
Weke lank al bel en SMS hulle mekaar en het hulle die een geheime ontmoeting ná die ander. En hier’s die bewys, vasgevang op foto’s: Die derde aanspraakmaker op die Britse troon en sy sexy blonde meisie is weer bymekaar.
Nadat hulle die aand in ’n spoggerige kroeg in Londen omgekuier het, is prins Harry en Chelsy Davy die eerste keer weer saam afgeneem sedert hulle 10 maande gelede uitmekaar is. En mense in die binnekring sê die paar verkneukel hulle daarin om mekaar van nuuts af te leer ken en seker te maak dat dinge hierdie keer tussen hulle werk.
‘‘Hulle sal nie in die openbaar hande vashou nie en kruip weg vir die paparazzi, maar hulle is beslis weer bymekaar,’’ sê ’n vriend.
In die klub het hulle ure lank gesels en net oë gehad vir mekaar. ‘‘Dit het nie gelyk of hulle omgee om vir almal te wys hulle is weer saam nie,’’ sê ’n bron by die eksklusiewe nagklub Whisky Mist. ‘‘Hulle het almal dié aand aan die praat gehad. Hulle was nogal lank lekker knus saam in die BBP-area.’’
Die twee het aan Porn Star-martini’s en Dom Perignon-sjampanje geteug en tot middernag saam met Harry se niggies Beatrice en Eugenie gekuier. Dis ’n goeie teken, sê bronne. ‘‘Hy sou haar nie saamgeneem het om sy niggies te sien as hulle nie weer bymekaar was nie. Hy is in die wolke dat hulle weer saam is.’’
Die koninklike rooikop wat verlede maand 25 geword het, was verpletter toe die 24-jarige Chelsy hom aan die begin van vanjaar afgesê het – en dit nogal op Facebook (Soentjies, sonneskyn en sespakke, 5 Februarie). Dit was ’n ope geheim onder sy vriende dat hy wat sou gee om met sy eerste liefde herenig te word.
Lees wat Harry en Chelsy se vriende oor hul hereniging sê in Huisgenoot van 22 Oktober.