
Sy stem was al die klankbaan van hoeveel paartjies se liefdesverhale – en nou gaan hy ’n gelukkige paartjie help om ’n unieke sprokieslot te skryf.
Kurt Darren en Huisgenoot vier die uitreiking van sy dertiende CD met die grootste geskenk wat ’n mens vir twee verliefdes kan gee – ’n hele troue. Van die rok tot die ring, die onthaal tot die wittebrood.
Kurt gaan saam met Huisgenoot, Jacaranda 94.2 en die kykNET-program Jukebox die perfekte troudag vir ’n gelukkige paartjie skep. ‘Maar ons wil nie mense se stories met mekaar vergelyk nie,’ sê hy, ‘want elke paartjie se storie is vir hulle die mooiste. Dis hoekom Huisgenoot se lesers gaan kies wie die troue moet wen.’
As jy en jou geliefde vir dié prys in aanmerking wil kom, skryf net vir Huisgenoot ’n brief van hoogstens vyfhonderd woorde oor jul liefdesverhaal, en stuur dit saam met jul foto’s vir ons. Ons kondig die tien finaliste eksklusief in Huisgenoot aan en publiseer hul stories, en lesers kan dan stem vir die paartjie wat ’n droomtroue die meeste verdien. Op Valentynsdag kondig ons die wenner aan en dié paartjie se groot dag sal dan binne ’n jaar werklikheid word.
Kurt gaan die liedjie waarmee die dansbaan geopen word, spesiaal vir die paartjie skryf, en hy gaan dit op die troue sing.
Die bekende Kaapse ontwerper Charlene Sauerman ontwerp die bruid se rok en die rokke vir een blomme- en een strooimeisie, en as die bruidsgevolg elders in die land woon, sal ons hulle voor die troue Kaap toe laat vlieg sodat hul mate geneem en die rokke aangepas kan word.
En daar’s nog ’n rits lekkertes op die spel, want ’n voorste
juweliersontwerper skenk die trouring, die bruidegom en sy strooijonker se pakke word geborg, die Jacaranda 94.2-aanbieder Darren Scott gaan op die onthaal as seremoniemeester optree en ons neem die pasgetroudes op ’n onvergeetlike vakansie vir hul wittebroodsreis.
Wag, daar’s nog! Glam Guru van kykNET-faam sal die bruid met sy grimeerkwas op haar mooiste laat lyk en ons gaan selfs vir die bruidspaar ’n tas vol nuwe nommertjies inpak vir die wittebrood . . .
– Die kompetisiereëls verskyn in Huisgenoot van 6 November.
Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.
Gesels met ons: Klik hier. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.
Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.























