Friday, 17 October 2008

‘Oom’ Gert nog vol woema


Sy stem is so herkenbaar dat toe hy op ’n dag in ’n moltrein êrens onder Londen se strate sit en gesels, ’n wildvreemdeling ewe laat hoor: ‘‘Hallo, oom Gert!’’

Ja-nee, Gert van Tonder is nie net ’n musiek-ikoon danksy treffers soos Dink Jy Darem Nog aan My en Sproetjies nie, hy’s ook die Wielie Walie-oom met wie derduisende Suid-Afrikaanse kinders grootgeword het, die een wat saam met Sarel Seemonster en Karel Kraai sulke lekker stories kon vertel.

En vanjaar is Gert, wat saam met wyle Sias Reinecke in die 1960’s en 1970’s bekendgestaan het as Groep Twee, by Huisgenoot se Skouspel vereer vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek.
Hy was skoon bewoë toe die gehoor hom staande toejuig terwyl hy die toekenning ontvang wat nou op ’n kas in sy sitkamer in Pretoria pryk.

Dit het alles om ’n braaivleisvuur begin, maar eintlik danksy die metafisika. Ná skool op George, ’n jaar in die laboratorium van ’n bande-fabriek in Port Elizabeth en nog ’n draai of wat, het Gert in 1963 in Johannesburg beland, en dit is waar hy en Sias mekaar toe een aand raak kuier.

Die twee het daar langs die braaivleisvuur aan die sing geraak, en dit was die begin van Groep Twee, ’n musiekverbintenis met een of twee onderbrekings wat hulle deur vyftien jaar en baie toere die land vol sou neem.

Maar eintlik het sy hele loopbaan met metafisika begin, sê Gert in sy huis op ’n hoewe in Midrand. ‘‘Ek het elke dag gesit en visualiseer wat ek wou doen. Ek wou sing, liedjies skryf, ’n akteur en omroeper wees. En dit is presies wat gebeur het. Jy moet droom en dink oor wat jy wil hê.’’

Die groep se naam het makliker gekom. ‘‘Daar was ’n groep in Engeland met die naam Group 1. Iemand het toe eendag gesê ons kan dan maar Group 2 wees en die naam het net gebly.’’

In 1966 is hul eerste kortspeler met Die Oukraalliedjie en Die Padda Wou Gaan Opsit uitgereik, en dit was oornag ’n sukses.

– Lees in Huisgenoot van 23 Oktober meer oor Gert van Tonder.

Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.

Gesels met ons: Klik hier. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.