Friday, 06 February 2009

Brad Pitt – in lewende lywe


Dis vrek moeilik om te konsentreer. En dis alles Brad Pitt se skuld.

Daar staan ek, mikrofoon in die hand by ’n mediakonferensie in Parys – Parys, Frankryk, nie Vrystaat nie – en reg met ’n slim vraag. Tot die Adonis se blou kykers my bruines vang.

En ek vra iets en hy praat iets, maar my ore skakel ’n ruk lank af, want ek kan nie ophou kyk na hom nie. Kan jy dit oorvertel – ’n glimlaggende Brad Pitt praat met mý! En dit nogal in een van die mees romantiese stede ter wêreld.

Daar sit hy, in ál sy aantreklike glorie op ’n verhogie net ’n katspoegie van my af. Grys keps op die kop, donkergrys-swarterige trui, donkerkleurige jeans, modder aan sy swart stewels. Mooier as ’n mens.

Hy’s hier vir die bekendstelling van sy nuutste fliek, The Curious Case of Benjamin Button. Dit is ’n Oscar-voorperd met dertien benoemings, onder meer vir beste akteur vir Brad.

En ons is hier, tweehonderd joernaliste van oor die wêreld – benewens nou ek van Suid-Afrika – om vrae te vra. En in my geval, om my totaal te vergaap.

Maar wag . . .

Kort voor die roomkleurige deure van die konferensiekamer hier in die spoggerige Hotel Bristol in die hartjie van Parys oopgeswaai het, skarrel almal rond om alles agtermekaar te kry.

’n Aantreklike ou met oorfone op sy kop en ’n knyperbord in die hand stap op en af, kou kougom en beduie vir die klankmanne.

Die Europese joernaliste is ’n ander spesie. Almal staan netjies tou en niemand druk nêrens in nie. Behalwe ek – ek stap by almal verby tot heel voor en niemand gluur my eens aan nie.

Die spul lyk nie juis of hulle wil flou word oor die vooruitsig om Die Bradster oor ’n paar minute te sien nie. Behalwe ek. Ek wil eintlik gil: BRAAADDD, ek is hierrrrrrrrr! Dis BRAAADDD, menseeeeeeee!

’n Franse kameravrou vra verbaas of ek dan heelpad van Suid-Afrika gekom het. Natuurlik! Dis darem Brad – ek sou selfs Noordpool toe sukkel net om daai man te sien.

Lees in Huisgenoot van 12 Februarie die skrywer Haidee Muller se humoristiese vertelling oor die dag toe sy met Brad Pitt gepraat het.

– The Curious Case of Benjamin Button begin op 27 Februarie draai.