Friday, 05 December 2008

Troudag van Taliep se dogter


Haar pa het in ’n droom na haar gestap en haar ringvinger gesoen. Dit is hoe Jawaahier Petersen (22) weet haar vermoorde musieklegende-pa, Taliep, het sy seën oor haar huwelik uitgespreek nog voor haar troue vandag.

Dis 30 November, twee dae voor haar stiefma, Najwa, skuldig bevind is aan die moord op haar pa. Maar vandag het Jawaahier, ’n maatskaplike werker en aanbieder van die TV-program An Nur op SABC1, en Ridhaa Damon (24), ‘n wiskunde-onnie en kranige rugbyspeler, net een vereiste: ‘‘Geen huilery nie, asseblief.’’

Amper twee jaar is verby sedert die moord op haar pa, maar vandag probeer sy naasoudste kliphard keer dat trane haar en haar aanstaande se troudag bederf.

Jawaahier kom uitgestap in ’n roomkleurige pofrok met ’n halssnoer wat blink om haar nek en ’n kroontjie op haar kop. Sy lyk soos ’n prinses. Ma Madeegha Anders soen en druk haar kind tranerig voor sjeg Sieraaj Johaar begin bid en so sy seën oor haar huwelik uitspreek.

Die bruidegom se nikaah-seremonie (trouplegtigheid) is terselfdertyd in die moskee daar naby aan die gang, met net mans wat die seremonie bywoon.

Daarna vertrek die bruid in ’n Rolls-Royce na die Athlone-burgersentrum. Toe Ridhaa ook opdaag, steek hy die trouring aan sy bruid se vinger.

Ná ‘n fotonemery in die Bo-Kaap keer die geselskap terug na die burgersentrum vir die onthaal. Meer as vyfhonderd gaste staan op en klap hande toe die twee en hul gevolg op ’n wit versierde verhoog gaan sit vir nog foto’s en gelukwense.

Ja, sy weet dit is nie tradisioneel dat ’n bruid op haar troudag praat nie, maar Jawaahier se hart brand. Eers bedank sy haar ma en sê toe: ‘‘Van kleins af was ek my daddy’s little girl. Selfs al het ek sy motor met my eerste fiets geskraap, het hy geglimlag.

‘‘Hy was my alles. Maar ek moes sonder hom 21 word en my graad ontvang. Vandag trou ek sonder hom en hy kan nie sien hoe pragtig ek lyk nie. Maar al verander ek my van, ek sal altyd daddy’s little girl bly . . .’’

– Lees in Huisgenoot van 11 Desember meer oor Jawaahier Petersen en Ridhaa Damon se troue.