
As hy weer ’n beroep moet kies, word hy sowaar spietkop. Want nes die manne in blou wil hy ook agter ’n bos wegkruip en karre wat te vinnig ry, van die pad af trek, grinnik Wicus van der Merwe.
Dis seker ook die rede vir sy groot treffer Spietkop op sy nuutste CD, Hooit! Aanhangers lag hulle klaar as hy lostrek daarmee. Die koortjie, op die maat van Gé Korsten se Liefling, lui: Spietkop, kan ons nie maar vergeet en vergewe . . . Spietkop, as ek sien jy’s agter my, begin ek bewe . . .
Dis amper vanselfsprekend dat Hooit! onlangs met ’n Tempo-prys vir die gewildste humor-/komedie-album bekroon is. Wicus (37) ís snaaks, sonder dat hy dit besef. Maar, laat hy gou hoor, hy probeer nie sy pa, die legendariese grapjas Tolla, se plek vol staan nie. “Daar was net een Tolla. Hy het gedoen wat hy doen en ek doen my ding.”
Tog is hy pure Tolla se kjind – daai einste plooitjies wat om ’n paar vriendelike, laggende skrefiesoë vou, dieselfde neus, warm glimlag en lekker Weskus-bry.
“Ek is ’n goeie mengelmoes van albei my ouers – nie tipies ma se seun nie, ook nie heeltemal pa se klong nie. Ek het my ma, Marita, se vinnige humeur geërf – dis net so vinnig weg soos dit gekom het – en my pa se sin vir humor, maar beslis nie sy lengte nie.”
Hy’s fieterjasieloos, dié Wicus. Met die fotonemery by sy ruim dubbelverdiepinghuis met olyfbome in Malmesbury in die Wes-Kaap, sien jy dadelik: Hy’s nie ’n ou wat heeltyd wil staan en mooi lyk voor die kamera nie.
“Ek weet nie hoe om te lyk nie, man,” sê hy verleë terwyl hy sy kitaar ongemaklik van die een hand na die ander rondskuif en terselfdertyd mooi vir die kiekies probeer glimlag. Maar sit hom op die verhoog en daar is g’n sprake van skaam wees nie.
Leer Wicus beter ken in Huisgenoot van 1 Oktober.