Friday, 30 October 2009

Darren Scott skud die kilo’s af


Ons herken Darren Scott skaars, want die SuperSport-aanbieder en platejoggie van Jacaranda FM is nie meer die stewige kêrel van vroeër nie. Hy is nou ’n volle 38 kg ligter as net sewe maande gelede en hy lyk gesonder as ooit tevore.

Maar Darren is nog dieselfde platjie wat jou eers met ’n uitdrukkinglose gesig vertel sy dramatiese gewigsverlies is danksy ’n operasie waarin sy maag gekram en sy dikderm verkort is. Dan glimlag hy ondeund en laat die aap uit die mou: Dis alles danksy leefstylveranderinge.

‘‘Ek het my hele dieet verander,’’ sê hy en teug aan ’n koppie swart koffie sonder suiker. ‘‘Ek voel fantasties en het meer energie as tevore.’’

Hy drink nie meer 10 koppies koffie per dag nie, net vier. Dis een van sy min oorblywende sondes, saam met die rookgewoonte. En hy drink baie minder drankies, al het hy steeds sy kosbare Jack Daniels-versameling. Die gebraaide en vetterige kosse en bruisdrankies soos Red Bull los hy nou vir ander.

‘‘Daar is geen gemorskos meer in my lewe nie,’’ sê die 45-jarige radio-aanbieder van die ontbytprogram Just Plain Breakfast wat pas met ’n Suid-Afrikaanse Radio-prys vir die innoverendste program bekroon is.

‘‘Ek bring baie tyd in ateljees en radiohokkies deur en dit is baie maklik om in die slagyster te trap en sommer gou ’n hamburger en skyfies te bestel.’’

Maar nie meer nie.

‘‘Dit is die nuwe Darren dié,’’ sê hy vol selfvertroue. “Dis die Darren van die toekoms.’’

Lees meer oor Darren se ommekeer in Huisgenoot van 5 November.