
Hou jy van topklas-vermaak deur van ons land se grootste sterre? Dan moet daar net een woord in jou dagboek by Saterdag 14 Maart 2009 staan: Huisgenoot-SkouspelPlus. Want ons is terug om die dak te lig!
Kaapstad speel gasheer vir hierdie spesiale en unieke SkouspelPlus-konsert met die room van Suid-Afrika se kunstenaars – onder andere verskeie gevestigde Skouspel-sterre.
Daar is ’n middag- en aandvertoning van SkouspelPlus op 14 Maart in die swierige Grand Arena by die GrandWest-casino. Dit het plek vir 5 000 mense en internasionale sterre soos James Blunt, Katie Melua en Smokie was reeds hier op die verhoog.
‘‘Dit is vir Huisgenoot en ons sustertydskrif YOU baie opwindend om weer ’n topproduksie soos SkouspelPlus in Kaapstad aan te bied,’’ sê Esmaré Weideman, redakteur van Huisgenoot.
‘‘Verlede jaar se Kaapse Jol was een van die lekkerste vertonings wat ons al ooit aangebied het. Ons het die Jol herdoop tot SkouspelPlus omdat mense nou al weet die naam Skouspel staan vir musiekvermaak uit die boonste rakke.’’
En volgende jaar se SkouspelPlus gaan éérs opwindend wees. Van ons land se topkunstenaars sal hul gunsteling-liedjies sowel as ’n paar nuwighede aanbied, om nie te praat van die interessante kombinasies van kunstenaars wat saam gaan optree nie.
‘‘Dit is vir ons ’n voorreg om ’n konsert van die statuur en gehalte van Skouspel in die Kaap op te voer,’’ sê Esmaré. ‘‘Moenie laat slaap nie – ons verwag dat die kaartjies gaan vlieg!’’
SkouspelPlus verskil in baie opsigte van die gevestigde Skouspel in Sun City se Superbowl. ‘‘Die program is heeltemal nuut en anders,’’ sê Jannie Pretorius, uitvoerende vervaardiger van SkouspelPlus. ‘‘Dit is eintlik meer ’n Suid-Afrikaanse konsert, aangesien sowat 70 persent van die program in Afrikaans en 30 persent in Engels en ander landstale gaan wees.’’
‘‘Ons wil ook graag aan SkouspelPlus ’n unieke Kaapse geur gee – die Kaapse Klopse sal sekerlik ook ’n draai op die verhoog maak,’’ sê Jannie.
Die middag- en aandvertoning van SkouspelPlus vind om 15:00 en 20:00 plaas, en kaartjies kan reeds van Saterdag 1 November af by Computicket bespreek word. Maak seker jy bespreek vroegtydig – Skouspel-vertonings wag eenvoudig nie vir agterosse nie.
Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.
Gesels met ons: Klik hier. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.
Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.