Thursday, 15 October 2009

Eksklusief: Theuns en Elizma maak ’n fliek


’n Skaap blêr oor die Karoo-vlaktes. “Nog ’n kee’, asseblief,’’ roep die gryskopman met die donkerbril in ’n swaar Engelse aksent. ’n Blondekopvrou klim nogmaals in ’n beige motortjie langs die teerpad en sy en ’n meisietjie met ’n rooi sonbril op die kop doen nogmaals hul ding.

“Perfect!” gil die grys ou en gee ’n sprongetjie in die lug, arms omhoog. Dis Darrell Roodt, die man agter die Oscar-benoemde fliek Yesterday, en die blondine is niemand anders nie as die sanger Elizma Theron.

Darrell-hulle is almal hier in die Noord-Kaapse dorpie Loxton om die bekroonde skrywer Deon Meyer se Afrikaanse fliek Jakhalsdans te skiet en Huisgenoot is eksklusief op die stel. Dis dag twee, en Lena Visagie, ’n Loxtoner, het kom inloer.

“Ek sien daar is Bart van 7de Laan ook,’’ sê sy en wys na Neil Sandilands, assistent-regisseur en ook ’n speler.

Darrell beduie iets aan ’n stoppelbaard-ou wat op ’n muurtjie sit in ’n langerige kakie-kortbroek en plakkies. Dis sowaar die rasperstem-sanger Theuns Jordaan.

Hy speel Ruan Landman, sy eerste akteursrol ooit en nogal die manlike hoofrol in ’n fliek.

Sjuut, maak Darrell almal stil, en Theuns trek weg – heel behendig vir ’n man wat nog nooit in ’n moewie was nie.

“Fantastic,’’ gil Darrell, verskriklik opgewonde.

Maar die nuwe ster voor die kameras bly sy ou beskeie self. “Jong, ons kyk maar,’’ sê hy.

Deon is natuurlik ’n wêreldbekende en bekroonde misdaadskrywer, maar dis ’n liefdesverhaal wat die rolprentspan hier na Loxton gebring het, een wat vier jaar gelede al in sy kop begin rondsweef het. Verlede jaar het hy toe begin skryf.

Hy’t ’n huisie op Loxton, vertel die skrywer, maar die naam van die fliek kom van die plaas hier buite die dorp waar hy op ’n keer met ’n veldmotorfiets-byeenkoms so lekker gekuier het.

“Die mense en die landskap is wonderlik en daarom het ek besluit om die fliek so te noem.’’

Lees meer oor Jakhalsdraai in Huisgenoot van 22 Oktober.