Thursday, 19 November 2009

Mooiste All Blacks – uit SA!


Hulle is so Suid-Afrikaans soos braaivleis en biltong, al is sy al 13 jaar en hy sewe jaar gelede landuit. Maar Magdalena Schoeman (19) en Arnold du Toit (25) hou ons land se naam hoog oorsee – dié twee gebore Suid-Afrikaners is vanjaar as Mnr. en Mej. Nieu-Seeland gekroon.

Magdalena is in Bellville buite Kaapstad gebore. Van haar familie woon nog in Suid-Afrika en is geweldig trots op haar.

‘‘Ek kry baie ondersteuning van hulle. Omdat dit so ver en duur is, kan ek ongelukkig nie gereeld kom kuier nie, maar my titel as Mej. Nieu-Seeland het my gelukkig die kans gegee om in een jaar twee keer na Suid-Afrika te kom!’’

Sy was in Junie hier om Nieu-Seeland by die Fifa-Konfederasiebeker-sokkertoernooi te verteenwoordig en is binnekort weer hier vir die Mej. Wêreld-kompetisie op 12 Desember in Johannesburg. ‘‘Ek mis die warm klimaat en die passievolle, heerlike Afrika-ritme.’’

Die pragtige brunet het selfs twee Suid-Afrikaanse borge – die Kaapse ontwerper Lalesso het vir haar ses rokke geleen en Aninka Harms van Stellenbosch leen vir haar juwele.

Sy was ses jaar oud toe sy saam met haar ouers, Fanie en Riana Schoeman, na Nieu-Seeland is. Avontuurlus en ’n kans om nuwe geleenthede na te jaag het die Schoeman-gesin destyds laat trek, en 13 jaar later woon hulle steeds in Christchurch.

Arnold woon nou sewe jaar in Cambridge nadat sy gesin in 2002 besluit het om ’n bietjie hul vlerke te sprei. Hulle sou aanvanklik net in Nieu-Seeland bly vir sendingwerk, maar het uiteindelik daar nesgeskop.

‘‘Ek is in Nelspruit gebore in die mooi ou Oos-Transvaal,’’ vertel hy. ‘‘Al ons familie woon nog in Suid-Afrika, van die Kaap tot in die Noorde, en almal is werklik opgewonde oor my titel. Hulle ondersteun my ten volle.’’

Lees meer oor Magdalena en Arnold in Huisgenoot van 26 November.