
Nog effe rooi van die stort draf Alviro Peterson by die trap van sy huis in Centurion af. Die son stroom deur die vensters in die woonkamer, maar hy stap deur tot in sy spesiale koninkryk. Die ekstra woonvertrek is eenvoudig ingerig met ’n rusbank, ’n TV en ’n stel tuinmeubels, die tafel gedek vir ’n formele dinee vir vier.
‘‘Ja, ek het dit gedoen. Ek dink dit gee die vertrek ’n bietjie kleur,’’ sê die volbloed-krieketspeler ongeërg.
Alviro, aanvangskolwer vir die Highveld Lions, het tevore al teen die liggewigspanne van Zimbabwe en Bangladesj gespeel, maar pas is hy opgeroep vir die grootste uitdaging nog sedert hy die Protea-hemp die eerste keer oor sy kop getrek het – hy is gekies om teen Engeland te kolf op hul toer deur Suid-Afrika.
En hy het reeds sy visier op ’n hoër teiken. ‘‘Dis maar net die eerste stap,’’ sê hy. “Om ’n permanente lid van die span te word is die volgende.’’
Samantha, sy bruinhaarvrou, sit ’n skinkbord met koeldrank neer en vlei haar langs hom op die rusbank neer. Sy geraamde Protea- en Lion-trui hang bo die bank. Die armband met hul name daarop gegraveer gly teen haar arm af. ‘‘Dis die eerste Kersgeskenk wat ek by Alviro gekry het,’’ vertel sy. “Ons het toe nog net ’n maand uitgegaan, maar ek het geweet dit was ernstig.’’
Hy druk sy hand in Samantha s’n en gesels weer krieket. ‘‘Daar is ’n paar uitstekende Suid-Afrikaanse krieketspelers, maar tegnies is ek beter as die meeste,’’ sê hy sonder omhaal. Dan praat hy verder in sy rustige stem: ‘‘Dis ’n groot eer om die een te wees wat ’n speler vervang wat so goed soos Herschelle Gibbs is. En ’n uitdaging!’’
Sy selfvertroue sal dié somer getoets word met die Proteas wat die Engelse nou plaaslik aanvat en Alviro wat die vyfde plek op die kolflys beklee.
Leer Alviro beter ken in Huisgenoot van 26 November.