Friday, 06 November 2009

Juan: Nuwe Bok-blits uit die WP


Hy het “hart” – dit sê al die Bolanders oor Juan de Jongh, almal van sy eie mense tot sy afrigters en die onnies by sy ou skool.

En ons nuwe sentertalent moes bepaald moed hê om hom ten spyte van terugslae met skitterende Curriebekerrugby in die Boktoergroep in te speel.

Die 21-jarige WP-ster glimlag breed hier by sy Wellingtonse ouerhuis kort voor sy buiging in die toer se openingswedstryd teen Leicester, die Engelse Premierligakampioen. Vorentoe wag Frankryk, Saracens, Italië, Ierland en wie weet watter kanse nog dalk vir die jong Juan.

“Ek’t so half in die lug opgespring toe my naam vir die toer uitgelees word,” grinnik hy.

“En dit was net op TV, toe lui die foon non-stop.”

Hulle is die laaste ruk kort-kort deur mense voorgekeer wat reken hy verdien ’n plek in die Bokgroep, sê sy meisie, Magon Matthyse. Hy het verlede jaar in Stellenbosch met dié 22-jarige finalejaarstudent in internasionale studie begin uitgaan.

Hulle het dit half verwag, maar dit was nietemin ietwat van “ ’n skok”, glimlag ma Margi, ’n rots in dié hegte, gelowige gesin wat Juan deur donker beseringstye ondersteun het. Pa Johann vat almal se gevoelens saam: “Trots. Baie trots . . . diep uit die hart.”

Dis ’n geweldige eer, meen Juan. “My eerste doelwit is om in die weekspan te wees, my bes te doen en my byvoorbeeld in die span teen Italië te probeer inspeel.”

Ontleders reken hy was vanjaar ’n “openbaring” op buite- sowel as binnesenter. Maar net verlede jaar nog het Juan met ’n heupbesering aan ’n bed vasgegord gelê. En hy was ná baie maande skaars terug op die veld toe die teëspoed hom weer tref. Des te merkwaardiger dus is sy blitsopgang in Curriebekerkringe.

Leer Juan beter ken in Huisgenoot van 12 November.