Friday, 25 September 2009

Eksklusief: Bryan vat vrou!


Bryan Habana staan uitgevat in sy ontwerperspak op die trap van ’n kapel op ’n pragtige landgoed in Centurion. Hy loer kort-kort na sy horlosie.

Nee, senuagtig is hy glad nie, sê die blitsige Springbokvleuel vir almal wat vra; net emosioneel.

Vandag is immers sy en sy groot liefde, Janine Viljoen, se troudag.

“Going to the chapel and we’re gonna get married,” trek hy los tot groot vermaak van sy vriende wat voor die kapel rondstaan. “Ek is so opgewonde.”

Later is die voormalige internasionale rugbyspeler van die jaar – en een van Suid-Afrika se grootste sporthelde – kamtig kwaai met Percy Montgomery toe dié in ’n wit pak opdaag. “Net die bruid mag wit dra!” raas hy goedig.

Hierdie sonnige Sondag is die volmaakte dag vir ’n troue, veral dié van een van Suid-Afrika se bekendste glanspaartjies.

Die besonderse kapel, met muurskilderye wat Bybelse tonele uitbeeld, is vol roosblare gestrooi. By die ingang brand kerse en die troukoek kruip in die voorportaal onder ’n stuk fyn wit materiaal weg vir al die nuuskierige oë.

Die veiligheidsmaatreëls is streng. Die lede van die veiligheidsmaatskappy ADT, geklee in pers hemde met Bryan en Janine se voorletters daarop, kwyt hulle goed van hul taak. Niemand mag by die landgoed inry nie en selfone en kameras moet in jou voertuig bly. Van die ingang af word gaste met statige, wit Lexus-motors na die kapel aangery.

Die gastelys is indrukwekkend – die Wie’s Wie van die sportwêreld en talle ander bekendes is hier.

Onder die 270 gaste is die Springbok-kaptein, John Smit, talle ander Bokke soos Victor Matfield, Pierre Spies en Morné Steyn, asook die afrigter, Peter de Villiers, wat opgewek buite met Bryan gesels. Die Blou Bul-senter Wynand Olivier is een van die drie strooijonkers.

Lees verder oor die troue van die jaar in Huisgenoot van 1 Oktober.

Hooit! se Wicus nie nes Tolla


As hy weer ’n beroep moet kies, word hy sowaar spietkop. Want nes die manne in blou wil hy ook agter ’n bos wegkruip en karre wat te vinnig ry, van die pad af trek, grinnik Wicus van der Merwe.

Dis seker ook die rede vir sy groot treffer Spietkop op sy nuutste CD, Hooit! Aanhangers lag hulle klaar as hy lostrek daarmee. Die koortjie, op die maat van Gé Korsten se Liefling, lui: Spietkop, kan ons nie maar vergeet en vergewe . . . Spietkop, as ek sien jy’s agter my, begin ek bewe . . .

Dis amper vanselfsprekend dat Hooit! onlangs met ’n Tempo-prys vir die gewildste humor-/komedie-album bekroon is. Wicus (37) ís snaaks, sonder dat hy dit besef. Maar, laat hy gou hoor, hy probeer nie sy pa, die legendariese grapjas Tolla, se plek vol staan nie. “Daar was net een Tolla. Hy het gedoen wat hy doen en ek doen my ding.”

Tog is hy pure Tolla se kjind – daai einste plooitjies wat om ’n paar vriendelike, laggende skrefiesoë vou, dieselfde neus, warm glimlag en lekker Weskus-bry.

“Ek is ’n goeie mengelmoes van albei my ouers – nie tipies ma se seun nie, ook nie heeltemal pa se klong nie. Ek het my ma, Marita, se vinnige humeur geërf – dis net so vinnig weg soos dit gekom het – en my pa se sin vir humor, maar beslis nie sy lengte nie.”

Hy’s fieterjasieloos, dié Wicus. Met die fotonemery by sy ruim dubbelverdiepinghuis met olyfbome in Malmesbury in die Wes-Kaap, sien jy dadelik: Hy’s nie ’n ou wat heeltyd wil staan en mooi lyk voor die kamera nie.

“Ek weet nie hoe om te lyk nie, man,” sê hy verleë terwyl hy sy kitaar ongemaklik van die een hand na die ander rondskuif en terselfdertyd mooi vir die kiekies probeer glimlag. Maar sit hom op die verhoog en daar is g’n sprake van skaam wees nie.

Leer Wicus beter ken in Huisgenoot van 1 Oktober.

Tieners: Ons gesels met aKING


Ons is dol oor die opkomende konings van Suid-Afrikaanse rock. Lees hier wat aKING alles sê

Wat is jou gunsteling-maaltyd?
Laudo: ’n Filet met chimichuri-sous (’n Argentynse sous).
Snake: ’n Seekos-pizza-burger-pastei.
Hunter: ’n Burger.

Wat is jou gunsteling-aanhaling?
Laudo: ‘‘Vrede.’’
Snake: ‘‘Dit het nooit eienaardig genoeg vir my geraak nie’’ – uit die fliek Where the Buffalo Roam met Bill Murray as Hunter S. Thompson.
Hunter: ‘‘Julle maak mekaar basies dood om te kyk wie se denkbeeldige vriend die beste is’’ – die komediant Richard Jeni.

Wat sou jy red as jou huis afbrand?
Snake: Tien teen een my huismaats. Die hemel weet, hulle sal dit nie self kan doen nie.
Hunter: Die mens wat dan langs my lê.
Hennie: My kosbare plateversameling. Ek sal oop vlamme aandurf om dit te beskerm.

Jou gunsteling-televisieprogram?
Laudo: Arrested Development en Frisky Dingo.
Hunter: Top Gear.
Hennie: Frisky Dingo.

Jou gunsteling-groep of -sanger?
Laudo: Travelling Wilburys.
Snake: Daar is te veel van hulle. Waarskynlik enigiets met Dave Grohl daarin.
Hennie: Ek is op die oomblik regtig mal oor The Shins.

Wat is jou idee van geluk?
Laudo: Om te kan doen waarvan jy hou tot jy die dag doodgaan.
Hunter: Sukses en liefde.
Hennie: Ek is oor die algemeen tevrede met die lewe wat ek lei.

Wat is die laaste SMS wat jy ontvang het en van wie was dit?
Snake: Dit was van ons bestuurder, Brendan Sterley, om my aan ’n ander onderhoud te herinner.
Hunter: Dit was van die stempos-kennisgewingstelsel oor ’n onderhoud.
Hennie: Van ’n meisie wat wou uithang.

Ek wens ek het nooit . . .
Laudo: Weer begin rook nie.
Snake: Uit ons toerbussie gespring toe dit 80 km/h gery het nie. Miskien as dit stadiger gery het . . .
Hennie: ’n Motor besit nie.

Vertel ons enigiets oor jouself.
Laudo: Ek byt my naels.
Hunter: Ek het nie ’n rybewys nie.
Hennie: Ek is op Boksburg gebore.

Wat is jou gunsteling-peuselhappie?
Laudo: Salty Cracks met roomkaas.
Snake: Grondboontjies en rosyntjies.
Hunter: Fillodeeg met geroomde spinasie gevul.

Drie woorde wat jou opsom
Laudo: Mister Laudo Liebenberg.
Hunter Baie Baie Baie.
Hennie: Mister Short Cuts.

In Huisgenoot van 1 Oktober se tienerseksie is ook onder meer raad oor jou geldsake.

Aidan, ons sexy nuwe nutsman


Jy hom nog nie op die kassie gesien raakvat het met hamers, sae en verfkwaste nie, sal jy maklik dink hy is ’n model of sepiester in daardie verweerde leerbaadjie en jeans van hom. Maar die verfmerke aan sy vingers bevestig dis TV se handige – en baie aantreklike – nutsman dié.

Die 27-jarige Aidan Bennetts se hande staan vir niks verkeerd nie. En met ons fotosessie skuif Top Billing se doen-dit-self-aanbieder sommer self die meubels rond – hy’t immers jare lange ondervinding van onder meer binne- en bedryfsontwerp, houtwerk, verftegnieke en die opknap van ou meubels.

Nou gaan Aidan al sy ondervinding met Huisgenoot-lesers deel. Hy en sy span by Aidan Bennetts Designs se nuwe en gereelde bydrae tot Huisgenoot se dekorblaaie skop in dié uitgawe af op bladsy 46.

‘‘Ek is baie opgewonde daaroor om by die Huisgenoot-leefstylspan aan te sluit. Ons beoog ’n paar interessante projekte,’’ sê hy en wys trots ’n SMS van die eerste lesers wie se huis hy opgeknap het.

“Hulle laat weet hoe dol hulle oor hul nuwe trap is.

‘‘Die beste beloning is die glimlagte op mense se gesigte.’’

Ons gesels oor ’n koppie koffie in sy stylvolle dakwoonstel in Soutrivier, Kaapstad, waar byna elke muur ’n ander kleur geverf is.

Aidan het die dekor self behartig en van sy eie omgewingsvriendelike meubels soos stoele van karton pryk daarin.

Aidan woon die afgelope ses maande hier saam met sy meisie van die afgelope twee jaar, Karlien Seegers (25), hul kat, Tinkerbell, en hul hond, Judy.

Hy glo jou huis en binneversiering is ’n verlengstuk van jou persoonlikheid.

Lees meer oor Aidan in Huisgenoot van 1 Oktober.

Naas en sy dogter speel gholf


As die oud-Springbok en TV-kommentator Naas Botha sy sin kry, sal hy en sy middelste dogter, Gaeby (11), een van die dae op ’n wêreldwye gholftoer vertrek. Hy speel met ’n voorgee van vier en hy en sy span het onlangs die Good Morning Angels-gholfdag by die Gardener Ross-gholflandgoed in Centurion gewen. Maar Naas meen Gaeby is die eintlike een in die Botha-gesin met gholftalent. Sy het op ses al begin lesse neem. “Maar ek sal nie druk op haar uitoefen nie. Dis ’n ding wat sy ook moet geniet,” het hy bygevoeg. Die oud-Bok Breyton Paulse was ook daar. Hy bly deesdae fiks deur aan al wat ’n avontuursport is deel te neem. Hy het glad vanjaar sy eerste Cape Epic-bergfietsren voltooi, waarin hy 800 km binne agt dae moes aflê. “Ek het net vier maande gehad om voor te berei,” vertel Breyton. “Ek is net bly ek kon klaarmaak.” Inderdaad ’n prestasie!

Lees meer oor plaaslike bekendes se doen en late in Huisgenoot van 1 Oktober.

Thursday, 17 September 2009

Eksklusief: Boer Flip se seun praat


Hy is ’n boer in murg en been, maar as ’n sjarmante heer sal TV-kykers hom nie sommer beskryf nie. Nie met daardie snaakse sin vir humor wat hom al kniediep in die pekel laat beland het nie.

Maar toe Huisgenoot besluit om self te gaan kuier by Flip Kotze (54), die vrugteboer van Uniondale wat in kykNET se gewilde TV-reeks aan die vrou soek is, ontdek ons hy is eintlik ’n heerlike man. Lank, netjies gebou, met ’n sterk gesig, sy glimlag vol selfvertroue, maar met ’n tikkie kwesbaarheid in daardie kuiltjies wanneer hy glimlag. En al is hy nie die beste diplomaat nie, is hy immers opreg, jy kan sê ware sout van die aarde.

Maar vir Ansebé Pieterse (44) en June Smith (57) wat as finaliste in die reeks Boer Soek ’n Vrou op sy plaas gaan kuier het, het sy ‘‘vervalle’’ plaashuis glad nie gerym met die oulike man wat hulle vroeër ontmoet het nie.

Dit het nie soseer gegaan oor Wenda Uys (49), die vrou wat hy self genooi het om saam met hulle op die plaas te kom kuier al het sy nie vir die TV-reeks ingeskryf nie, het Ansebé en June in ’n vorige onderhoud aan Huisgenoot gesê (Boer Flip se Groot Flop, 3 September).

Nee, dit was daardie kanariegeel kombuis met die verf wat afdop, volgens hulle ‘‘die goedkoop kitskoffie, die muf kos in die yskas, Flip se kru taal’’ en die bad wat glo lyk of sement daarin gemeng is wat hulle die eerste dag al die hasepad laat kies het.

Sy seun Kobus (27), ’n siviele ingenieur van Polokwane, was so woedend oor alles wat hulle oor sy geliefde pa kwytgeraak het, dat hy dadelik vir Huisgenoot geskryf het: ‘‘My pa, Flip, is geen flop en hy is nie kru nie.’’

Sy pa se idee van ’n grappie laat hom wel soms in die sop beland, het Kobus verduidelik en vertel hoe behendig Flip daardie plaas in die Langkloof binne net nege maande reggeruk het. Daarby was hy ’n wonderlike pa vir hom en sy oorlede broer – streng, maar altyd daar met goeie raad.

Leer die ware Flip beter ken in Huisgenoot van 24 September.

Verloor gewig saam met Nicholis


Hy het nog altyd gehou van lekker eet. As jong seun het hy sommer vier worsrolletjies ná mekaar afgesluk en dan was daar nog so ’n hol kolletjie op sy maag . . .

Deesdae gaan dit nie veel beter nie en soms spring hy sommer tweeuur in die nag in sy motor en jaag na die naaste motorhawe-geriefswinkel agter sjokolade aan. Maar Nicholis Louw, een van Suid-Afrika se gewildste popsterre, wil nou halt roep. Genoeg is genoeg, sê die sanger wat al meer as 300 000 CD’s verkoop het.

Van daai lyf wat hy so graag op die verhoog swaai, is daar deesdae net te veel. In die afgelope ses jaar het sy gewig tot 96 kg geklim – ’n volle 20 kg meer as toe sy eerste album in 2003 verskyn het.

‘‘Ek het al baie diëte probeer, maar dis moeilik om daarby te hou,’’ bely die donkerkop. ‘‘Veral omdat ek gereeld toer. Ek het ook al probeer oefen en het al selfs ’n persoonlike instrukteur gehad, maar helaas, jy is wat jy eet.’’

Vir Huisgenoot het dit na ’n lekker uitdaging geklink om Nicholis te help maer word. Ons het toe gaan aanklop by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Sportwetenskap in Nuweland buite Kaapstad en hulle het gehelp met ’n gesonde oefen- en eetprogram vir die sanger en sommer al die manne onder ons lesers wat ook so ’n ietsie wil afskud.

‘‘Ek sal alles doen wat hulle sê. Ek is eintlik desperaat en sien nogal uit na die program,’’ sê die sanger.

Hy erken sy eetgewoontes is nie naastenby gesond nie. ‘‘Ek was nog altyd lekkerbekkig, maar vroeër jare was ek darem nog aktief. Nou nie meer nie en ek eet sommer alles wat voorkom.’’

Teen elfuur soggens het hy gewoonlik al twee sjokoladestafies geëet en teen middagete twee pasteie. Teen drieuur smiddae is dit nog sjokolade en saans eet hy enigiets van pizza tot ’n lekker stuk vleis. ‘‘En laataand sal ek sommer ’n hele boks koekies opeet.’’

Maar dis nou die einde. Hy het ’n tydjie gelede 30 geword en begin besef sy gesondheid is belangrik. En sy voorkoms natuurlik ook. Hy het ’n nuwe reeks velsorgprodukte begin gebruik en wil in die volgende paar maande sy lyf regruk.

Sien die oefen- en eetprogram wat Nicholis nou gaan volg in Huisgenoot van 24 September.

Eksklusief: Caster-ma se smart


In ’n nederige huis in Moletji op die platteland in Limpopo sit ’n ma by haar kombuistafel met sy linoleumblad. Met ’n trotse glimlag haal sy ’n stuk plastiek uit en vou die medaljes daarin een vir een oop.

Dorcas Semenya (50) haal die goue medalje laaste uit en sit dit versigtig op die tafel neer. Dis die medalje wat haar dogter by die onlangse Wêreld-atletiekbyeenkoms in Berlyn gewen het.

Hierdie hopie medaljes vertel die verhaal van ’n kind uit ’n afgeleë dorpie wat die onmoontlike vermag het. Dit is ’n verhaal van hoop en asemrowende sukses, maar dit het nou op een van die grootste tragedies in die Suid-Afrikaanse sportgeskiedenis uitgeloop.

Almal ken die naam Caster Semenya – nie omdat sy in Berlyn blitsig in die 800 m wenstreep toe genael het en een van die vinnigste tye nog aangeteken het nie, maar oor haar voorkoms.

Die internasionale opskudding oor haar geslag het geensins verflou nie ná bewerings in ’n Australiese koerant dat hulle die uitslag van toetse gesien het wat die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) op haar uitgevoer het. Caster, word in die berig beweer, het manlike én vroulike geslagseienskappe en is daarom interseksueel.

Dorcas Semenya skud haar kop verward. Niemand van Atletiek Suid-Afrika (ASA) het die moeite gedoen om haar te kontak en dinge aan haar te verduidelik nie, sê sy. Sy het nog skaars haar kind gesien vandat sy van Berlyn teruggekom het. Sy moet op koerantberigte en nuusbulletins staatmaak vir nuus oor haar. En sy het geen benul wat interseksueel beteken nie.

‘‘Wat is hierdie interseksueel?’’ vra sy. ‘‘Wat is hierdie ‘tussenin’ waarvan almal praat? Daar is nie ’n ding soos ’n tussenin nie. Jou kind is òf ’n meisie òf ’n seun. Dit is mos so, of hoe?’’

Die gruispad wat na Caster se huis lei, is lank en kronkelend. Beeste wei in die veld of knibbel aan plante in die tuine.

Die Semenyas se huis het ’n sementvloer en daar is geen lopende water nie. Al waterbron is ’n groot, groen tenk buite op die erf en hulle het ’n buite-toilet.

Hier is Caster gebore. Terwyl die hoogswanger Dorcas op vervoer gewag het na die naaste hospitaal sowat 27 km hiervandaan, het sy besef haar derde kind gaan nie wag nie. Martina Mpati, ’n vroedvrou, het Mokgadi Caster Semenya toe die wêreld ingehelp.

Haar vinnige geboorte was gepas vir ’n kind wat later soos die wind kon hardloop en aan groot atletiekbyeenkomste sou deelneem.

Lees verder aan Caster se verhaal in Huisgenoot van 24 September.

Jacques-Louis, die Cheetahs se angel


Die sny bokant Jacques-Louis Potgieter (25) se linkeroog lyk nog seer, en al kan jy die steke duidelik sien, is die Cheetahs se blonde losskakel min gepla daaroor.

In die sonnige woonkamer van sy huis in Langenhovenpark in Bloemfontein lyk hy volkome op sy gemak – en met goeie rede.

Sy harde werk werp vrugte af en hy is nou die voorste puntemaker in vanjaar se Curriebeker-reeks.

‘‘Aan die begin van die seisoen stel jy vir jouself doelwitte. Die meeste van die tyd haal jy dit. Maar dis nog beter as dit ook jou span bevoordeel,’’ sê hy tevrede.

Die son stroom deur die vensters van hom en sy vrou, Melani (24), se gesellige huis. Sketse van hom hang teen die muur – haar werk. Jacques-Louis skop sy plakkies uit en leun agteroor teen die rusbank se sagte kussings. ‘‘Vir ons het die Curriebeker hartverskeurend begin. Maar selfs toe ons verloor, het ons nie paniekerig geraak nie. Die Cheetahs het ’n wenkultuur; daarom het ons aan die klein goedjies gewerk en toe het ons begin wen.’’

Die diep gelowige rugbyspeler spog nie maklik nie. Maar hy is so seker van sy Godgegewe talent en van sy spanmaats se begeerte om die Curriebeker huis toe te bring dat hy voorspel die Cheetahs sal vanjaar in hul derde eindstryd in vyf jaar speel.

‘‘Tot dusver het ons nie sleg gespeel nie. Selfs toe ons verloor het, was dit klein foutjies waaraan ons gewerk het en reggestel het,’’ sê hy.

Langs hom op die rusbank straal Melani van trots oor haar man. En hy loop oor van stille selfvertroue toe hy die uitdaging stel: ‘‘Ons soek ten minste ’n halfeindstryd. Ons gee nie om teen wie of waar nie.’’

Lees wat Jacques-Louis oor sy skuif na die Cheetahs sê in Huisgenoot van 24 September.

Sonia Raciti – wat ’n lieflike mamma!


Nie eens die aand toe sy as die mooiste vrou in Suid-Afrika gekroon is, kon Sonia Raciti-Oshry mooier gelyk het as waar sy nou in die voordeur van haar huis die klein pienk bondeltjie in haar arms staan en sus nie. Moederskap akkordeer duidelik met dié skoonheid en ma van drie.

Dis nog net ’n paar weke ná haar jongste se geboorte, maar in haar stemmige swart rokkie lyk sy al klaar weer reg om ’n bikini aan te glip en met gemak op die loopplank of in modeblaaie lyf te wys.

‘‘O nee,’’ stry ons Mej. Suid-Afrika van 1998 laggend in haar luukse huis in Bryanston, Johannesburg, ‘‘ek het met elke swangerskap gewig aangesit!’’

En elke keer verg dit harde werk en sweetsessies vroegoggend in die gimnasium om weer in haar klere te pas.

Toe Sonia (31) haar jongste, Taylor-Paige, verwag het, het sy 16,5 kilogram opgetel – en boonop het sy ’n swakheid vir soetgoed, bieg sy.

‘‘Ek pas nog nie in my klere nie. Ek werk nog daaraan.’’

Dis al 11 jaar sedert sy die Mej. Suid-Afrika-kroon gedra het. Sonia het destyds derde gekom in die Mej. Wêreld-kompetisie en onder die top-vyf in die Mej. Heelal-kompetisie geëindig. Maar nou is sy ’n bedrywige ma wat agter haar kroos aandraf en op haar gelukkigste by die huis is saam met haar man, Marcus Oshry, ’n geoktrooieerde rekenmeester met sy eie praktyk.

Tog het sy eens op ’n tyd gedink sy sou nooit ’n raakvat-ma kon wees nie.

Ná haar eersteling, Keaton, se geboorte ses jaar gelede het Sonia nie kans gesien vir nog kinders nie. ‘‘Hy is vier weke te vroeg gebore. Ek het vir almal vertel ek wil nie nog kinders hê nie,’’ vertel sy.

Maar toe sy eers die vreugde van moederskap ontdek, het sy van plan verander en Cameron is drie jaar later gebore. Nou, nog drie jaar later, het klein Taylor-Paige haar opwagting op 22 Junie met ’n keisersnee gemaak.

Lees meer oor die sprankelende ma Sonia in Huisgenoot van 24 September.

Friday, 11 September 2009

Dorette wys haar lieflike Lia Luna Li


’n Paar meter anderkant die plaasopstal waar die glanspaartjie Dorette Potgieter en Riku Lätti kom nesskop het, het hulle ’n jong lemoenboompie geplant. Sy fyn blaartjies lyk nog groener teen die vaal veld agter hom – simbolies van ’n nuwe lewe.

Dis spesiaal geplant vir Lia Luna Li, hul eersteling, wat in Julie gebore is. En terwyl Dorette nou weer as die veearts Sonja in die dramareeks Plek van die Vleisvreters op SABC2 te sien is, blink sy hier op ’n bewaringsplaas tussen Magaliesburg en Hartbeespoortdam uit in haar nuwe rol as ma.

Haar swangerskap was sonder probleme, vertel sy. “Maar tipies ekke moes ek toe vir ’n dramatiese einde sorg!” Nadat sy 24 uur lank in kraam was, moes die dokters ’n noodkeisersnee uitvoer, want die baba se naelstring het om haar nek verstrengel geraak.

“Jare gelede, sonder vandag se mediese kennis, kon die ma en die baba in sulke omstandighede gesterf het,” sê die nuwe pa aangedaan.

Lia Luna Li is ’n rustige baba, vertel die stralende ouerpaar. Haar ongewone naam het die natuur as’t ware vir hulle gegee. Eers het hulle met die Bybelse naam Lea gespeel. Toe een aand, diep geraak deur die helder maanlig, het die naam Luna – die Latynse woord vir maan – bygekom.

Daarna het hulle in die veld gestap en ’n ry klippe gesien wat die naam Lia gespel het. En toe het Riku geweet: Lia Luna Li Lätti sal sy heet. Li is Chinees vir krag en Lia beteken moeg vir oorlog, verduidelik Dorette. Maar om dit makliker te maak, noem hulle haar sommer Lialuna.

Toe speel die baba sowaar saam met die maantema en maak op die 40ste herdenking van die eerste maanlanding haar opwagting!

Met die lowergroen lemoenboom wat hulle vir haar geplant het, sit hulle ’n familietradisie voort. Dorette se ouers het ook met haar geboorte 36 jaar gelede vir haar ’n boom geplant. Dié staan vandag nog in Dorpstraat, Stellenbosch, waar hulle destyds gewoon het.

Lees meer oor Dorette, Riku en hul baba in Huisgenoot van 17 September.

Francois, die boer met goeie maniere


Hy kom met lang treë oor die plaaswerf aangestap. Kakie-kniebroek, kakie-kraaghemp, donkerblou kouse tot halfpad oor sy kuite opgetrek en goed ingeloopte vellies voltooi die prentjie van ’n tipiese Vrystaatse boer.

Dan, toe Francois Viljoen (26) sy een hand uitsteek en met die ander sy gholfpet afhaal voor hy groet, besef jy hy het boonop die tipiese ordentlike boerseun-maniere op die plaas net buite Dealesville geleer waar hy en pa Jan met beeste, skape en graan boer.

En wanneer die jong boer van sy wedervaringe in Engeland of sy toer saam met vier vriende na Amerika of sy kuiers in Australië begin vertel, kom jy agter hy’s mal oor avontuur en nuwe uitdagings.

Dit het hom juis vroëer vanjaar laat besluit om in te skryf vir die kykNET-reeks Boer Soek ’n Vrou.

Eers was dit net ’n grap wat hy, sy ma en vriende gemaak het, maar oor ’n glasie rooiwyn in ’n restaurant in Bloemfontein het sy avontuurlus eindelik die oorhand gekry.

Net daar het hy opgestaan en by die internetkafee oorkant die restaurant ingeloop, ’n inskryfvorm uitgedruk, dit ingevul, ’n ID-foto laat neem en alles ingestuur.

’n Paar weke later het hy hom boeglam geskrik toe hy die oproep kry om te sê hy is een van die 10 uitverkore boere.

Toe begin die soektog uit die 87 vroue wat vir hom geskryf het na ’n avontuurlustige vrou, een wat styf om sy middel sal vasklou wanneer hy met sy BMW-motorfiets die grondpaaie van die Vrystaat plat jaag.

Leer Francois beter ken in Huisgenoot van 17 September.

Dewald, die Bulle se gebore kaptein


Met sy heel eerste vertoning op die rugbyveld het Dewald Potgieter niemand beïndruk nie, nie eens sy eie ma nie. Sy vertel graag hy het net om die ander seuns rondgetrippel en nie juis die bal in die hande probeer kry nie. Hy was toe ses en het vir die Pikkie-rugbyspan gespeel.

“My ouers was oortuig ek het geen talent nie. Maar ek het toe al nie saamgestem nie. Ek het gevoel ek het dan my beste gegee,” sê Dewald (22), wat toe sowaar ’n kookwater-agtsteman geword het. Nie net was dié Blou Bul in Junie kaptein van die Opkomende Springbokspan wat gelykop teen die Britse en Ierse Leeus gespeel het nie, hy is ook kort daarna genooi om saam met die Springbokspan te oefen.

En toe Frans Ludeke, die Bulle se afrigter, verlede maand iemand moes kies om oor te neem terwyl kaptein Derick Kuün ’n ruskans kry, het hy onmiddellik die leisels vir Dewald gegee. “Ons het daai dag teen die Luiperds gewen, daarom is my rekord as kaptein nog 100 persent wedstryde gewen,” spot hy met ’n ondeunde glimlag.

Hy’s ’n gebore kaptein. Hy was hoofseun in die laer- en hoërskool, dan en wan klaskaptein, kaptein van elke rugby-span waarin hy op skool gespeel het en kaptein van die Bulle se o.19- en o.21-span voor hy die Blou Bulle en Opkomende Springbokke gelei het.

Nou droom hy nie net daarvan om binnekort die Groen-en-Goud oor sy kop te trek nie, maar ook van Springbokkaptein word. En kyk ’n mens terug op die spore wat hy tot dusver getrap het, is dit heel waarskynlik waarheen hy op pad is.

Dewald vertel van sy ervaring saam met die Bokke in Huisgenoot van 17 September.

Jong Kapenaar blog hom ryk


Weet jy hoe om die lewe te geniet – en so lekker daarvan te vertel dat mense nie kan wag om te hoor wat jy nou weer aanvang nie? Dan kan jou blog jou dalk ook in Hollywood laat beland.

Vra maar die 32-jarige Seth Rotherham van Kampsbaai in Kaapstad, tot ’n paar jaar gelede net nog ’n doodgewone ou met ’n doodgewone lewe. Maar toe begin hy 2oceansvibe.com skryf . . .

Deesdae bly hy in die super-luukse Cape Royale-hotel in Groenpunt. Hy rits elke dan en wan in ’n ander motor rond – vandag in ’n Audi R8, môre dalk in daardie rooi Ferrari met die nommerplaat CA3.

“Ek lei ’n droomlewe en skryf daaroor,’’ vertel hy. “Mense leen vir my spoggerige motors om mee rond te ry en gee vir my ontwerpersetikette om te dra, want ek laat lesers van my blog in my lewe deel. Ek nooi hulle uit om my filosofie, en die slagspreuk van die blog, te leef: “Werk is ’n tydverdryf; leef die vakansie.’’

Die uitsig vanuit sy privaat suite in die Cape Royale is asemrowend. Van hier kan hy die vordering van die nuwe Groenpunt-stadion doer onder mooi dophou. Mouillepunt se golwe en die lowergroen sportvelde is die volmaakte inspirasie om kreatief te raak op sy skootrekenaar.

“Kyk net daar, Macky D se 24-uur-inry-wegneemetes het net daar in die middel van die hele ontwikkeling bly sit, baie slim.’’ So iets sal Seth beïndruk, want dit is een van die geheime van sy sukses: om oral op sy webjoernaal handelsname in te weef en tot R150 000 per jaar per produk te ontvang.

Seth hakkel ’n bietjie, maar wanneer hy videogrepe vir 2oceansvibe.com laat opneem, of daaroor praat, verdwyn dit soos mis voor Kampsbaai se son.

Hy is korter as die groter as lewensgroot avitar van homself op sy blog. Maar van sy rooiraam-Ray-Ban waarsonder jy hom selde sien, tot sy pepermentgroent Puma-tekkies is Seth in lewende lywe ook ’n wandelende reklamebord.

“Ek sal nooit handelsmerke op my blog aanbeveel as ek nie daarin glo nie – al betaal hulle my,’’ hou hy darem vol.

Seth gee blog-wenke in Huisgenoot van 17 September.

Shiloh aard na pa en ma


Sy was die heel eerste baba van wie ’n wasbeeld in Madame Tussaud’s uitgestal is. ’n Twitter-bladsy is aan haar gewy, met die komplimente van haar slaafse aanhangers. Sy het al in ’n rolprent verskyn. En sy word allerweë as die mooiste meisietjie in Hollywood beskou.

En om te dink Shiloh Nouvel Jolie-Pitt is maar net drie jaar oud. Stel jou voor hoe die blonde skoonheid se lewe op 16 gaan wees!

Van die oomblik dat sy in ’n hospitaal in Namibië die eerste lewenslig aanskou het, wou die wêreld sien hoe die eerste biologiese kind van die sexyste paar in Hollywood lyk.
Haar babafoto’s is vir miljoene dollars verkoop. En toe dit uiteindelik verskyn, het dit die stoutste verwagtinge oortref. ’n Tuitmondjie, ’n bos donsige hare, appelwange, ’n perskebloeisel-gelaat – die meisietjie sou eendag pragtig wees . . .

En nou het die opskudding oor haar nog nie bedaar nie.

In 2007, toe Shiloh maar ’n jaar oud was, het die tydskrif Forbes haar al as die invloedrykste baba ter wêreld aangewys. Dit was gegrond op die aantal tydskrifvoorblaaie waarop sy al verskyn het, die hoeveelheid sentimeter wat in die drukmedia aan haar gewy is en die aantal trefslae wat sy op die internet gekry het. Suri Cruise was tweede en Zahara Jolie-Pitt derde.

Selfs in ’n reënbooggesin waarin elke lid bogemiddeld aantreklik is, staan Shiloh uit. Die dag toe Angelina van haar as net ’n ‘‘blob’’ gepraat het, vergeleke met haar ouer medespruite, is nou net ’n vae maar steeds pynlike herinnering vir klein Shi se aanhangers. En deesdae geniet Angie elke uur wat sy saam met haar dogter kan deurbring terdeë.

Lees meer oor Shiloh in Huisgenoot van 17 September.

Thursday, 03 September 2009

Eksklusief: Kyk hoe lyk Caster nou!


Sy glip ’n paar hoëhakskoene aan, staan wankelrig op en probeer haar balanseer. “Sjoe!” roep sy met ’n glimlag uit. “Hierdie skoene is baie mooi, maar ek weet nie hoe ek daarmee gaan loop nie. Ek is gewoond aan hardloopskoene!”

Sy gee ’n paar versigtige treetjies, maar raak gou die hemelhoë hakke gewoond. En dan poseer sy met haar hand op haar heup en glimlag vir die kamera. Dis ’n ander Caster Semenya dié, een wat ons nog nie tevore gesien het nie. Sy’s getransformeer. Die ene houding.

Die sweetpakke en hardloopskoene wat sy normaalweg dra, is weg. Vandag dra die 18-jarige goue meisie van atletiek die eerste keer sedert haar gr. 9-jaar weer ’n rok en laat sy vir die eerste keer iemand haar grimering vir haar doen.

Sy’t aanvanklik senuweeagtig gelyk toe sy die rokke en hoëhakskoene sien wat vir die fotosessie uitgepak is. Maar dit het haar glad nie lank gevat om geesdriftig te raak oor haar eerste glansfotosessie vir ’n tydskrif nie.

“Ek sal graag ’n rokkie wil aantrek, dankie,” sê sy opgewonde. En al het sy ’n paar skugter oomblikke, is sy kennelik dol oor haar heel eerste mooimaaksessie. Caster en ’n vriendin, Violet Raseboya (22), wat saamgekom het na die spesiale geleentheid, geniet dit gate uit.

Die gespierde atleet van Masetlong in Moletji, Limpopo, probeer nog gewoond raak aan al die aandag wat sy trek sedert sy verlede maand op die internasionale toneel gebars het.

Haar blitsige oorwinning in die 800 m vir vroue by die Wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Berlyn verlede maand het haar status as een van die beste middelafstandatlete ter wêreld bevestig – en omstrede vrae oor haar geslag geopper.

Die Internasionale Amateuratletiekfederasie (IAAF) het besluit sy moet geslagsbevestigingstoetse ondergaan – en Caster het van ’n kleindorpse atletiekster in ’n wêreldbekende naam verander.

Sien pragfoto’s van die “nuwe” Caster in Huisgenoot van 10 September.

Robbie maak vrede met God


Toe hy oor die kitaarsnare streel, het die woorde en akkoorde vanself gekom. Dit was asof hy maande se opgekropte gevoelens skielik kon verwoord, asof die liedjie in ’n stortvloed uit sy hart en mond gespoel het.

Robbie Wessels het gesing sonder om te dink aan wat hy wil sê, want hy’t uiteindelik die regte woorde gekry vir die emosies wat so lank in sy binneste gebroei het:

Daar is ’n ongekende wêreld wat my roep nou al vir maande / ek ervaar ongewone drome in my kop . . . Want ek sien strome water en vrugbare grond / ek sien twee jare later en ek voel opnuut gesond.

En toe hy daardie aand verlede jaar by sy huis in Pretoria sy kitaar neersit, het hy vir die eerste keer in jare weer lig en vry gevoel. Want Robbie het daardie aand besef hy is opnuut gebore. Hy kon uiteindelik sing oor die dinge wat hy in sy hart voel en gemaklik voel oor wie hy regtig is.

‘‘Ek het lank gevoel asof ek nie weet of ek is wie ek regtig wil wees nie,’’ sê die 28-jarige sanger met die innemende grinniklaggie maande later.

‘‘Ek was lank gefrustreerd, want ek het vasgevang gevoel. Dit het heeltyd gevoel asof iets anders aan my hart klop en asof daar ook ’n ander doel vir my is.’’

Maar toe die sanger van treffers soos Leeuloop en Bokkoors daardie aand vir die eerste keer Halleluja om die Vuur sing, was dit asof hy homself vir die eerste keer in ’n lang tyd weer regtig kon uitleef.

En ja, erken Robbie skamerig, dit kon grotendeels toegeskryf word aan sy besluit om sy Christenskap uit te leef en voortaan benewens sy grappige nommers ook meer geestelike liedjies te sing.

Die koor van sy liedjie lui immers: Ons sing Halleluja om die vuur / Glory Halleluja, God is hier.

Lees meer oor die nuwe balans in Robbie se lewe in Huisgenoot van 10 September.

Wikus, die kits-ster van District 9


Niemand kyk twee keer na die ou wat in ’n koffiewinkel in Kaapstad by ’n tafel sit nie. Hy het ’n doodgewone T-hemp en jeans aan en lyk nes elke ander rustige Kapenaar wat op ’n weekoggend warm sjokolade bestel.

Jy kan skaars glo laas maand nog het hy Amerika plat gereis, tussen 650 en 700 onderhoude aan Amerikaanse joernaliste toegestaan en op die gesogte tydskrif Entertainment Weekly se voorblad verskyn. Of dat hy persoonlik uitgenooi is na die onlangse première van Meryl Streep se nuutste rolprent, Julie & Julia in New York. Daarby vlieg hy binnekort Europa toe om ’n rolprent te gaan bemark wat vinnig op pad is om ’n mega-kultustreffer te word.

Sharlto Copley is die ster uit die niet van District 9, die wetenskapsfiksiefliek wat in sy openingsnaweek in Amerika $37 miljoen dollar (amper R300 miljoen) laat inrol het en ook hier ’n lokettreffer is. By die première in Johannesburg het fliekgangers op hom toegesak, en op Meryl se rolprentpartytjie het die fotograwe langs die rooi tapyt hom skoon met hul flitse verblind.

“Toe die nuus uitlek dat die ou van District 9 op pad is, het ’n geskreeu en ’n muur van kameras my begroet,” vertel hy. “Ek het net probeer om nie soos ’n bok voor ’n motor se kopligte te lyk nie.”

Hy is in aanvraag – dis al hoe jy Sharlto deesdae kan beskryf en dit lyk of niks hom van stryk bring nie.

“Roem is onvoorspelbaar,” sê hy in ’n aksent wat veel meer verfynd is as die een wat hy in die rolprent gebruik as hy Wikus van de Merwe, ’n tawwe uitsmyter van ruimtewesens, speel. “Dit kan net so vinnig verdwyn as wat dit kan verskyn.”

Dit lyk of hy alles fluit-fluit doen, selfs al daardie onderhoude tydens sy toer deur 11 Amerikaanse stede.

“Dit was intens, maar op ’n gawe manier,” sê hy. “As akteur gee ek nie om om ’n toneel 30 keer oor te doen nie, daarom is dit ook nie vir my moeite om onderhoude toe te staan en die vrae te beantwoord nie.”

Leer Sharlto beter ken in Huisgenoot van 10 September.

Die passie brand in Streeptruie se Joe


Nie lank gelede nie was Joe Pietersen nog een van daardie talentvolle spelers in ’n talentryke sportland wat dikwels die reserwebank moes warm hou, hunkerend na aksie op die rugbyveld. Maar nou is hy ’n sleutelman in ’n jong WP-span wat ná hul onlangse sege van 21-9 in die Haaitenk bo-aan die Curriebeker-punteleer was.

Met ander ouens voor hom in die ry, moes hy bitter lank wag vir ’n werklike speelkans. Maar bitter het hy nooit geraak nie. En toe hy die kans kry nadat die Stormers en WP se Bok-heelagter Conrad Jantjes beseer is, het hy dit onmiddellik aangegryp.

Toe Joe Pietersen laat in die Super14-seisoen met ’n knal die 2009-rugbytoneel tref, kon jy omtrent die honger en passie onder daai rugbytrui sien brand. Daarvan spreek etlike kwiksilwer-lopies en pragdrieë – wat heelparty mense aan ’n jong Percy Montgomery laat dink het – in die laaste paar Super14- en nou in Curriebeker-wedstryde.

En dan kan hy nog skop ook.
Maar hier laataand by De Zalze-gholfklubhuis digby Stellenbosch, kort voor die Nuweland-derby teen die Blou Bulle, sien jy g’n sweem van genoegdoening by die WP-heelagter nie. Net dankbaarheid.

Want hy weet: “ ’n Week is ’n lang tyd in rugby. So skielik as wat ’n kans na jou toe gekom het, so vinnig kan dit weer weggeneem word.” Maar tot dan wil dié blonde branderryer van die KwaZulu-Natalse suidkus net speel so wat hy kan.

Die kans om sy slag in Kaapse toprugby te wys, het gekom toe Conrad sy been in die Stormers se derde laaste Super14-wedstryd gebreek het. Die jongeling Liam Bax was sy plaasvervanger in daardie Nuweland-neerlaag teen die Chiefs. Vir die Stormers se oorblywende twee wedstryde het Rassie Erasmus toe vir Joe (24) uit Vodacombeker-rugby nader getrek.

En hy’t dié vertroue in hom beloon met twee skitterende drieë in die Stormers se sege oor die Western Force en met nog twee van dieselfde soort in die daaropvolgende 28-22-oorwinning in die Cheetahs se agterplaas.

Lees wat Joe oor die WP-spangees en Percy Montgomery sê in Huisgenoot van 10 September.

Martina se nuwe liefde uit Rusland


Sy was ‘‘die laaste koningin van Rusland’’, ’n Russiese skoonheid wat al met Julia Roberts, Amerika se eie Pretty Woman, vergelyk is. En toe sy Martina Navratilova, die Tsjeggiese koningin van Wimbledon, ontmoet, het albei vroue blitsig vergeet dat die liefde nog vir hulle bitter min geluk in die lewe gebring het.

Die eertydse tenniskampioen het trouens so dolgelukkig gelyk toe sy en haar nuwe liefde, Julia Lemigova, onlangs saam in St. Tropez in Frankryk vakansie gehou het, dat jy skaars kon dink haar verbitterde eks dagvaar haar nou vir miljoene.

Maar die smerige hofsaak wat wag, was klaarblyklik vergete toe Martina (52) en Julia (36), ’n voormalige Russiese skoonheidskoningin, aan die Franse Riviera ontspan het.

Die paartjie het met ringe aan hul trouvingers gepryk en daar word nou druk gegis dat die twee dalk verloof is, maar Martina swyg soos die graf daaroor.

Daar word ook gewonder of Julia die rede is waarom Martina verlede jaar haar eks Toni Layton afgesê het. Die twee is in 2000 in Amerika ‘‘getroud’’ en al word hul troue nie wetlik erken nie, het hulle ’n mondelinge ooreenkoms aangegaan om alles gelykop te verdeel as hulle sou skei, sê Toni.

Maar daar het niks van gekom nie en nou dagvaar sy Martina vir skadevergoeding van $500 000 (sowat R3,9 miljoen) omdat sy haar uit hul huis geskop het (Stroop vir dié liefde, 9 Julie 2009).

Julia, ’n gebore Rus, is die tweede skoonheidskoningin in Martina se lewe. Die tennisster se verhouding met die voormalige Mej. Texas Judy Nelson het ook in ’n eis om miljoene geëindig. Ná ’n verhouding van sewe jaar het dié ma van twee haar in 1991 vir $7 miljoen (sowat R54 miljoen) gedagvaar en later twee boeke oor hul verhouding geskryf.

Tog lyk Martina se liefdesdramas maar saai vergeleke met dié van haar nuwe liefde. Julia het in 2005 die hoofopskrifte gehaal toe haar voormalige minnaar in ’n sado-masochistiese sekssessie koelbloedig vermoor is. Julia het ’n kind by hom gehad, maar dié is op vyf maande in raaiselagtige omstandighede dood.

Met so ’n kleurryke verlede is die tergende vraag: Gaan Martina tog geluk by Julia vind of is dié nuwe liefde gedoem?

Lees meer oor Martina se nuwe liefde in Huisgenoot van 10 September.