
Hulle het hul uitrustings vir die Oscars noukeurig gekies – tradisionele Afrika-styl, met helderkleurige spatsels – maar die instap op daardie lááng rooi tapyt het hulle steeds laat naels kou. Wie sou dan nou ’n klompie Suid-Afrikaners tussen al die glansmense van Hollywood raaksien?
Maar toe die nege lede van die Soweto Gospel Choir versigtig uitstap op die tapyt na die deur van die Kodak-teater in Los Angeles, het die skare hulle luidkeels toegejuig. En dit was maar net die begin . . .
’n Paar treë voor hulle het die superster Will Smith en sy vrou, Jada Pinkett Smith, die beroering gehoor. En daar draai hulle toe in hul voetspore om om hulself te gaan voorstel aan die sangers wat die hele pad van Suid-Afrika gekom het om hul Oscar-benoemde liedjie Down to Earth uit die animasiefliek WALL-E weer op die groot aand te kom uitvoer.
“Ek was bekommerd dat niemand sou weet wie ons is nie en dat hulle nie in ons sou belangstel nie, maar ek was heeltemal verkeerd,” sê Shimmy Jiyane, een van die koor se stigterslede, toe ons hom ná die groot aand opspoor.
“Een van die aanbieders het ons voorgestel en die skare het tekere gegaan. Hulle het ons aanhou toejuig en ons gevra om te sing terwyl honderde fotograwe ons afgeneem het. Ons het toe twee liedjies, Noyana en Seteng Sediba, gesing en die skare was dol daaroor.”
WALL-E, die fliek oor die robot wat die mensdom se rommel moet opruim, het toe die Oscar vir beste animasie-fliek gewen, maar Down to Earth moes die knie buig voor die liedjie Jai Ho uit Slumdog Millionaire. Nie dat dit enigsins hul gees gedemp het nie, sê Shimmy.
“ ’n Oscar sou die kersie op die koek gewees het, maar sjoe, dit was ’n onvergeetlike aand! Ons het die kans gekry om nes al die glansmense op die rooi tapyt te stap en voor die grootste name in Hollywood op te tree.’’
En in helderkleurige kostuums geklee vir hul optrede saam met John Legend, het die groep toe die eerste Suid-Afrikaners geword wat by die Oscars optree.
Lees in Huisgenoot van 5 Maart meer die Soweto Gospel Choir se aand by die Oscars.