Friday, 12 June 2009

Sportpes spog met sy ‘prestasies’


Wat Roger Federer en die toeskouers om die Philippe Chatrier-baan op die dag van die Franse Ope-eindstryd nie geweet het nie, was dat die man wat so amper Roger se historiese oomblik bederf het, ’n ou kalant is wat wedstryde al so gereeld ontwrig het dat hy selfs ’n bynaam het: Jimmy Jump.

Dié sportmal sensasiesoeker is eintlik Jaume Marquet Cot van Spanje.

Wanneer Jaume nie sportbeamptes die harnas injaag nie, verkoop hy eiendomme. Hy is ná sy groot oomblik op Roland Garros in hegtenis geneem en ondervra.

Hy wou maar net vir Roger verseker van sy steun, het omstanders hom hoor sê toe die wagte hom wegsleep.

‘‘Maar kon jy nie dit van die paviljoen af gedoen het nie?’’ het Federer-aanhangers later op webtuistes gemor.

Indien die Franse tennisfederasie ’n klag teen hom indien, kan Jimmy Jump 12 maande agter tralies deurbring, maar dit skeel hom min.

Hy spog eerder nou op sy webtuiste oor sy ‘‘prestasie’’ by die eindstryd van die Franse Ope.

Hy wil die wêreld laat lag, sê hy, en hy droom al van die dag dat hy sy eie ster op die Hollywood Walk of Fame kry . . .

Hy was selfs die inspirasie vir ’n dokumentêre rolprent, Jump! The World’s Greatest Streakers, hoewel Jimmy met al sy klere aan nael.

Jimmy Jump doen nou al vyf jaar sy ding, van die dag in die Euro 2004-sokkereindstryd tussen Portugal en Griekeland toe hy ’n vlag na die Portugese kaptein geslinger het.

Lees meer oor Jimmy Jump in Huisgenoot van 18 Junie.