Friday, 23 October 2009

Einde van die pad vir Santana


Hy het ’n groot neus, ’n vlesige gesig vol akneeletsels en ’n frons wat jou aan ’n bulhond laat dink. Maar Joel Santana is nie hier om ’n skoonheidskompetisie te wen nie; hy is hier om ons nasionale span te red. En hy gaan dit op sy manier doen – met baie emosie, streng dissipline en ’n milde skeut liefde.

So het ons verlede jaar geskryf kort nadat die 60-jarige Brasilianer aangestel is (Maak nou vir Pappa trots!, 5 Junie 2008). Destyds was min bekend oor Joel, behalwe dat hy nog nooit ’n nasionale span afgerig het nie, ’n bietjie sukses op klubvlak behaal het en ’n paar van sy eie afrigtegnieke gehad het.

Ons was toe bereid om versigtig optimisties te wees oor die vooruitsig van ’n ou wat plat op die aarde klink, jeans en T-hemde dra, bitter min Engels kan praat en tog vertel hy verstaan die universele taal van sokker.

Hy kon nie die taal praat toe hy klubs in Saoedi-Arabië of Japan afgerig het nie en was baie gewild daar, het hy trots vertel. “Die Japannese gee nie drukkies en soentjies nie, maar die aanhangers het elke dag vir my blomme en lekkers gebring. Die spelers het my selfs Pa genoem.”

Joel is natuurlik rojaal vir sy werk vergoed – ’n koel R1,5 miljoen per maand – “30 keer meer”, het hy self gesê, as by sy vorige werk toe hy die Brasiliaanse klub Flamengo afgerig het.

Hy het streng dissipline in die span ingebring – hy was nie ’n man vir partytjies nie. “Ons wil nie engeltjies hê nie, maar ook nie boewe nie. Spelers het respek en verantwoordelikheid nodig. Ek probeer dinge eenvoudig en nederig doen.” Maar wat hy ook al probeer het, dit het net nie gewerk nie.

Lees oor Joel se grootste flaters in Huisgenoot van 29 Oktober.