
Hy het die skoot so hoog deur dat hy selfs soggens vir haar toebroodjies maak om saam te vat werk toe. En as die beeld van die fuif-prins Ferdinand Rabie wat in die kombuis staan en toebies maak half onwerklik klink, is dit net omdat hy lank laas so verlief en verlore was.
‘‘Kyk, ek maak elke oggend vir haar mooi broodjies en pak selfs vir haar koeldrank werk toe in,’’ vertel Ferdi, duidelik ingenome met homself.
Sy twee vriendelike golden retrievers, Coco en Fica, kom stertswaaiend by die deur van sy huis in Welgemoed, Bellville, groet. ’n Jaar gelede was hul baas ’n droewige figuur toe hy aankondig hy gaan skei, maar vandag is hy die ene glimlagge terwyl hy van sy nuwe liefde praat.
Die eerste wenner van die plaaslike Big Brother-reeks en Adi Gamadi, ’n Israelies-gebore skoonheid wat by ’n lugdiens in Kaapstad werk, het mekaar so agt jaar gelede in ’n klub ontmoet. Toe hulle mekaar onlangs weer raakloop, was die vonk nog daar.
Adi (31) het voorheen vyf jaar in die Kaap gewoon voor sy New York toe getrek het, maar noudat die liefde haar hier in haar gunsteling-wêreldstad getref het, gaan sy nêrens heen nie.
“Ons het mekaar ontmoet toe sy 21 en ek 23 was,” vertel Ferdi (34). “Ons het mekaar altyd by partytjies raakgeloop. Toe ons mekaar onlangs weer sien, het gevra of ek haar nommer kan kry.”
Die die twee is nou reeds vier maande saam en dolverlief. Die nuwe liefde het ook sy sosiale lewe beïnvloed – deesdae kry jy hom eerder by sy huis aan die kuier saam met goeie vriende en familielede as by ’n lawaaierige partytjie.
“Die opwindendste ding omtrent Adi is dat niks haar van stryk bring nie. Sy het my voor Big Brother leer ken. Sy is die mees plat op die aarde mens wat ek al ontmoet het. Sy kalmeer my.”
Op haar beurt sê Adi daar is niks vals omtrent Ferdi nie. “Hy het glad nie verander nie. Daar is nie ’n openbare persona nie. Hy is net homself. Almal is dol oor hom.”
Lees in Huisgenoot van 12 Februarie meer Ferdinand Rabie se nuwe liefde.