Friday, 17 October 2008

Die liefde rock in LA!


Dis ’n oorbekende storie in Hollywood – ’n aantreklike rockster ontmoet ’n pragtige model en die twee raak halsoorkop verlief. Maar dié een het ’n lekker Suid-Afrikaanse kinkel. Want dié keer is dit twee van ons eie talentvolle mooi, jong mense wat die skoot hoog deur het en nou oorsee nesskop.

Selfs oor die telefoon uit hul huis in Los Angeles kan jy hoor Ard Matthews (33), voorsanger van die suksesvolle rockgroep Just Jinjer, en sy meisie van die afgelope nege maande, Landi Swanepoel (28), het die skoot hoog deur. Dis die ene gegiggel en mooi woordjies wanneer hulle oor mekaar praat. Ja-nee, Kupido se pyltjies het die twee met mening getref . . .

Hulle het mekaar vir die eerste keer in Desember 2006 in Kaapstad by een van Just Jinjer se konserte raakgeloop. ‘‘Daardie aand het ons net sowat tien minute gesels, maar sy was vir my so opreg en pragtig,’’ vertel Ard in die kenmerkende rasperstem waaroor sy aanhangers so gaande is.

‘‘ ’n Gemeenskaplike vriend het ons ná die vertoning aan mekaar voorgestel en die vonke het gespat. Ons was albei toe nog in verhoudings, maar het dadelik vriende geword,’’ sê Landi.
Kort ná die ontmoeting is Landi terug Londen toe waar sy as model gewerk het. Die twee het mekaar eers ’n jaar later weer raakgeloop en toe was daar g’n keer aan die liefde nie.

‘‘Ek was nog in Londen toe ons mekaar ontmoet het, en het beplan om New York toe te trek, maar toe ons mekaar weer raakloop, het Ard gevra ek moet by hom in Los Angeles gaan kuier, en toe bly ek sommer. Ek het nooit by New York uitgekom nie,’’ sê sy laggend. Hulle woon nou in Venice Beach sowat twintig minute van Los Angeles.

Dolverlief is hulle beslis, maar Ard lag lekker uit sy maag wanneer hy oor trouplanne met Landi gevra word. ‘‘Daar is nie planne nie, maar wanneer ek trou, sal dit met Landi wees. Ons is eintlik al soos ’n getroude paartjie.’’

– In Huisgenoot van 23 Oktober gesels Ard en Landi oor die liefde, sukses en die lewe in Amerika

Klik hier om muurpapier en speletjies vir jou foon van Huisgenoot se webtuiste af te laai.

Gesels met ons: Klik hier. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.