
Nou’s daar ’n derde akteur in die Dunster-Cawoods se huis in Linden: Wilson Dunster en Elize Cawood se dogter, Jenna (21) – die ewebeeld van haar gewilde ma, kompleet met die welige bos hare.
Jenna gaan een van die dae net so bekend wees soos haar ouers – twee vermaak-veterane wat tussen hulle meer as sewentig jaar akteurservaring en ’n lang rits TV-, fliek- en verhoogrolle het. Wilson is die bekendste vir sy rol as Diehard in There Is a Zulu on My Stoep en as oom Syd Keyser in Konings en Torings, en kykers onthou Elize nou nog in die rol van Pop in Verspeelde Lente.
Van einde Oktober speel Jenna die sestienjarige Terry in 7de Laan. En sy kan maklik so ’n jong rol vertolk. Soos sy self sê: ‘‘Ek lyk twaalf.’’ Terry sal ses weke in die sepie wees. Wat dan met haar gaan gebeur, is ’n groot geheim.
Jenna is, soos haar pa, Engelssprekend, maar in 7de Laan praat sy Afrikaans. ‘Dit het dinge vir my ’n bietjie moeiliker gemaak, maar ek het ’n stemafrigter gehad,’ vertel sy, en voeg by: ‘Ek hét darem al Afrikaans gepraat! Ek is lief vir die taal en vir Afrikaanse mense. Ek het in matriek ’n onderskeiding in Afrikaans gekry.’
Haar ouers het haar baie gehelp, sê sy. ‘Hulle het met my oor my karakter gepraat en gesê hoe ek my vir die rol moet voorberei. Dit alles was ’n fantastiese ondervinding en ek het baie geleer. Die ander sepiesterre was wonderlik, vriendelik, warm.’
En sy speel darem al van kleins af toneel. ‘Ek het op skool al besef hoe lief ek daarvoor is,’ vertel sy. ‘Ek kan onthou hoe ek op agt in ’n Elvis-konsert in my wye kolletjiesromp op die verhoog in die rondte gedraai het.’
Wilson en Elize se jongste kind, Luke (20), is ’n kitaarspeler. Wilson erken beskeie: ‘Ons kan almal noot hou.’ En hy is ’n kampioen-fluiter. ‘Toe ons gesin nou die dag ’n fluitkompetisie hou, het ek ver gewen.’
Op die verhoog of weg daarvan, die Dunster-Cawoods weet van konsert hou.
– Lees in Huisgenoot van 6 November meer oor ‘Pop’ en ‘Diehard’ se dogter, Jenna Dunster.
Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.
Gesels met ons: Klik hier. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.
Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.