
Daar het ons dit dan nou. Sewe en ’n half jaar nadat Madonna en Guy Ritchie op ’n sprokiestroue in ’n Skotse kasteel meneer en mevrou geword het, het hulle besluit dis tyd om te groet.
En nou word gefluister Guy gaan dalk met ’n enorme £150 miljoen wegstap. Kry hy dit wel, sal dit een van die grootste skeibedrae in die geskiedenis van glans-egskeidings wees.
So verlief was Madonna destyds – en so gretig om nie sinies en berekend te lyk nie – dat sy nie ’n voorhuwelikse kontrak wou hê nie. En hy is dus geregtig op ’n groot hap van haar fortuin van £300 miljoen (ongeveer R4,7 biljoen).
Guy sal glo sy eis grond op hul verhouding van tien jaar, sy steun vir haar loopbaan en die feit dat hulle twee kinders het, Rocco (8) en die aangenome seuntjie van Malawi, David (2). Lourdes (12), Madonna se dogter by Carlos Leon, bring reeds meer tyd saam met haar pa in New York deur om weg te kom van die giftige atmosfeer by die huis, sê bronne.
Op die ou end was dit Guy wat besluit het dinge kan nie meer so aangaan nie – en vir ’n vrou wat gewoond is aan haar sin kry, moes dit seker ’n bitter pil gewees het. Sy wou gewag het tot ná haar Sticky and Sweet-wêreldtoer voor die aankondiging, en daar was ’n tyd lank selfs berigte dat hulle die krake ter wille van die kinders probeer toepleister. Maar uiteindelik was die doodsteek die voortdurende rusies oor hul loopbane en haar wens om nog ’n kind aan te neem.
‘‘Dit was onvermydelik,’’ sê iemand na aan die twee. ‘‘Dit was nie ’n kwessie van óf hulle sou skei nie, net wanneer. Hulle het in die laaste paar maande hard probeer, maar die rusies het handuit begin ruk.’’
Madonna, voeg die bron by, wou eers ’n skeidingstyd hê, waarna die egskeiding dan aangekondig sou word wanneer dit haar pas. ‘‘Maar Guy het genoeg gehad. Hy het gesê as hulle uitmekaargaan, moet dit nou gebeur.’’
Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.
Gesels met ons: Klik hier. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.
Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.