
Kort ná die klok se lui het hy met sy bakkie buite die skool geparkeer, vir die tiende keer op dié Maandag-oggend reukweerder aangespuit en in die truspieëltjie gekyk of sy blonde kuif netjies lê. Die senuwees van die boer met die breë skouers en sonbruin vel was gaar. Hy’t die vorige nag niks geslaap nie, en die boksie met die verloofring het soos ’n klip in sy sak gelê.
Tickey van Wyk (34) het die knop in sy keel probeer afsluk en aanstaltes gemaak na juffrou
Selme-Louise du Plessis se gr. 3-klas by die Laerskool Nelspruit. Toe hy die fyn donkerkop buite haar klas sien staan met haar rug na hom gekeer, het hy nader gedraf, haar ’n tikkie op die skouer gegee en geroep: “Môre, juffrou!”
Selme-Louise (28) was so verbaas sy kon skaars iets sê. Sy’t immers die vorige aand nog gehuil oor die lang weke wat voorgelê het voor Tickey weer die 1 300 km tussen sy plaas buite Loxton in die Noord-Kaap en
Nelspruit in Mpumalanga kon aflê om vir haar te kom kuier. En hier stap Tickey die klas binne, groet haar leerders met ’n vrolike “Môre, maats!” – en sak op sy regterknie neer . . .
Hy’t die boksie met die blink ring uit sy sak gegrawe en net daar vir Selmatjie, soos hy haar noem, gevra: “Sal jy met my trou?” “En toe ek ‘Ja!’ sê, het al die graaddrietjies begin hande klap!” vertel ’n stralende Selme-Louise ’n dag later. “Ek en Tickey was albei in trane.”
Tickey is nie die eerste kykNET-boer wat ’n blink diamant aan sy kitsmeisie se vinger steek nie. Hennie van Deventer het Louanda Erasmus sommer op die program die jawoord gevra, maar die verhouding het nie gehou nie. Nadat hy en Louanda uitmekaar is, het hy terstond begin uitgaan met Yolindi du Preez, ’n ander deelnemer aan die werklikheidsreeks.
Maar Tickey en Selme-Louise weet hulle gaan nie dieselfde pad stap nie. Hulle sê albei: “Ons is bedoel vir mekaar.”
Lees in Huisgenoot van 5 Maart meer oor boer Tickey en sy Selme-Louise.


















