
Die oorverdowende klanke wat buite die geel huis in KwaDwesi in Port Elizabeth deur die buurt weergalm, klink op uit ’n piepklein wynrooi 1300 Toyota Tazz.
Die Proteas se nuwe staatmakerbouler, Lonwabo Tsotsobe, rank tot sy volle 1,95 m uit die karretjie en lag trots.
‘‘Ek het hom ’n bietjie ge-pimp, wil jy hoor?’’ En hy gooi sommer dadelik al die deure oop.
Hy draai die volumeknoppie nóg verder oop. Die kattebak is tjokvol luidsprekers. Maar hy het darem plek gelos vir sy krieketkolf en -bal, grinnik Lopsy, soos hy homself gemoedelik voorstel.
Op die agterruit pryk ’n tuisgemaakte plakkaat: ‘‘Lonwabo Tsotsobe Welcoming Party’’ met foto’s van hom. ’n Vriend reël juis nou die amptelike verwelkomingspartytjie in ’n plaaslike klub vir die nuwe held van die Baai. Maar vandag kuier almal by sy suster Nomsebenzi se huis.
Terwyl ons op die stoep sit en gesels oor sy heel eerste internasionale eendagwedstryd ’n paar dae tevore op Perth se beroemde Waca-krieketveld waar hy die Aussies behoorlik moedeloos geboul het, kom die gaste drupsgewys aan.
Party stop eers in die deur en vertel staaltjies van hoe hulle saam met hom in Stemelestraat, KwaMagxaki, die buurt net langsaan, met tennisballe en broodkratte vir paaltjies begin krieket speel het.
Daardie dae het die wenspan dae agterna nog vertel hy is “die kampioen”. Amper soos Lonwabo (24) vandag met trots kan sê sy span, die Proteas se eendag-manne, is die beste ter wêreld.
En almal praat oor sy leeue-aandeel in daardie vyfde en laaste eendagwedstryd toe hy ’n allemintige vier paaltjies laat kantel het. Een van dié paaltjies was boonop ’n vangskoot wat hy van sy eie boulwerk benut het.
“Sjoe, dit was ’n groot dag wat ek altyd sal onthou,” sê Lonwabo met blink oë. Toe die eerste paaltjie val, was hy tevrede, want dit was reeds ’n droomdebuut.
“My eerste internasionale eendagwedstryd, ’n paaltjie, alles het verloop nes ek daarvan gedroom het,” sê Lonwabo van daardie oomblik toe hy die Australiese aanvangskolwer Shaun Marsh se paaltjies ná net vyf lopies omgeboul het.
Maar dit was net die begin . . .
Lees in Huisgenoot van 12 Februarie meer oor die staatmaker-bouler Lonwabo Tsotsobe.