
Met soveel spelers wat tussen die Curriebeker- en Super14-seisoen van span verander, doen gerugte nou die ronde dat die Cheetah-voorspeler Heinrich Brüssow Bloemfontein vir Durban wil verruil. Die SA Jong Speler en Provinsiale Speler van die Jaar het ook nie juis die gerugte nek omgedraai by die jaarlikse SA Rugby-toekenningsaand wat onlangs by Vodaworld in Midrand gehou is nie. “Ek kan miskien na Durban verhuis, maar dit sal nie voor volgende seisoen wees nie,” het hy gesê. Natalie du Toit het ’n hele paar handtekeninge sommer op ’n servet versamel. Met dié in die hand het die inspirerende swemmer geglimlag en gesê: “Ek weet nie hoekom ek genooi is nie, maar ek moes net ja sê. Die servet is my spesiale herinnering aan vanaand. Ek gaan dit laat raam!”
Sien foto’s van die bekendes by die toekenningsaand in Huisgenoot van 12 November. Lees ook die jongste oor onder andere Jo-Ann Strauss, Derek van Dam en Kurt Darren.