
Hy is die een wat Morné Steyn se skoene moet vol staan elke keer wanneer die skopkoning vir die Springbokke gaan speel. En ons weet almal dis gróót skoene.
Maar wanneer Burton Francis die geleentheid kry, staan hy stewig in daardie tokse. Hiervan getuig die 53 punte wat die Bulle se plaasvervanger-losskakel al die afgelope seisoen met sy skopskoen opgestapel het.
G’n wonder nie sportskrywers reken hy is ’n Bok van die toekoms en moet voorberei word om vir die Springbokke te doen wat hy nou met soveel sukses vir die Bulle doen – om as losskakel uit te draf as beserings Morné dalk die dag van die veld af hou. Daarby reken hulle hy het die taktiese vaardighede wat die spel op internasionale vlak nodig het. Duidelik word groot dinge van hierdie jong speler verwag.
Op 22 het Burton al diep spore op Loftus se veld getrap en daar is selfs mense wat sê hy kan eendag die paadjie stap van vorige Loftus-lieflinge op losskakel soos Naas Botha, Derick Hougaard en Morné Steyn.
Hy bring al van 2006 af sy kant, toe hy vir die Bulle in die Absa-o.19-reeks gespeel en hulle die beker huis toe gebring het. ’n Jaar later, toe op heelagter, het hy die o.21-Bulle gehelp om die naaswenners te word. Die volgende jaar is Burton vir die Vodacombekerspan gekies en weer was sy span die wenners. Vanjaar het sy spelvernuf die Bulle se Super14-keurders so beïndruk dat hy die dag ná die Vodacom-eindstryd sy debuut teen die Brumbies gemaak het.
Jaar ná jaar het Burton se skopskoen ’n reuse rol gespeel in sy span se sukses. Hy het gewys hy is nie net ’n goeie spanspeler nie, maar blink ook individueel uit. Daarom was hy verlede jaar Vodacom se speler van die jaar.
En dit was toe onafwendbaar: Die keurders van die Bulle se topspanne kon hom nie meer miskyk nie. Hy was skielik ’n gereelde gesig in die Curriebekerspan en vanjaar ook lid van die Super14-Bulle.
Maar ongelukkig het Burton meestal in die skadu van Morné Steyn gestaan en die meeste van die wedstryde op die reserwebank begin. En hoewel hy weet hoe belangrik sy rol as plaasvervanger was in die Bulle se oorwinning in die Super14 en hul sukses in die Curriebeker, is hy nou klaar tweede viool gespeel.
Lees meer oor Burton se geskiedenis en toekomsideale in Huisgenoot van 5 November.