
Hy’s skaars vyf maande oud en hy was al by ’n kunsuitstalling, ’n boekbekendstelling, etlike musiekkonserte en sommer ook twee troues. En natuurlik is hy gek oor wandelinge langs die see.
‘‘Hy doen alles saam met ons,’’ vertel die gewilde operasanger Zanne Stapelberg (31) oor hul eersteling, Alexander.
Sy geboorte het haar kalmer gemaak, sê sy terwyl sy hom aan ’n roos laat proe hier by hul huis in Kaapstad.
‘‘Ouerskap het my vreesloos gemaak. Dis ’n groot verantwoordelikheid, maar ook die bevrydendste ding wat nog met my gebeur het. Deesdae, pleks daarvan om my te bekommer oor of ek die hoë note gaan bereik, fokus ek net daarop om vreugde aan die gehoor te verskaf.’’
‘‘Ek kan Alexander by my laat sit terwyl ek sing – hy is mal oor musiek. Hy beweeg sy lyfie as hy musiek hoor. Toe ek swanger was, het ek by ’n Zoeloe-konsert in Durban opgetree en ek kon sweer hy’t op die maat van die musiek geskop!
‘‘Ek wil hê hy moet ’n onafhanklike denker wees en die wêreld met ope arms aanvat. En as hy wil reis en berge klim, moet hy dit vreesloos doen, want dis wat ons by ons ouers geleer het,’’ sê Zanne.
Haar man, Jomar (33), besit ’n sagteware-maatskappy wat net ’n hanetree van die huis geleë is.
‘‘Dis lekker dat my werk net 900 m van die huis is, sê Jomar. ‘‘Ek kan elke middag gou huis toe kom en ’n uur lank met hom speel.
‘‘Vir my is die beste deel van pa-wees dat elke dag anders is. Hy lyk elke oggend anders, maak nuwe geluide.’’
‘‘Toe ons hoor ek is swanger, het Jomar vir my gesê: ‘Liefie, met my intellek en jou mooi geaardheid gaan ons darem ’n mooi kind hê!’ ’’ sê Zanne.
Hul vriende noem Jomar ’n wandelende ensikopledie omdat hy ’n vraat vir algemene kennis is.
‘‘Ek vra hom toe: ‘Maar as jy ons baba leer van die planete, natuur en biologiese name van elke plant, wat gaan ek hom leer?’
“En hy laat hoor toe ewe: ‘Toe maar, jy sal hom goeie maniere leer!’ ’’
In Huisgenoot van 26 Februarie gesels Zanne Stapelberg en haar man, Jomar, oor die vreugde van hul eersteling.