Friday, 28 August 2009

Kass Naidoo wys haar baba


Hy kom groet ons by die deur. Sy groot, bruin oë skitter en ’n breë glimlag verhelder sy gesig. Sy ma druk hom styf teen haar bors vas en fluister: “Sê hallo, Daniel,” en die ses maande oue baba begin behoorlik op bestelling in babataal babbel.

“Hy is so ’n gelukkige baba,” sê Kass Naidoo trots en gee haar seun vir haar man, Ryk Meiring, om in die kombuis van hul elegante woonstel in Killarney, Johannesburg, koffie te skink. “Hy babbel altyd, seker omdat ek baie met hom gepraat het toe ek swanger was.”

Moederskap voel vir haar so natuurlik, sê Kass, voormalige krieketkommentator en nou handelsmerkbestuurder by Krieket Suid-Afrika. Sy en Ryk, ’n prokureur aan die stuur van die egpaar se gsport-projek wat op vroue in sport fokus, kan eintlik skaars onthou hoe die lewe was voor Daniel daar was. En vandag het die twee ingestem om hul oogappel vir die heel eerste keer vir die kameras te wys.

“Ek het vanoggend met Daniel gesels,” sê Kass (31). “Ek het vir hom gesê hy moet sy beste voetjie voorsit wanneer Huisgenoot kom.” En soos ’n soet seun het hy na sy ma geluister en glimlag hy soos ’n veteraan elke keer wanneer die kamera in sy rigting draai.

Kass wys ons die woonstel waarin sy en Ryk (43) nou al agt jaar bly. Dit is in ’n eksklusiewe gebou waar ook Tito Mboweni, die uittredende president van die Reserwebank, bly – die wagte in die voorportaal hou ’n ogie oor hom.

“Ons is dol daaroor,” sê Kass en wys ons die swembad en die netjiese tuine onder, die reuse vensters wat baie lig inlaat en die glimmende blokkiesvloere. “Wanneer Daniel ouer is, sal ons dalk na ’n groter plek moet trek, maar ons wil nog nie daaraan dink nie.”

Lees hoe Kass se planne vir ’n tuisgeboorte verydel is in Huisgenoot van 3 September.

Driekie: Gelukkig en swanger


Wat ’n skok: dat die aartsfeeks Driekie so laag kon daal om haar skyn-swangerskap in ’n kamtige bloederige “miskraam” langs die rugbyveld te laat eindig. Haar huwelik met die rugbyspeler Dries is op die rotse, maar sy maak steeds sulke sluwe planne om hom te probeer behou.

Vir Ciske Kruger (25), Driekie in die TV-reeks Getroud met Rugby, kon dié grillerige toneel dalk ’n paar koue rillings besorg het, want sy is self hoogswanger, met die baba wat middel vandeesmaand haar opwagting moet maak.

Dis haar en die akteur, draaiboekskrywer en MK-aanbieder Ivan Botha (23) se eersteling, en die afwagting is iets ysliks.

‘‘Ja, sy was ’n bietjie onverwags,’’ erken Ivan op die voorstoep van hul huis in Melville, Johannesburg, terwyl hy liefderik oor Ciske se maag vryf. Hulle wou immers eers oor twee jaar met ’n gesin begin. ‘‘Maar nou is ons hel opgewonde!’’ som hy dit netjies op.
Ivan is ook nou in Getroud met Rugby te sien as die jong seun Dewald, en kykers kan hom van Desember af in 7de Laan verwag.
Sommige sal hom ook onthou as die bleeksiel Wimpie Koekemoer wat verlede jaar in die rolprent Bakgat! gespeel het. Ciske was die matriekmeisie met die skerp tong, Christi Barnard.

Maar deesdae is sy net die ene moederlikheid. Die baba-kamer is gereed en versier met prente en sketse wat sy self gemaak het.

In die kas is daar stelle kleertjies en skoentjies. Die gerestoureerde babawaentjie wat uit die 1950’s dateer, staan in die hoek.

“Nou tel ons net die dae af!’’ sê Ciske blinkoog, en teug aan haar vrugtesap. Selfs koffie het in die stof gebyt toe sy hoor sy is swanger. Dit was juis in dié tyd dat Driekie se skyn-miskraam verfilm is.

Lees meer oor Ciske en Ivan in Huisgenoot van 3 September.

Caster: ʼn Vrou en ʼn superster


Daar’s niks besonder meisierigs aan die kamer wat sy in ’n studentehuis op die kampus van die Universiteit van Pretoria deel nie. Dis yl versier en daar is nêrens valletjies of plakkate van sexy ouens nie. Maar dis ongetwyfeld ’n jong vrou wat snags hier slaap.
Die duvet-oortreksel is met blomme versier, ’n sagte tier, ’n hondjie en ’n dodo rus teen die kussing, daar is ’n silwer raam met ’n foto van twee glimlaggende meisies op die boekrak en alles is op sy plek.

“Caster hou nie van ’n deurmekaarspul nie,” sê Zintle Sinqe (18), Caster Semenya se kamermaat en ’n mede-atleet by Tuks. “En sy is dol oor mooi goed.

“Sy dra meestal sweetpakbroeke omdat sy altyd oefen, en sy het in gr. 9 laas ’n rok gedra. Maar sy het nou die dag gesê sy wil noupyp-jeans en spykerhakskoene koop en sy wil graag vir ’n manikuur gaan.”

Zintle en haar huismaat die Banyana Banyana-sokkerspeler Simphiwe Dludlu (21) plof op die bed neer. Hulle trek net hul skouers op oor die opskudding weens die Internasionale Amateuratletiekfederasie (IAAF) se besluit om geslagstoetse op hul 18-jarige vriendin te laat doen. Hulle twyfel immers nie oor haar nie.

Maar hulle weet ook dié dinge sal Caster nie koud laat nie. “Sy is baie sterk, maar sy is net ’n mens,” sê Simphiwe. “Vroeër of later gaan sy huil oor alles wat hulle oor haar sê.”

Voor sy Duitsland toe is, het Caster juis vir haar gesê dalk moet sy in klein broekies en ’n bra begin hardloop sodat mense kan sien sy is ’n vrou . . .

En al probeer sy mense se opmerkings aflag, hou sy nie daarvan nie. “Sy vind dit baie ontstellend, hoewel sy probeer aanvaar dat mense haar altyd anders sal behandel.

Lees meer oor wat Caster se familie oor haar sê in Huisgenoot van 3 September.

Muriël: My hart is weer heel


Miskien is dit die vars lug, die rustigheid van die landelike lewe. Of dalk is dit die geborgenheid van ’n hegte en liefdevolle gesin wat Muriël Lategan se gees so goed doen.

Tussen die smaraggroen heuwels van Moorreesburg het sy die afgelope maande weer rus vir haar siel gevind ná ’n traumatiese jaar waarin sy die een oomblik nog met die sanger Dozi getroud was, en toe sy haar oë uitvee, ’n geskeide vrou is. Op 24 jaar . . .

As jy haar so opgekrul op ’n bank in haar ouma se gesellige voorhuis sien sit, is dit moeilik om te glo dié borrelende, ongekunstelde plaasmeisie met die Swartlandse brei is deur diep water. Sy het die stukke van haar lewe weer opgetel, en al dink sy nog elke dag aan Dozi – sy regte naam is Hendrik Opperman – is dit nie meer met trane en verwyte nie.

En met die skeisaak wat laat verlede maand finaal afgehandel is, is sy weer net Muriël Lategan, soos voor haar sprokies-prins haar voete onder haar uitgeslaan het.

Dit voel soms nog onwerklik dat haar huwelik so ontspoor het, sê sy. Dis asof dit ’n tragedie in iemand anders se lewe was of ’n storie in ’n fliek.

Dis ook harde werk wat die seer help verdryf het. Soggens sesuur is sy al op om in die familie se deli op die dorp te werk – sy en ma Marinda in die bakkery en pa Nicky en ouboet Nicklaus in die slaghuis.

En naweke staan Muriël en Marinda bont om vir onthale spyseniering te doen, ’n familietradisie al van die dae toe haar ouma Lolita Hanekom ’n legende in die kontrei was.

Met soveel om te doen en so baie liefde om haar is daar nie tyd vir negatiewe gedagtes nie, sê Muriël.

‘‘Ek is omring deur mense wat lief is vir mekaar. My ma en pa is nog so verlief, ’n mens sou sweer hulle het mekaar gister ontmoet. Almal is gelukkig, veral met die nuus dat my skoonsus nou swanger is. Die vreugde is aansteeklik. Maar ’n paar maande gelede was dit ’n ander storie . . .’’

Lees oor Muriël se aanvanklike wroeging in Huisgenoot van 3 September.

SA se grootste fliekpremière ooit


Hulle het vooraf gesê dis die grootste fliekpremière nog in Suid-Afrika, en toe 1 500 fliekgangers die rooi tapyt by The Zone in Rosebank deurtrap, was sien glo. Die resensente is mal oor District 9, ’n Hollywood-produksie van die vervaardiger Peter Jackson van Lord of the Rings-faam wat in Johannesburg en Soweto geskiet is. Terwyl wetenskapsfiksie-geesdriftiges meer as ’n uur lank tougestaan het om eerste dié fliek op eie bodem te sien, het die BBP’s by ’n glansgeleentheid saam met die akteurs gekuier. Die veteraan-akteur Kenneth Nkosi, wat almal onlangs in die plaaslike komedie White Wedding aan die lag gehad het, speel ook hierin. ‘‘Voor ons District 9 gemaak het, was ek nie werklik ’n groot aanhanger van wetenskapsfiksie nie. Dit is iets wat ek nog nooit gedoen het nie en is ’n heel nuwe soort karakter vir my,’’ het Kenneth vertel. ‘‘Ek het ’n baie sexy uniform gedra, maar hulle het gesukkel om my maag toe te kry,’’ het hy laggend bygevoeg. Vanessa Haywood, wat die vroulike hoofrol vertolk, het verklap dat Hollywood se liggies haar nou lok. En in haar elegante Malcolm Klûk-rok, volmaak afgerond met Roberto Cavalli-skoene, het sy glad nie afgesteek by enige internasionale A-lys-aktrise nie. ‘‘Ek gaan so gou moontlik LA toe. As ek dit regkry, kry ek dit reg, en indien nie, sal ek weet ek het probeer,’’ het sy gesê. Ons hou duim vas!

Kry nog plaaslike vermaaknuus in Huisgenoot van 3 September.

Friday, 21 August 2009

Bryan gereed vir sy grootste dag


Dit sal ’n sprokiestroue so reg uit ’n feëverhaal wees, kompleet met ’n beeldskone prinses en ’n sjarmante prins.

Ja, op 20 September haak die Springbok-vleuel Bryan Habana met Janine Viljoen af. Presies waar, bly nog ’n geheim. Maar die gaste is genooi, die trourok is amper klaar en die feesmaal en die troukoek is ook al bestel.

Nou tel hulle net die dae af tot die groot dag . . .

Met Bryan kan dit nie beter gaan nie. Hy het sy droomvrou aan sy sy en sy rugbyloopbaan is weer goed op dreef. Hy het onlangs vir sy 50ste toets in die Groen-en-Goud uitgedraf en plaaslike en oorsese rugbyklubs staan tou om dié drieë-vraat op te raap sodra sy kontrak met die Blou Bulle op 31 Oktober verstryk.

Te midde van die Drienasiestoernooi en al die reëlings het die besige rugbyster en sy verloofde tyd afgeknyp om eksklusief met Huisgenoot te gesels oor hul groot dag.

Die troue sal beslis een van die grootste glansgeleenthede op die sosiale kalender wees.

Hy moet bieg, sê Bryan: Hy was so besig met sy rugby dat Janine eintlik maar vrou-alleen die troue moes reël.

Gelukkig is die troubeplanner en hul familie en vriende daar om te help.

‘‘Janine en haar helpers het die meeste van die goed gedoen. Ek is maar net ’n bysaak,’’ lag hy.

Maar hier waar ons in die ontwerper Biji se ateljee in Hurlingham in Sandton gesels, het die twee net oë vir mekaar.

Romanties is Bryan (26) beslis – toe hy in Desember die jawoord gevra het (Tiger en die prinses, 12 Februarie), het hy groot moeite gedoen om haar met ’n spesiale kersligete in die Kings Tower in die Palace of the Lost City te verras.

Lees meer oor Bryan en Janine se komende sprokiestroue in Huisgenoot van 27 Augustus.

Margit wys haar kleine Dolla


Alte vroom lê sy in haar bekende mamma se arms, knus toegewikkel in ’n kleurryke kombersie met piepklein handjies wat op ’n koue wintermiddag maar net nie onder die warm kombersie wil bly nie – ’n regte klein vertoonpop.

Maar Mamma verdien mos juis haar brood en botter in die vermaakwêreld.

“Sy’s dol oor mense en musiek. En haar handjies is nooit stil nie,’’ sê ’n trotse Margit Meyer-Rödenbeck, ook bekend as Dowwe Dolla, die vlymskerp blondine met die stokkielekker wat haar mond vir niemand hou nie.

Vandag sien ons ’n ander sy van dié vermaakkunstenaar hier in die sitkamer van haar en manlief Jurg Human se huis in Proteavallei, Bellville. Die paartjie het nou net oë vir die twee maande oue Luca, hul papsagte bloedjie wat die fraaiste geluidjies maak en al klaar haar ouers om daai piepklein pinkie van haar gedraai het.

Nee kyk, dié lekker is ’n lekker wat hulle vir niks ter wêreld verruil nie, verseker albei gou. “Ons katkinders het sommer nou oornag gewone katte geraak; hulle mag nie meer in die kamers kom nie,’’ spot Margit en wys dan na Trixie die kat wat nou sommer plat op haar rug uitgestrek op die vloer lê – pure aandag trek.

“Maar die katte is nie jaloers op Luca nie. Jy moet sien hoe kom hulle aangehol as sy begin skree, tog te nuuskierig.’’

Sy erken sy het “absoluut niks’’ van pienkvoetjies geweet voor haar klein patroon haar opwagting gemaak het nie. Sy kon nie eens ’n doek omruil nie.

En toe kom hul eersteling, wat eers op 12 Augustus haar opwagting moes maak, 10 weke vroeër, vasbeslote om haar ouers te verras.

“Die dokters het agterna vasgestel dat ek ’n blaasinfeksie gehad het waarvan ek onbewus was, en dit het die kraamproses aan die gang gesit.

“Voorheen het ek nooit ander mense se babas opgetel nie, maar met Luca is dit heeltemal anders; my moederinstink het gou ingeskop,’’ sê die sprankelende komediant.

“Ek kan net nie genoeg van haar kry nie.’’

Lees meer oor Margit se kleinding in Huisgenoot van 27 Augustus.

Miley se kleinsus op nege al oorryp


Dis om van siek te word – Noah Cyrus verf Los Angeles al weer rooi. Met haar gesiggie gegrimeer, handjies gemanikuur en die dogtertjielyfie in sjoebroekies en stywe hempies geprop, wals sy deesdae die dorp vol. En wanneer die kameras begin flits, poseer sy onbeholpe met een been kamtig verleidelik voor die ander.

As dit nie so hartverskeurend was nie, kon dit komieklik gewees het. Want die opkomende jong ster Noah Cyrus, die jonger sussie van Miley Cyrus van Hannah Montana-faam, is net nege jaar oud.

Hier kom ’n ramp as jy al ooit een gesien het.

By die onlangse Teen Choice-toekenningsaand in LA het Miley die oë laat rek toe sy in ’n swart sjoebroekie en stewels gepaaldans het. Maar dit was haar kleinsus se kaskenades by ’n partytjie vooraf wat eintlik die tonge laat klap het.

Noah en ’n groep vriendinne het soos wafferse verleidsters aan ’n paal gehang en daarom gedans.

En dis nie die eerste keer dat sy haar te groot vir haar skoene hou nie. In Junie het sy en haar beste vriendin en niggie, die agtjarige Emily Grace Reaves, in baaikostuums op die rooi tapyt by ’n 19-jarige aktrise se verjaardagpartytjie poseer. Wat die tweetjies in die eerste plek daar gesoek het, weet niemand.

By die partytjie het Noah Red Bull weggesluk, en op ’n video lyk dit amper asof sy te veel van die energiedrankie ingekry het, want Emily moet haar vashou om haar tot bedaring te bring.

Een ding is seker: Sy’s nie ’n tipiese negejarige nie. Nie as jy so kyk na haar Twitter-blad nie – jip, sy het een. Daarop praat sy van haar besige sosiale lewe . . . soms tot in die vroeë oggendure.

Sterre soos Selena Gomez, Demi Lovato, Katy Perry en die Jonas Brothers tel onder haar vriende, en sy het meer as 99 000 volgelinge op Twitter. Ook ’n videoblog op YouTube wat sy en Emily begin het, The Noie & Ems Show, wordoorval deur bewonderaars.

En sy is ook glad nie verleë oor al die aandag of skaam om met ’n pruilmondjie soentjies vir die fotograwe te blaas nie.

Lees hoe jy jou kind kind kan laat bly in Huisgenoot van 27 Augustus.

Hanli is g’n stuk soos Lanie


Sy’s ’n ware dienende Martha, altyd daar vir Schalk, die grootmeneer-rugbyafrigter van die Stryders in die TV-reeks Getroud met Rugby. Ja-nee, vir Lanie sou jy nooit daarvan kon beskuldig dat sy ’n lewe van haar eie het nie . . .

Ontmoet dan vir Hanli Rolfes-Opperman – Lanie in die werklike lewe – en dis soos dag en nag. Die gedienstige mevroutjie op die skerm is ’n dinamiese vrou wat vyf tale praat, verlede jaar nog ’n graad verwerf het – dié keer ’n M.B.A. – en medeskrywer van Getroud met Rugby.

Hanli (38) is ook getroud met Deon Opperman (47), die dramaturg en hoofskrywer van die reeks. En was dit nie vir haar nie, het die reeks wat kykNET-kykers nou aan die praat het, dalk nooit die lig gesien nie.


Sy en Deon was drie jaar gelede in hul kombuis toe sy by hom wou weet ‘‘wat is eie aan onskul-tuur”. Die antwoord was voor die hand liggend: rugby.

En so is die reeks gebore.

Hanli is nie al karakter wat die dramas en intriges help uitdink nie. Sandra Vaughn, vrou van die veteraan-akteur Pierre van Pletzen, beter bekend as Oubaas van 7de Laan, speel Anke in die reeks en is ook ’n medeskrywer.

Maar hoe weet twee vroue wat in die binnekringe van rugby aangaan? Maklik – jy doen navorsing. So het die twee toe saam met ’n paar rugbyspelers se vroue gaan eet om meer oor die binneverhale te hore te kom.

Die naam van een van die karakters, Splinterboud, het juis uit daardie kuier gekom. Maar die res het alles in hul eie kombuis uitgebroei, sê Hanli.

“Navorsing help om dinge in die verbeelding in die regte konteks te kry, maar daarna moet die verbeelding begin werk.’’

Sy was ook medeskrywer van die reeks Kruispad wat verlede jaar op kykNET uitgesaai is.

En met die meestersgraad in sake-administrasie van Wits en ’n honneursgraad in drama agter haar naam, wil sy binnekort van nuuts af begin swot – dié keer sielkunde, sodat sy die koppe en die harte van haar karakters nog beter kan verstaan . . .

Lees meer oor Hanli in Huisgenoot van 27 Augustus.

Usain Bolt, weerlig op twee bene


Dit was die oomblik waarna almal uitgesien het en dit was in net meer as ’n oogwink verby. Maar daardie skrapse 9,58 sekondes was genoeg om Usain Bolt se status as een van die skitterendste atlete van alle tye net nog verder te verstewig.

Die 1,95 m lange naelloper het die skare oorgenoeg gegee om oor te juig toe hy onlangs by die IAAF-wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Berlyn, Duitsland, sy eie 100 m-wê-reldrekord met net 42 treë verbeter het. Daarmee het hy ook die kritici se monde stil gehardloop – al die ouens wat gesê het al rede waarom hy by verlede jaar se Olimpiese Spele in Beijing so goed gevaar het, was dat sy beseerde Amerikaanse teenstander, Tyson Gay, nie kon deelneem nie.

Almal se monde het oopgehang toe die Jamaikaanse renmasjien verby Tyson blits en spoggerig die eindstreep oorsteek. Toe begin hy voor sy aanhangers pronk. Hy het sy flambojante pyl-en-boog-beweging gemaak, saam met sy spanmaat Asafa Powell (wat derde gekom het) ’n uitbundige danspassie uitgevoer en lustig met die kamera flankeer.

Die atleet, wat op 21 Augustus sy 23ste verjaardag gevier het, het nou eens en vir altyd bewys hy is die beste menslike naelloper op aarde.

‘‘Ek is net bly ek het gewen. Maar ek het gesê enigiets kan gebeur en dit het,’’ het hy vir die skare verslaggewers en fotograwe gesê toe hulle ná die wedloop op hom toesak. ‘‘Ek stap nooit op die baan uit endink oor wêreldrekords nie. Ek is tevrede met myself. Nou wil ek nog beter vaar.’’

Lees meer oor dié merkwaardige atleet in Huisgenoot van 27 Augustus.

Friday, 14 August 2009

Al weer drama om Ludwig die boer


Die hartebreker-boer van Ficksburg word nou die nuusmaker-boer van die jaar. Die poppe bly dans rondom Ludwig Oberholzer.

Eers het hy kykers van die TV-reeks Boer Soek ’n Vrou laat regop sit toe hy ’n meisie uit ’n ander boer se nee-dankie-groepie onder sy eie topvyf kies. Toe maak hy weer moles deur soos ’n steeks donkie te verseg om mee te doen aan die dansles waar hy en sy vyf potensiële troumeisies mekaar beter moes leer ken.

Kykers het met groot oë gekyk hoe Ludwig uit die dansplek storm – op die oog af vererg oor die swart instrukteur wat hulle moes touwys maak.

Die tonge was nog aan die wikkel oor dié vloermoer, toe bars nog ’n bom om die dwarstrekkerboer se kop met ’n onthulling oor sy affair met ’n getroude boervrou, Karien Martinson.

Haar nou gewese man, Pieter van Wyk, het Ludwig nege jaar gelede met ’n pistool van die plaas verjaag, en in onderonsies daarna het die twee mekaar met die vuiste bygekom. Etlike hofsake het toe oor drie jaar voortgesleep voor die aanklagte laat vaar is.

Al dié dramas is nou geskiedenis en skeel hom min, sê Ludwig. Karien se huwelik was lank reeds op die rotse toe hulle by mekaar betrokke geraak het. Hulle was uiteindelik vier jaar lank openlik in ’n verhouding en is steeds op goeie voet.

‘‘Mense wat ons ken, ken die ware storie. Daar is geen geraamtes in my kas nie,’’ sê hy.

Hy hou vol die dansfiasko is die skuld van die reeks se vervaardigers omdat hulle hom doelbewus in ’n onnatuurlike situasie gedompel het.

Lees meer oor die drama om Ludwig in Huisgenoot van 20 Augustus.

Eden se seuns nou sexy pappas


Die manne van die sanggroep Eden gooi hul sexy lywe op die verhoog rond. “Net een oomblik, net een oomblik,’’ sing hulle.

Dit klink soos ’n tipiese Eden-treffer met ’n ritme wat jou voete laat saamtik en ’n aansteeklike refrein. Maar dan stap ’n wildvreemde man met ’n breë glimlag en ’n mikrofoon in die hand op die verhoog en sing dié splinternuwe liedjie woord vir woord saam.

Hy is die man van die oomblik, die man van die aand. Net enkele minute tevore het Christiaan Kritzinger (26) gehoor hy is Huisgenoot se liedjieskryf-koning – en daarmee ook R30 000 ryker.

Dan, toe die Eden-manne hom kans gee om ’n vers alleen te sing, raak die oomblik te groot en vergeet hy skoon die woorde wat hy self geskryf het. Maar Christiaan laat hom nie onderkry nie en tot groot vermaak van die gehoor maak hy sommer nuwe woorde op soos hy sing.

Hulle kon onmiddellik hoor dié liedjie is die wenner, vertel Johan Vorster van Eden, ’n beoordelaar en self een van ons land se top-liedjieskrywers. Net so vinnig kon die ander manne van Eden hoor die liedjie, Net Een Oomblik, gaan hul volgende groot treffer wees.

Daarom het die tweemalige Sama-wenners dadelik die kans aangegryp om die liedjie op te neem vir die nuwe Tempo-album wat eksklusief einde vandeesmaand saam met die nuutste uitgawe van ons kwartaallikse musiekblad, Huisgenoot-Tempo, weggegee word. Maar die liedjie het die Eden-manne so beïndruk dat hulle dit ook op hul volgende album gaan insluit.

Lees meer oor die Eden-manne en Christiaan se wenliedjie in Huisgenoot van 20 Augustus.

Tempo: Al die wenners


IDié keer was dit Huisgenoot se beurt om dankie te sê . . . En ons het dit met styl gedoen! Die grootste sterre in die plaaslike musiekwêreld het saam kom rinkink toe die wenners van Huisgenoot se gesogte Tempo-pryse op 11 Augustus by Emperors Palace in Kempton Park buite Johannesburg aangewys is. En dit was ’n glansryke aand soos nog nooit tevore nie.

Juanita du Plessis is as ons lesers se gewildste vroulike kunstenaar vereer en haar liedjie Tussen Woorde is as die gewildste liedjie van die jaar aangewys. “Ek hou al my pryse op ’n rak in my ateljee, maar dit begin nou ’n bietjie vol raak en my man sal maar nog een moet bou,” het sy gelag, en op ’n ernstiger noot bygevoeg: “Dis wonderlik dat Huisgenoot kunstenaars op hierdie manier vereer; dit spoor ons almal aan om nog meer te gee.”

Kurt Darren het drie pryse ontvang – hy is as die gewildste manlike kunstenaar aangewys en sy CD Uit die Diepte van My Hart as die gewildste sokkie-/dansalbum van die jaar. Dié album het ook die prys gewen vir vanjaar se topverkoper. “Ek het al tevore Tempo-pryse gewen, maar ek raak steeds elke keer voor die toekenningsaand senuagtig,” het hy gebieg. “Ek is opgewonde oor elke prys; dis steeds elke keer spesiaal.”

Die wenners van Huisgenoot se tweede liedjieskryfkompetisie is ook aangekondig en sterre soos Nicholis Louw en Elizma Theron het die finaliste se 13 splinternuwe treffers gesing.

Moenie die Tempo-toekenningsaand misloop wanneer dit op 2 Oktober om 21:00 op kykNET uitgesaai word nie.

Lees in Huisgenoot van 20 Augustus wie al die wenners was. Daar is ook ses bladsye foto’s.

Hykie vind vrede in Botswana


Elke week sien TV-kykers hoe Rudolph in Plek van die Vleisvreters op SABC2 worstel met die demone in sy kop, die verslawing aan drank en dobbel wat hy maar net nie kan afskud nie.

Min mense weet dat die akteur Hykie Berg ook met sy eie worstelinge gesit het toe die reeks geskiet is.

Teen begin verlede jaar wou hy dringend antwoorde hê. Hykie wou homself verstaan en hy wou vasstel wie hy eintlik is en wat hy uit die lewe wou hê. En al was die dwelmprobleme van destyds toe al iets van die verlede, het daardie wolk steeds swaar oor sy kop gehang.

Toe neem hy in Februarie verlede jaar die langpad Botswana toe om by die antwoorde uit te kom. Net die mense naaste aan hom het geweet waar hy eintlik is: Die res het vermoed hy is in Engeland.

Maar nou is die nuwe Hykie Berg terug in Suid-Afrika; hy is terug op die TV-skerm in ’n nuwe rol as die chirurg dr. Conrad Bester in die TV-reeks Binnelanders, en vir die eerste keer vertel hy van sy tyd in Botswana.

Hy was skoon, maar hy moes besluit wat om met sy lewe te doen. ‘‘Met my toekoms, met my beroep,’’ sê hy. “Ek was onseker of ek nog wou toneelspeel. Ek moes keuses maak, maar het oor alles getwyfel.’’

Hy het op ’n wildplaas gaan werk om sy kop skoon te kry. Hier het die eens geharde stadsjapie geleer van die bos, die diere en die sterre. Maar die vrae het antwoordloos in sy kop bly maal, tot hy een aand onder die sterre besef het: ‘‘Die taak wat voor jou lê, is nooit groter as die krag agter jou nie.’’

Hy het die vrede in die natuur omhels en sy eie gemaak. En skielik was die toekoms nie meer vaag en hy nie meer bang vir die pad vorentoe nie.

Hy het besef toneelspel is in sy bloed, dat dit is wat hy vir altyd wil doen. Dat hy nie meer omgee vir die materiële nie.

Lees meer oor die “nuwe” Hykie in Huisgenoot van 20 Augustus.

Heinrich, die man wat ’n bal kán steel


Hy is die beste ding wat in jare met die Springbokke gebeur het, meen rugbykenners. En wanneer die Cheetahs-flank ’n kans gegun word in die Bok-span, gryp die 23-jarige Heinrich Brüssow dit met albei hande om die rugbybal aan.

Laas toe Huisgenoot oor Heinrich geskryf het (G’n Bok vir ’n ophef, 6 November 2008), het hy pas gehoor hy gaan as flank saam met die Bokke in Brittanje toer. Daar het hy slegs ’n paar minute se speeltyd gekry, maar homself reeds in die span begin inburger.

Maar eers toe Schalk Burger beseer en toe later vir ’n tyd geskors is, het Heinrich kans gehad om sy staal behoorlik te wys. En hy’t dit dubbel en dwars benut. Dis nie baie maande later nie, maar hy word deesdae selfs as een van die wêreld se voorste balstelers beskou en het heel moontlik vir hom ’n blywende plek in die Springbokke se beginspan oopgespeel.

Met ons besoek aan sy tuisstad, Bloemfontein, het hy ’n blaaskans van 10 dae voor die span vir die wegwedstryde van die Drienasies-reeks oorsee vertrek.

In sy kamer in sy ouerhuis in Universitas staan sy Bok-rugby-toksakke reeds gepak. Die platskerm-TV teen die muur is byna pal op ’n sportkanaal waarop ’n rugbywedstryd uitgesaai word.

In ’n hoek staan ’n tafeltjie met onder meer ’n foto van hom en sy spanmaat Tewis de Bruyn. Onder staan geskryf: Efesiërs 4:2.

En as jy dit naslaan in die Bybel, lees jy: Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig en verdra mekaar in liefde.

Volgens hierdie wyse woorde probeer Heinrich leef én rugby speel.

Pols hom maar; hy spog nie oor sy prestasies nie. Vra hom oor die statistieke wat wys hy’s die nuwe superman van Suid-Afrikaanse baljagters en dat geen ander flank in wêreldrugby meer as sy 185 duikslae in vanjaar se Super14 kon uitvoer nie, en hy trek net skouers op en sê: “Ag, dis maar net omdat ek in al die games gespeel het.”

Lees die res van die onderhoud met Heinrich in Huisgenoot van 20 Augustus.

Friday, 07 August 2009

Ludwig maak ʼn plan


Die man hier op sy plaas tussen die Vrystaatse rante lyk besonder rustig vir iemand wat nou die dag dinge deurmekaar kom krap het op die gewilde program Boer Soek ’n Vrou.

Met 299 potensiële bruide om van te kies, het Ludwig Oberholzer van Ficksburg se wêreld in die derde episode vir ’n mini-opskudding gesorg deur sy visier as’t ware op ’n ander man se vrou te stel. Darem gelukkig ’n verwerpte vrou . . .

Nou word daar druk gegis oor wat dié 37-jarige hartebreker-boer in die mou voer nadat hy ’n meisie wat vir ’n ander boer geskryf het, “afgevry” het om haar by sy spannetjie van 10 potensiële troukandidate te voeg.

Ludwig lag lekker oor dié kinkel in die kabel, want die meisie is eintlik ’n ou skoolmaat van sy suster Corlie – hulle het saam provinsiale netbal gespeel – en ja, destyds het hy ’n ogie op die lenige skoonheid gehad.

Hy onthou veral een aand wat hulle so lekker gedans het ná ’n netbalwedstryd . . .

Die enigste probleem was dat Clara Linde (31) nie vir Ludwig geskryf het nie, maar vir Johann van Standerton. Haar teleurstelling was groot toe sy ná ’n blitsontmoeting nie die paal haal as een van Johann se gunsteling-vyf nie. En dis toe net mooi daar dat Ludwig sy kans vat en vra of sy nie na sy kamp kan oorkom nie.

“Van die begin af was my maatstaf dat ek moet hou van wat ek sien,” sê hy. “Daar moes dadelik ’n wow-faktor wees.” En “sjoe!” was presies wat hy gedink het toe hy besef Clara maak ná soveel jare nog sy knieë lam.

Dat hy die reëls van die program so ’n bietjie moes buig om haar beter te leer ken, het hom min geskeel. Hy het gevoel net die feit dat sy self van ’n plaas af kom, sal maak dat sy die plaaslewe beter verstaan, want dis nie aldag net maanskyn en rose nie.

Dit was die moeite werd, sê hy nou, want daar begin die grootste avontuur van sy lewe toe.

Lees meer oor Ludwig en Clara in Huisgenoot van 13 Augustus.

ʼn Bok vir Kiki


Luister mooi na die liedjie ’68 Chevy wanneer jy Bok van Blerk weer iewers sien optree – hy sing die woorde van sy eie treffer wraggies verkeerd. Pleks van Toe sê my, is jy nog steeds so lief vir my, Minki, sing hy deesdae Toe sê my, is jy nog steeds so lief vir my, Kiki . . .

Die sanger het darem nie oornag die regte lirieke vergeet nie. Daar is ’n rede hoekom die Minki in die liedjie skielik moes plek maak vir ’n Kiki: muisneste!

Want Bok is smoorverlief en die Kiki oor wie hy nou sing, is die blondekop-aktrise Hanna Grobler, oftewel Kiki in die gewilde kykNET-reeks Getroud met Rugby. En Hanna, blyk dit, hou ewe veel van hoe dié bok blêr . . .

‘‘Ons lag heeltyd. Ons sal saam ’n blokraaisel invul en oor elke liewe woord lag,’’ sê Hanna waar sy met ’n vonkel in die oog na haar kêrel loer by dié se huis in Pretoria.

Die twee is al ’n bietjie meer as ’n maand lank ’n paartjie en dis duidelik hulle het die skoot hoog deur. Hulle lag inderdaad gedurig vir mekaar se streke, terg mekaar kort-kort en maak sonder ophou onderlangs grappies.

Bok het Hanna se ouers nog nie ontmoet nie, maar hy het hulle oënskynlik ook reeds beïndruk. Hy’s nes Hanna se pa, Nic, ’n gesoute visserman en toe hulle onlangs oor die foon gesels, sê Nic: ‘‘Man, ek het jou vandag so gemis, want die vis het so geloop!’’

Die sanger lyk amper verwonderd as hy na die beeldskone blondekop langs hom kyk – hy het immers nog onlangs gesê hy sal graag iemand wil ontmoet wat sy hart vinniger laat klop (Bok: My hart is reg, ja!, 18 Junie). En toe ken hy dié vrou al die tyd reeds . . .

Lees meer oor dié verliefde paartjie in Huisgenoot van 13 Augustus.

Nianell se drieling is twee


Woerts hardloop die klein meisietjie by ons verby. Haar blonde poniestert staan kiertsregop in ’n pienk strikkie op haar kop en sy druk vyf kolwyntjies styf in haar armpies vas. Sy waggel tot in die kombuis en loer na haar beeld in die oond se deur. Klein Kaeley Thompson glimlag skaam vir haarself en giggel stout. En toe, sowaar, draai sy haar koppie skuins en poseer ewe kordaat daar voor die oonddeur.

Sy’s nog skaars kniehoogte, maar dié dingetjie is op die ouderdom van amper twee reeds ’n regte klein aktrise. Sy trek aldag vir haarself gesigte in die spieël en voor die stortdeur en oond, vertel haar ma. ‘‘Sy’s ek uitgeknip; sy is ’n gebore aktrise,’’ lag die sanger Nianell. ‘‘En sy sal altyd al die koekies of speelgoed vir haarself vat en dit styf teen haar vasdruk.’’

’n Entjie verder vroetel Kaeley se sussies met die versiersuiker op die enigste kolwyntjie wat sy op die tafeltjie agtergelaat het. Die donkerkop Tayden haal versigtig die Smarties van ’n sjokoladekoek af wat spesiaal vir hul tweede verjaardag gebak is, en trek die bord met die hele koek nader.

Toe kyk sy besorg na klein Jade en stoot die koek met ’n suggie vol skuldgevoelens tot voor haar sussie terug. Want Tayden is die diplomaat, die enetjie met die sagte hart wat soet luister wanneer Mamma praat en sommer self ’n lappie gaan haal en opvee wanneer sy dink dinge lyk vuil.

‘‘Wanneer die ander twee in verskillende rigtings hardloop, luister Tayden as ek vir haar vra sy moet soet wees en by my wag,’’ sê Nianell trots.

Jade loer met ’n skaam glimlaggie na haar ma en vat-vat versigtig aan die kersie op die koek. Sy is die dromertjie, die een wat altyd glimlag en ingedagte ‘‘mmmmm’’ neurie wanneer sy konsentreer.

‘‘Jade sal ure lank voor die speelgoedsak sit en neurie terwyl sy al die speelgoed geduldig uitpak. Dan sal sy die sak vir ons bring en met groot ogies sê: ‘‘wing’’. Dan moet ons haar in die sak swing!’’ sê Nianell.

Lees meer oor Nianell se skattige drieling in Huisgenoot van 13 Augustus.

Dewald Dippenaar speel pop


Die sanger Dewald Dippenaar kyk vol liefde na die babaseuntjie wat hy onhandig in ’n ligblou kombersie op sy skoot vashou. Klein Liam wriemel eers tevrede op sy pa se skoot rond, maar toe hy sagte huilgeluidjies begin maak, is Sophia dadelik by om die kleinding se trane af te droog.

Maar al is Dewald (32) en Sophia (26) al byna twee jaar getroud, is sy nie die sewe maande oue Liam se mamma nie. Alethea Lucas (28), die seuntjie se ma, woon net ’n klipgooi van waar ons vandag by die gelukkig getroude paartjie op die Swartkops-gholflandgoed in Centurion kuier.

Dewald en Sophia was net ’n paar maande getroud toe hy as’t ware oornag met sy gewilde album Wys Jou Muis bekend geraak het. Skielik was hy min by die huis en hy en Sophia het uitmekaargedryf.

In dié tyd het sy vrou ’n hegte vriendskap met ’n vriendin gesluit. Sy het teenoor Dewald bely sy begin twyfel oor haar seksualiteit, en sy het hom om ’n egskeiding gedagvaar.

‘‘Dit het gevoel asof daar ’n derde persoon in ons verhouding is,’’ sê Dewald. En hy het toe vertroosting gevind by Alethea, ’n verkoopkoördineerder van Pretoria wat toe pas uit Port Elizabeth verhuis het nadat sy ’n nege jaar lange verhouding beëindig het.

‘‘Ons het albei seer gehad en mekaar vertroos,’’ verduidelik Dewald.

‘‘Ons het lekker goed gedoen, soos om dieretuin toe te gaan en Casper de Vries-DVD’s uit te neem en lekker te lag.’’

Sy was agt maande swanger toe Dewald en Sophia besluit het om hul huwelik ’n tweede kans te gee. ‘‘Alethea is ’n goeie vriendin, maar ek was nog altyd lief vir Sophia,’’ sê die Afrikaanse rocksanger.

Lees meer oor Dewald se seun en sy “twee mammas” in Huisgenoot van 13 Augustus.

Caster Semenya op pad na roem


Dis ’n perfekte dag vir hardloop. Die wind waai sterk in die Germain Comarmond-stadion in Bambous, Mauritius, maar gelukkig in die regte rigting. ’n Skoot knal uit die afsetter se pistool en die groep top-atlete spring weg vir twee vinnige rondtes voor een van hulle aan die einde van die 800 m deur die lint sal bars.

In die bondel wen die gunsteling, die Ethiopiese wondervrou Kalkidan Gezahegne (18), vinnig veld met haar lang treë, maar die feitlik onbekende Suid-Afrikaner, Caster Semenya (ook 18) hou goed by. Teen die einde versnel almal hul pas. En toe seil die stewige meisie uit Suid-Afrika onder almal uit.

Caster nael eerste oor die wenstreep en Kalkidan tweede, maar die blitsige Suid-Afrikaner het veel meer reggekry as om net die wedloop te wen. Sy het Zola Budd se 25 jaar oue junior rekord verbeter, die atletiekwêreld verstom en die nuwe liefling van Suid-Afrikaanse sport geword.

Voor sy met ’n knal by Afrika se junior kampioenskapsbyeenkoms in Mauritius op die toneel verskyn het, het min mense van Caster Semenya geweet, maar nou tel sy onder die 10 vinnigste vroue van alle tye ter wêreld. En binnekort sal die jong vrou van die dorpie Fairlane in Moletji naby Polokwane teen die room van die atletiekwêreld meeding by die Wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Berlyn.

Met haar blitsige 800 m in Mauritius in ’n skittertyd van 1:56:72 het sy nie net Zola se junior rekord verbeter nie, maar ook Zelda Pretorius se 18 jaar oue senior SA rekord. Haar tyd was vier sekondes vinniger as haar vorige beste van 2:00:58 en is ook die vinnigste tot dusver vanjaar in die wêreld.

Lees meer oor Caster se merkwaardige opgang in Huisgenoot van 13 Augustus.