
Hulle noem mekaar Babba; soms sê sy vir hom Babes.
Sy krul van die lag vir sy lawwigheid en hy kan nie ophou soentjies op haar voorkop plant nie.
Ons kuier by ’n blinkoog- Emo Adams (31) en sy donkerkop-modelmeisie, Michelle Gildenhuys (22).
Vandag gesels dié baie privaat sanger, akteur en teaterman die heel eerste keer openhartig oor die vrou wat sy voete sommer behoorlik onder hom uitgeskop het.
Die twee is vol pret ten spyte van die donker wolk wat oor Emo se kop hang.
Sy gewese bestuurder, Mia Breet, het hom hof toe gesleep nadat hul sakeverhouding versuur het.
Sy eis dat die sanger belet word om vir eie gewin op te tree tot hy hom onttrek het aan die beslote korporasie D’Six Entertainment wat hulle drie jaar gelede saam gestig het.
Intussen het ’n liefdesbrief van haar aan hom in die hofstukke bekend geword, so ook bewerings van jaloesie en dreigemente.
Die saak sleep nou voort tot 12 Mei aanstaande jaar, wanneer dit weer in die hof voorkom. Maar die gees hier in die knus nessie in Kraaifontein buite Kaapstad waar die duifies al die afgelope jaar woon, bly onblusbaar hoog.
Dis ’n gesellige blyplek. Kiekies van die paartjie begroet jou al met die intrapslag. Teen die kombuismuur pronk ’n Huisgenoot-Tempo-voorblad van Emo en modelfoto’s van Michelle, ’n gewese Mej. Suid-Afrika-finalis, en op die kombuistoonbank staan die lekkerste eetgoedjies uitgestal.
En kyk jy vir Emo, vang jy hom telkens dat hy hom skoon vergaap aan die mooi vrou hier langs hom . . .
Lees meer oor Emo en Michelle se liefde in Huisgenoot van 26 November.