Friday, 20 February 2009

David Tlale bring styl en glans


Sy klantelys lees soos die Wie’s Wie van Suid-Afrika se glansmense: die Idols-aanbieder Liezel van der Westhuizen, die gewilde sanger Lize Beekman, die gewese Mej. Suid-Afrika Basetsana Kumalo, die huidige een, Tatum Keshwar . . .

David Tlale is so vuurwarm dat jy baie mooi moet smeek om kaartjies vir sy vertonings in die hande te kry. En boonop is hy een van net ’n paar plaaslike ontwerpers wie se werk al by die gesogte Paryse modeweek vertoon is. Vanjaar is hy juis weer na die skoue daar, in Londen en in New York genooi.

Die 34-jarige mode-ontwerper het vier Mej. Wêreld-finaliste vir die kompetisie by die Sandton-konferensiesentrum in Johannesburg uitgedos. Al die finaliste is deur plaaslike ontwerpers uitgevat en dit was ’n groot eer, sê die lang, aantreklike man.

‘‘In party dele van die wêreld dink mense nog aan leeus wanneer hulle aan Afrika dink,’’ sê hy met ’n laggie en hy skud daardie kenmerkende afro. ‘‘Hulle weet nie ons het ontwerpers nie; daarom was dit so wonderlik vir die bedryf.’’

Vir David was 2008 ’n waterskeidingjaar. Hy het ’n Stars of Mzansi- en ’n SA Stylprys vir beste ontwerper gewen en sy ontwerpe in New York en Washington vertoon. Nou maak hy hom reg vir die Londen-modeweek
in September.

‘‘Ons kry hope publisiteit en dit hou ons op ons tone,’’ sê hy in sy ateljee in Parktown-Noord in Johannesburg. ‘‘Ek glo in die mag van ‘ons’. Ek sou nooit alles self kon doen nie. Daar sou nie ’n David Tlale gewees het sonder my span rok- en patroonmakers nie. Ek sal die kluts kwyt raak as ek die materiaal moet knip, konsulteer én monsters kry.’’

Sy kenmerkende styl is tydlose elegansie. ‘‘Bowenal glo ek dit gaan oor skoonheid te alle tye, sonder om te hard te probeer. Vroue wat David Tlale-rokke dra, sal die koppe laat draai.’’

– In die volgende uitgawe van Huisgenoot se nuwe musiektydskrif, Huisgenoot-Tempo, wys ons watter rokke David Tlale en ander bekende ontwerpers spesiaal vir ons gewildste sangers ontwerp het vir SkouspelPlus op 14 Maart by die GrandWest-casino in Kaapstad.

Lees in Huisgenoot van 26 Februarie meer oor die modeontwerper David Tlale se toekomsdrome.