
In die hoek van sy vrolike babakamer staan ’n halfmeter hoë spierwit beer met ligblou ore wat Kurt Darren en sy meisie, Dunay Nortjé, nog voor sy geboorte vroeg in November vir hom gegee het.
Dit is dieselfde oom Kurt wat ook sy naam geïnspireer het, vertel die country-sanger Harry Campbell (33) terwyl hy sy rooikop-seuntjie, Curtis, op die ligbruin hobbelperdjie wieg.
‘‘Ek wou ’n sterk naam hê,’’ sê ma Nadene (26). ‘‘Ek het gedink aan Kurt, maar Harry wou nie; hy het gesê ons seun gaan sy eie mens wees. Toe sien hy die naam Curtis, en ons het albei daarvan gehou.’’
Klein Curtis lê nou stroopsoet en slaap, maar dinge was nie van die eerste dag af maanskyn en rose nie. Nadene het nier-ontsteking gekry omdat Curtis se koppie die buis tussen een van haar niere en haar blaas platgelê het. Om skade aan haar nier te voorkom, is hy vier weke te vroeg met ’n noodkeisersnee in die wêreld gebring.
Daarna het hy ’n maand lank onophoudelik gehuil, en sy radelose ouers is van dokter tot dokter met hom. Eers die vierde een het agtergekom Curtis het al van geboorte af ’n liesbreuk. Hy is dadelik geopereer, en sedertdien kry die klein rooikop en sy ouers aansienlik meer slaap.
Curtis se familie is van albei kante af met rooikoppe besaai. Harry en sy sangmaat-broer, Tony, is albei met rooi hare gebore en Nadene se oupa was ook ’n kerriekop. Sy pa het Curtis sommer dadelik die Rooi Gevaar gedoop.
En ja, hy het nie van die heel eerste oomblik af gedink Curtis is die mooiste baba wat hy al ooit gesien het nie, sê Harry en lag verleë. “Hy was wit van die was en hy was blou. My eerste gedagte was: ‘Wat is dit? Dis ’n wit-blou baba,’ ” vertel hy met ’n breë glimlag.
Maar later, in die waakeenheid, waar Curtis suurstof moes ontvang, het Harry trots elke stukkie van sy seun gemeet en hom met sy selfoonkamera afgeneem. ‘‘En nou kan ek nie ophou om oor hom te praat nie.’’
In Huisgenoot van 5 Maart gesels Harry en Nadene Campbell oor hul eersteling.
Wen!
Vyf gelukkige Huisgenoot-lesers kan elk ’n kopie van Die Campbells se nuwe CD, Keep It Country, wen. SMS net die woord ‘‘Campbells’’ na 34922. Die kompetisie sluit op 12 Maart. Elke SMS kos R2.