Friday, 06 February 2009

Idols se mooi, besige Liezel


Sy’s blond en begeerlik, met bene wat strek van die Kaap tot in Kaïro. En as een besondere aspirant-Idol tot
onlangs geen benul gehad het wie Liezel van der Westhuizen is nie, dan weet hy dit nou.

As die nuwe aanbieder van dié werklikheidsreeks was dit Liezel wat die wagtende hoopvolles buite Kaapstad se oudisiesaal moes moed inpraat. Maar toe iemand die deelnemer vra wat hy van Liezel dink, vra hy: “Wie’s Liezel?”

“Sy staan reg agter jou,” kom die antwoord. En toe hy omdraai, verstar hy omtrent by die aanskoue van die wese met die eindelose bene. “Sy’s sexy!” was al wat die arme man kon stamel.

By Idols het woedende deelnemers al op haar geskree en opdringerige ma’s haar al gedreig. Heelparty ouens – en selfs ’n paar meisies – het haar telefoonnommer gevra. En in haar eerste week het sy per ongeluk die uitvoerende vervaardiger vir vier uur in die grimeerkamer toegesluit. Maar dis alles deel van ’n dag se werk vir die koelkop.

“Ek weet ek het groot skoene om vol te staan,” erken sy.
Sy was geskok toe sy hoor sy het die pos as aanbieder gekry. “Ek het regtig nie gedink ek het ’n kans nie,” sê Liezel. Colin Moss was baie gaaf en het haar allerhande raad gegee.

Op die program word baie agter die skerms gelag, veral oor poetse vir die gemeenste beoordelaar, Randall Abrahams. “Hy het ’n goeie voorraad lekkers wat hy onder sy lessenaar wegsteek, maar almal weet daarvan. Die stelwerkers het my uitgedaag om sy sjokolade te steel. Hy was vreeslik vies,” sê Liezel laggend.

Haar gunsteling-beoordelaar is Mara Louw. “Sy is so vriendelik. Ons praat oor skoene en ouens. Sy het wonderlike skoene-smaak.”

Onder die deelnemers het Liezel reeds moontlike wenners in die oog. “Ek het my gunstelinge, maar die besluit berus op die ou end by die beoordelaars en die gehoor se stemme.”

Ons sal sien of sy in die kol was . . .

Lees in Huisgenoot van 12 Februarie meer die besige nuwe Idols-aanbieder.