
Trudie Taljaard se vriende en geliefdes het meer gelag as gehuil by haar gedenkdiens by die Fourways Memorial Park-kerk in Johannesburg. Die legendariese aktrise is vir oulaas staande toegejuig en almal het staaltjies vertel om haar vol lewe te vier.
Vinette Ebrahim, Charmaine van 7de Laan, het ’n roerende brief van Trudie se eerste man, die akteur Errol Ross, voorgelees. Elzabé Zietsman, wat deesdae in Binnelanders te sien is, het in haar huldeblyk gesê sy gaan dertig laventelbosse vir haar ‘‘juffrou’’ plant. Sy het ná die diens ’n bossie laventel aan Trudie se dogter Justine Underhay oorhandig – dié blom was haar ma se gunsteling.
Trudie het voor haar dood gevra dat haar as by Cintsa in die Oos-Kaap gestrooi word, waar sy en haar kinders hul lekkerste vakansies gehou het.