
’n Haasbekkie lê uitgestrek oor die bed vol klere en neul oor die fraai blommemeisierok waarin sy nie wil glip nie. ‘‘Mammie, ek kry nie asem daarin nie,’’ kerm die sesjarige Mila Jooste wat nou-nou roosblare vir haar Bok-oom Pierre Spies en sy verloofde, Juanné Weidemann, op die wit tapyt na die kansel moet gooi.
Rondom haar skarrel Pierre (23) se sussies en die strooimeisies, Johanni en Steffani Spies, met warmtange om elke krul in hul kapsel perfek te draai. ‘‘Die haarkapper het verdwaal en is drie uur laat,’’ verduidelik Mila se ma, Steffani, dié deurmekaarspul.
In die kamer langsaan sluk die bruid se ma, Mariánne Weidemann, die ergste spanning met ’n glas sjerrie weg.
Maar terwyl nog ’n bruidsmeisie se grimering opgeknap word en ’n ander een sukkel om haar skoene vas te maak, kan niks die bruid ontstel nie. Juanné (22) lyk statig in haar asemrowende syrok van R25 000 deur Guy Granger.
Elders in die gastehuis op Chez Charlene, die landgoed buite Pretoria waar die Bok-agtsteman en sy bruid oor minder as ’n halfuur trou, kan Pierre ook nie sy glimlag keer nie. ‘‘Ek is nie senuweeagtig nie, ek wil nou net trou,’’ tel hy die minute af.
Terwyl die groenoog-biokinetikus van Pretoria tien dae voor haar troudag haar laaste finalejaarsvak geskryf het, was haar verloofde een van die uitblinkers in die Springbok-span wat die Engelse Rose ’n loesing op Twickenham in Londen gegee het.
Maar vandag is die aantreklike rugbyspeler se enigste doel om sy meisie van amper drie jaar mev. Spies te maak. ‘‘Toe Pierre terugkom en op die lughawe in Johannesburg land, was sy eerste woorde: ‘Nog net ses dae!’ ’’ vertel Juanné.
Die twee moes bontstaan om tussen Pierre se Bok- en Blou Bul- rugbyprogram en Juanné se eksamenrooster ’n geskikte troudatum te kry, en daarom het hulle op ’n Dinsdag besluit.
En net so amper was daar ’n stok in die wiel: Pierre is gekies om vir die Barbarian-rugbyspan te speel, maar hy wou so graag ’n getroude man word dat hy besluit het om dié eer van die hand te wys.
– Lees in Huisgenoot van 11 Desember oor die Springbok-rugbyspeler Pierre Spies se troue.