Friday, 05 December 2008

Bond se beeldskone Olga


Dis ’n heel besonderse Bond-meisie – en die heel eerste een wat nie saam met 007 in die bed beland nie.

Maar moenie twyfel nie: Met Olga Kurylenko van die Oekraïne se voorkoms skeel minder as niks. Die smeulende brunet met die katgroen oë laat vorige Bond-meisies trouens ietwat vaal lyk.

Maar sy’s ’n konserwatiewe Bond-meisie, sê die 29-jarige aktrise en model. In Quantum of Solace is daar geen bedmanewales of selfs eina-bikini’s nie. In die fliek, wat pas hier begin draai het, vertolk sy die rol van die geheimsinnige Camille, ’n Russies-Boliviaanse agent wat, nes Bond, die dood van geliefdes wil wreek.

En Camille is, anders as die Bond-meisies van ouds, nie gediend om bloot aan James se arm te hang en mooi te lyk nie. Sy laat skurke les opsê, spring van geboue af, baklei op ’n motorboot wat teen ’n hoë spoed ry en haal ’n vuurwapen binne ’n rekordtyd van agt sekondes uitmekaar.

Sy het aanvanklik gedink sy het nie met die oudisie vir die 22ste Bond-fliek die paal gehaal nie. Sy het die verkeerde teks gememoriseer en die regisseur, Marc Forster, was nie te ingenome met haar nie

Maar nog twee oudisies in Londen het gevolg, en toe kom die groot nuus. ‘‘Dit was Oukersaand toe ek hoor ek het die rol gekry. Ek was saam met my vriende en kon nie ’n beter present gevra het nie,’’ vertel sy opgewonde.

Daniel Craig, wat nou vir die tweede keer die rol van Bond vertolk, het self ’n goeie woordjie vir haar gedoen omdat hy so gemaklik saam met haar gevoel het.

Die maand lange voorbereiding vir die rol was straf. Sy moes vier uur per dag oefen vir aksietonele, en nog ’n ekstra twee uur leer hoe om met ’n vuurwapen te werk.

Maar dit was toe al die sweet werd. Toe Quantum of Solace op Olga se 29ste verjaardag uitgereik is, het dit in Brittanje en talle ander lande loketrekords laat spat. Praat van ’n lekker verjaardaggeskenk!

– Lees in Huisgenoot van 11 Desember meer oor die smeulende Olga Kurylenko.