
Net ’n jaar gelede was hy nog een van Eden se hubare jong manne wat met sy passies op die verhoog die meisies tot raserny gedryf het. En nou is Jay du Plessis nie net ’n getroude man nie, maar boonop pa van twee en doodgelukkig in dié rol.
Dít kan jy hoor wanneer hy van die koms van sy en Mia se klein Samuel vertel.
“Natuurlik is ’n mens maar lekker senuagtig voor die tyd,’’ sê die nuwe pa. ‘‘Maar as alles eers verby is, wanneer jy weet jou kind en vrou is gesond en daar is geen komplikasies nie, is dit ’n gevoel waarvoor ek nie woorde het nie. Verligting, dankbaarheid, trots, opgewondenheid – sommer alles deurmekaar!’’
Nie net is hy nou die trotse pa van ’n babaseun nie, maar Jay speel ook pa vir Aidan (3), Mia se eersteling uit ’n vorige verhouding.
Die kleinman kom klouter juis nou op Jay se skoot en gooi sy arms om sy nek. ‘‘Daddy, daddy! ’’ roep hy.
Hy is ewe opgewonde oor sy kleinboet se koms. Toe Jay hom die baba wys, het hy sy arms uitgesteek en heeltyd gesê: ‘‘My Samuel, my Samuel!”
Dit was geensins moeilik om binne ’n enkele jaar van die rol van vrygesel na dié van pa van twee te verwissel nie, vertel die 32-jarige sanger.
‘‘Ek hou van kinders. Daar is baie kinders in my familie en baie van my vriende het ook al kinders. Ek is mal oor hulle almal,’’ gesels hy langs die swembad by hul huis in Erasmuskloof, Pretoria.
Hy is die laaste lid van Eden wat die strop om die nek gekry het, en die dae is lank verby toe twee hotelkamers genoeg was vir die hele groep wanneer hulle gaan toer het.
‘‘Ons moet nou vyf kamers bespreek, want almal se gesinne gaan meestal saam. Dis een groot en lekker familie wanneer ons op pad is.
‘‘Ja, so verander die tye,’’ lag Jay en jy kan sien hy verlang glad nie na sy losloperdae van nie so lank gelede nie.
Lees meer oor Jay se besige jaar en sy planne vir aanstaande jaar in Huisgenoot van 19 November.