
Hier in hul huis in Bloemfontein sit Lucas Maree tussen sy “meisies” en dit is ’n gespot, ’n gegiggel en ’n geskud soos daar uit die maag gelag word.
Eers gaan dit oor die dik, groen strepe in sy middelste dogter, Linda (22), se hare.
“As jy so lank soos ek in ’n huis vol vroumense bly, leer jy om nie kommentaar te lewer nie,” sê die bekende Afrikaanse sanger. “Jy bly eerder doodstil en smile en knik maar net.”
Maar, reken sy drie spruite, hy wat pa Lucas is, moenie te vinnig praat nie. Want as hulle nie kyk nie, gaps hy hul rekkies vir sy eie geil boskasie.
Maar te midde van al die ge-skerts lê ’n somber feit onuitgesproke tussen hulle: prostaatkanker. Tog sal die 57-jarige sanger wat die woorde “ek kan doen met ’n miljoen” met sy eerste CD beroemd gemaak het, nie gaan lê nie.
Die lagbuie verjaag die depressie wat soms vir hom grom en blaf, sê hy.
“En ek doen oumenskarate.” Hy demonstreer op die plek ’n paar tai chi-bewegings op die grasperk.
Sy oudste, Monica (26), ook ’n sanger in sy groep, Lucas En Kie, vertel hoe haar pa op pad terug van vanjaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees amper groot konsternasie veroorsaak het. Hulle het langs die pad stilgehou en Lucas het sommer net daar tai chi begin doen.
“ ’n Motoris wat gedink het sy grasieuse armbewegings is ’n hulproep het met skreeuende bande stilgehou,” vertel sy laggend. Die man het amper sy kar omgegooi. Die klompie het eers groot geskrik en toe uitgebars van die lag. Hulle het hom verseker dis geen noodgeval nie – net Lucas wat besig was om innerlike vrede te vind.
Prostaatkanker is sowat ’n jaar gelede by hom gediagnoseer. Wat begin het as ’n gesukkel om te urineer het op ’n operasie uitgeloop en die meeste van sy prostaat is verwyder.
Hy het hom yskoud geskrik toe hy die k-woord hoor en was vies vir homself omdat hy nie jaarlikse prostaatondersoeke laat doen het nie.
Lees die res van die onderhoud en ook wat prostaatkanker is in Huisgenoot van 5 November.






















