talle ander lande loketrekords laat spat. Praat van ’n lekker verjaardaggeskenk!

– Lees in Huisgenoot van 11 Desember meer oor die smeulende Olga Kurylenko.

Nuwe resepte in die reën


Nico en Christi Panagio het die opening bygewoon van 7de Laan se Diaan Lawrenson en haar akteur-kêrel, Jody Abrahams, se restaurant Die Dagbreek.

Die reën het amper die makietie in Villiersdorp in die Wes-Kaap bederf en daar moes omtrent rondgeskarrel word om die partytjie te red.

‘‘Jis, dit was darem nou vir jou ’n ding! Maar die terugvoer was absoluut wonderlik. Al ons vriende en kollegas het ons ondersteun,’’ vertel Jody. ‘‘Van die dorp se inwoners was eers skepties oor die nuwe restaurant. Villiersdorp is mos ’n rustige plekkie en hier kom die mense van die TV en krap alles deurmekaar. Maar die tannies het so lekker gejol, en dit nogal in die reën.’’

Die akteurspaar wil met ’n Op die Stoep-fees begin waar gaste by kerslig stories vertel en die kitaar tokkel. ‘‘Ons wil hê die plaaslike gemeenskap moet ook betrokke raak sodat ons kan werk skep vir mense.’’

Lees meer oor plaaslike bekendes in Huisgenoot van 11 Desember.