Friday, 23 October 2009

Rob Louw veg teen kanker


Goue seun van Suid-Afrikaanse rugby het hy die Bulle, die All Blacks en menige ander gedugte spanne ore aangesit – hoe sal hy dan nou toelaat dat kanker hom onderkry?

Dié boodskap van die oud-Springbok-rugbykaptein Francois Pienaar aan Rob Louw, ons flink flank van die tagtigs, is maar een van duisende wat van oral in die wêreld ingestroom het nadat metastatiese melanoom by hom gediagnoseer is.

Dit is ’n potensieel dodelike soort velkanker – en kon dalk reeds na sy limfkliere en inwendige organe versprei het.

Dit is ’n baie aggressiewe kanker wat meestal nie suksesvol met chemoterapie behandel kan word nie.

Medies gesproke lyk dinge nie goed nie, maar die Louws is nie mense wat hulle laat onderkry nie. Hulle het gespring om inligting te kry, met dokters en vriende beraadslaag en twee dae nadat die siekte gediagnoseer is, was Rob en sy vrou, Azille, op ’n vliegtuig na Amerika.

Sy ou studentevriend Johann Rupert het hom dadelik bygestaan sodat hy by Amerika se topkankerhospitaal, die wêreldbekende M.D. Anderson-kankersentrum in Houston, die beste moontlike behandeling kan kry.

By hul huis in Durbanville is Rob se dogter Roxy (22) – self ’n uitblinker in branderplankry en hokkie asook ’n internasionale model – baie besorg oor haar pa, maar tog ook ongelooflik positief.

‘‘Ek het pas met my ma oor die telefoon gepraat. Skanderings is gedoen en die behandeling moet nog begin,’’ het Roxy gesê terwyl sy haar tasse pak om by hulle te wees.

Rob se ander drie spruite, Misty (20), Shaahnee (19) en Robbie (17), hou die fort tuis, maar hulle is almal geïnspireer deur die positiewe boodskappe wat steeds instroom.

Veral die boodskap van bemoediging van die Amerikaanse fietslegende Lance Armstrong beteken vir hulle baie. Hy het in 1996 teen alle verwagtinge in testikulêre kanker oorwin nadat dit reeds na sy longe, buik en brein versprei het.

Lees meer oor Rob se siekte in Huisgenoot van 29 Oktober.