Friday, 05 December 2008

Pierre Spies vat vrou


’n Haasbekkie lê uitgestrek oor die bed vol klere en neul oor die fraai blommemeisierok waarin sy nie wil glip nie. ‘‘Mammie, ek kry nie asem daarin nie,’’ kerm die sesjarige Mila Jooste wat nou-nou roosblare vir haar Bok-oom Pierre Spies en sy verloofde, Juanné Weidemann, op die wit tapyt na die kansel moet gooi.

Rondom haar skarrel Pierre (23) se sussies en die strooimeisies, Johanni en Steffani Spies, met warmtange om elke krul in hul kapsel perfek te draai. ‘‘Die haarkapper het verdwaal en is drie uur laat,’’ verduidelik Mila se ma, Steffani, dié deurmekaarspul.

In die kamer langsaan sluk die bruid se ma, Mariánne Weidemann, die ergste spanning met ’n glas sjerrie weg.

Maar terwyl nog ’n bruidsmeisie se grimering opgeknap word en ’n ander een sukkel om haar skoene vas te maak, kan niks die bruid ontstel nie. Juanné (22) lyk statig in haar asemrowende syrok van R25 000 deur Guy Granger.

Elders in die gastehuis op Chez Charlene, die landgoed buite Pretoria waar die Bok-agtsteman en sy bruid oor minder as ’n halfuur trou, kan Pierre ook nie sy glimlag keer nie. ‘‘Ek is nie senuweeagtig nie, ek wil nou net trou,’’ tel hy die minute af.

Terwyl die groenoog-biokinetikus van Pretoria tien dae voor haar troudag haar laaste finalejaarsvak geskryf het, was haar verloofde een van die uitblinkers in die Springbok-span wat die Engelse Rose ’n loesing op Twickenham in Londen gegee het.

Maar vandag is die aantreklike rugbyspeler se enigste doel om sy meisie van amper drie jaar mev. Spies te maak. ‘‘Toe Pierre terugkom en op die lughawe in Johannesburg land, was sy eerste woorde: ‘Nog net ses dae!’ ’’ vertel Juanné.

Die twee moes bontstaan om tussen Pierre se Bok- en Blou Bul- rugbyprogram en Juanné se eksamenrooster ’n geskikte troudatum te kry, en daarom het hulle op ’n Dinsdag besluit.

En net so amper was daar ’n stok in die wiel: Pierre is gekies om vir die Barbarian-rugbyspan te speel, maar hy wou so graag ’n getroude man word dat hy besluit het om dié eer van die hand te wys.

– Lees in Huisgenoot van 11 Desember oor die Springbok-rugbyspeler Pierre Spies se troue.

Suri, die koelste kleuter in Hollywood


Die tweejarige Suri Cruise het dalk eers onlangs die potjie leer gebruik en moet nog ’n mes en vurk baasraak, maar sy het daardie spesiale iets wat haar van die res van Hollywood se glanskleuters onderskei.

Dit word sterstyl genoem – en daarmee het die klein donkerkop-skoonheid die eerste plek op Forbes.com se lys van mooiste Hollywood-kleuters vir 2008 verower. Daarmee het sy Cruz Beckham, Madonna se David Banda, Heath Ledger se Matilda en Brangelina se Zahara en Shiloh uitgestof.

Dis nie die eerste keer dat Forbes haar vanjaar vereer nie.
In Oktober was sy onder die toptien op hul lys van waardevolste glansgesigte, gegrond op watter gesigte op die voorblad die meeste tydskrifte laat verkoop. Angelina Jolie en Jennifer Aniston was boaan die lys en Suri sewende – met haar ouers, Katie Holmes en Tom Cruise, nêrens te sien nie.

Van die oomblik dat die eerste foto’s van haar verskyn het, was Suri ’n fenomeen. Tom en Katie het haar vier maande lank weggesteek terwyl die media oor hul voete geval het om haar te sien. Toe stem hulle uiteindelik in tot ’n fotosessie met die tydskrif Vanity Fair.

Dit was goud werd. Altesaam 4,3 miljoen mense het Vanity Fair se webtuiste besoek nadat die foto’s daarop geplaas is, en die tydskrif is oor die hele Amerika uitverkoop.

Deesdae is die immer teenwoordige paparazzi daar om elke nuwe haarstyl waarmee Suri spog en elke uitstappie af te neem en wêreldwyd te verkoop.

Maar ten spyte van dit alles lyk sy so vriendelik. Al die aandag en bewondering kon van haar ’n klein monster gemaak het, maar Suri glimlag gewoonlik en lyk innemend, skaam en goed gebalanseerd, en so gewoon soos enige kind – buiten die ontwerperskoene.

Tom en Katie het vrede gemaak met die swerms fotograwe wat om hul klein poppie fladder. Tom het selfs erken van die paparazzi-foto’s van sy dogtertjie is ‘‘ongelooflik’’.

‘‘As ouer wil jy jou kind beskerm, maar Suri sal eenvoudig op straat vir mense waai,’’ sê hy trots. ‘‘Sy is so ’n gelukkige, vrolike kind. Almal wil haar sien.’’

– Lees in Huisgenoot van 11 Desember meer oor die skattige Suri Cruise.

Troudag van Taliep se dogter


Haar pa het in ’n droom na haar gestap en haar ringvinger gesoen. Dit is hoe Jawaahier Petersen (22) weet haar vermoorde musieklegende-pa, Taliep, het sy seën oor haar huwelik uitgespreek nog voor haar troue vandag.

Dis 30 November, twee dae voor haar stiefma, Najwa, skuldig bevind is aan die moord op haar pa. Maar vandag het Jawaahier, ’n maatskaplike werker en aanbieder van die TV-program An Nur op SABC1, en Ridhaa Damon (24), ‘n wiskunde-onnie en kranige rugbyspeler, net een vereiste: ‘‘Geen huilery nie, asseblief.’’

Amper twee jaar is verby sedert die moord op haar pa, maar vandag probeer sy naasoudste kliphard keer dat trane haar en haar aanstaande se troudag bederf.

Jawaahier kom uitgestap in ’n roomkleurige pofrok met ’n halssnoer wat blink om haar nek en ’n kroontjie op haar kop. Sy lyk soos ’n prinses. Ma Madeegha Anders soen en druk haar kind tranerig voor sjeg Sieraaj Johaar begin bid en so sy seën oor haar huwelik uitspreek.

Die bruidegom se nikaah-seremonie (trouplegtigheid) is terselfdertyd in die moskee daar naby aan die gang, met net mans wat die seremonie bywoon.

Daarna vertrek die bruid in ’n Rolls-Royce na die Athlone-burgersentrum. Toe Ridhaa ook opdaag, steek hy die trouring aan sy bruid se vinger.

Ná ‘n fotonemery in die Bo-Kaap keer die geselskap terug na die burgersentrum vir die onthaal. Meer as vyfhonderd gaste staan op en klap hande toe die twee en hul gevolg op ’n wit versierde verhoog gaan sit vir nog foto’s en gelukwense.

Ja, sy weet dit is nie tradisioneel dat ’n bruid op haar troudag praat nie, maar Jawaahier se hart brand. Eers bedank sy haar ma en sê toe: ‘‘Van kleins af was ek my daddy’s little girl. Selfs al het ek sy motor met my eerste fiets geskraap, het hy geglimlag.

‘‘Hy was my alles. Maar ek moes sonder hom 21 word en my graad ontvang. Vandag trou ek sonder hom en hy kan nie sien hoe pragtig ek lyk nie. Maar al verander ek my van, ek sal altyd daddy’s little girl bly . . .’’

– Lees in Huisgenoot van 11 Desember meer oor Jawaahier Petersen en Ridhaa Damon se troue.

Bond se beeldskone Olga


Dis ’n heel besonderse Bond-meisie – en die heel eerste een wat nie saam met 007 in die bed beland nie.

Maar moenie twyfel nie: Met Olga Kurylenko van die Oekraïne se voorkoms skeel minder as niks. Die smeulende brunet met die katgroen oë laat vorige Bond-meisies trouens ietwat vaal lyk.

Maar sy’s ’n konserwatiewe Bond-meisie, sê die 29-jarige aktrise en model. In Quantum of Solace is daar geen bedmanewales of selfs eina-bikini’s nie. In die fliek, wat pas hier begin draai het, vertolk sy die rol van die geheimsinnige Camille, ’n Russies-Boliviaanse agent wat, nes Bond, die dood van geliefdes wil wreek.

En Camille is, anders as die Bond-meisies van ouds, nie gediend om bloot aan James se arm te hang en mooi te lyk nie. Sy laat skurke les opsê, spring van geboue af, baklei op ’n motorboot wat teen ’n hoë spoed ry en haal ’n vuurwapen binne ’n rekordtyd van agt sekondes uitmekaar.

Sy het aanvanklik gedink sy het nie met die oudisie vir die 22ste Bond-fliek die paal gehaal nie. Sy het die verkeerde teks gememoriseer en die regisseur, Marc Forster, was nie te ingenome met haar nie

Maar nog twee oudisies in Londen het gevolg, en toe kom die groot nuus. ‘‘Dit was Oukersaand toe ek hoor ek het die rol gekry. Ek was saam met my vriende en kon nie ’n beter present gevra het nie,’’ vertel sy opgewonde.

Daniel Craig, wat nou vir die tweede keer die rol van Bond vertolk, het self ’n goeie woordjie vir haar gedoen omdat hy so gemaklik saam met haar gevoel het.

Die maand lange voorbereiding vir die rol was straf. Sy moes vier uur per dag oefen vir aksietonele, en nog ’n ekstra twee uur leer hoe om met ’n vuurwapen te werk.

Maar dit was toe al die sweet werd. Toe Quantum of Solace op Olga se 29ste verjaardag uitgereik is, het dit in Brittanje en talle ander lande loketrekords laat spat. Praat van ’n lekker verjaardaggeskenk!

– Lees in Huisgenoot van 11 Desember meer oor die smeulende Olga Kurylenko.

Nuwe resepte in die reën


Nico en Christi Panagio het die opening bygewoon van 7de Laan se Diaan Lawrenson en haar akteur-kêrel, Jody Abrahams, se restaurant Die Dagbreek.

Die reën het amper die makietie in Villiersdorp in die Wes-Kaap bederf en daar moes omtrent rondgeskarrel word om die partytjie te red.

‘‘Jis, dit was darem nou vir jou ’n ding! Maar die terugvoer was absoluut wonderlik. Al ons vriende en kollegas het ons ondersteun,’’ vertel Jody. ‘‘Van die dorp se inwoners was eers skepties oor die nuwe restaurant. Villiersdorp is mos ’n rustige plekkie en hier kom die mense van die TV en krap alles deurmekaar. Maar die tannies het so lekker gejol, en dit nogal in die reën.’’

Die akteurspaar wil met ’n Op die Stoep-fees begin waar gaste by kerslig stories vertel en die kitaar tokkel. ‘‘Ons wil hê die plaaslike gemeenskap moet ook betrokke raak sodat ons kan werk skep vir mense.’’

Lees meer oor plaaslike bekendes in Huisgenoot van 11 Desember.

Thursday, 27 November 2008

Heléne Lombard wys haar drie seuns


Wanneer die voëltjies soggens begin fluit, is daar ’n rustigheid in die huis. Pa bring vir Ma ’n koppie tee of ’n skuimende cappuccino in die bed en klim self weer terug onder die komberse. En al drie seuntjies sit op ’n streep tussen hul ouers teen die opgepofte kussings.
Dis ’n vredigheid wat niks kan versteur nie . . .

Maar drie woelwaters onder die ouderdom van vyf kan nie lank gelyk stilsit nie, en wanneer die vrede met sonsopkoms verby is, speel die aktrise Heléne Lombard en haar man, Craig (40), die res van die dag behoorlik aflos. Terwyl Heléne die twee maande oue Ronin borsvoed, sorg Craig, ’n prokureur, dat klein Lucien (4) en Marcel (2) hul melk drink. En wanneer die aktrise haar oudstes aantrek vir kleuterskool, koester Craig die kleintjie teen sy bors.

Hulle vat hier en los daar, maar die beeldskone brunet wat jare lank die rol van die slinkse Sandra Stutterheim in 7de Laan vertolk het, floreer in dié jolige harwar en lyk gelukkiger as ooit tevore.

Kykers gaan Sandra helaas nie binnekort weer in Hillside sien nie. ‘‘Maar ’n mens moet ook nooit sê nooit nie,’’ sê Heléne. Sy vertolk deesdae elke dan en wan die rol van Rachel in die sepie Generations, en sê dis heerlik om weer voor die kameras te wees.

‘‘Ek sal nie sommer weer heeltyds toneelspeel nie, maar ek gaan ook nou weer vir oudisies en sal graag deeltyds wil werk. Ek het gedink ek sal ophou met toneelspel, maar ek het besef ek kan nie, dit bly maar my passie.’’

Haar man en kinders kom deesdae eerste. Maar selfs al speel die kroos deesdae koning in die huis, begin Heléne klaar weer wonder of daar nie plek is vir nog enetjie nie. ‘‘Craig het nou die dag vir my gesê: ‘Ag, ons maak sulke mooi kinders saam!’ Toe sê ek: ‘Maar kom ons maak dan nog enetjie . . .’ Hy’t onmiddellik gesê: ‘Nee!’ ’’

Sy lag en daar is ’n ondeunde vonkel in haar oë. Sy glo immers: Moet nooit sê nooit nie . . .

– Lees in Huisgenoot van 4 Desember meer oor die aktrise Heléne Lombard en haar drie woelwaters.

Boekbonus: Bok Percy praat


Hy het in Augustus die heel eerste Springbok geword wat in honderd toetswedstryde gespeel het. Maar ná vyftig toetse het ’n diep neerslagtige Percy Montgomery doer in Wallis gedink hy sou nooit weer die Groen-en-Goud dra nie.

In ’n onthullende biografie vertel Mark Keohane hoe ons voorste puntemasjien byna nie vir Tasmin Tobitt voor die kansel gekry het nie, en hoe diep gekwets hy was deur die uitjouery van sekere aanhangers. Hier volg ’n uittreksel:

In 1999 was hy deel van die Stormers se Super12-seisoen, die Drienasies- en die Wêreldbeker-toernooi, maar die mees betekenisvolle ding wat met Percy Montgomery gebeur het, het nie rugby behels nie.

Die dag toe hy Tasmin Tobitt gewaar, het hy gedink hy sou met haar trou. Dit was by die Baxter-teater in Kaapstad, waar hulle albei ’n vertoning bygewoon het. Die twee is aan mekaar voorgestel en so het die poging begin om haar hart te wen. Montgomery sê dit was taaier as enige rugbytoets.

‘‘Sy was selfstandig en het haar loopbaan as model gehad. Sy het nie rugby gekyk nie en nie die spelers geken nie. Toe ek haar nommer kry en haar vra om uit te gaan, het sy nee gesê. Maar so maklik sou ek nie tou opgooi nie.

‘‘Ek het vasgestel sy het ’n seun en is ’n paar jaar tevore geskei. Sy was versigtig in die eerste ses maande, wou my nie te naby toelaat nie, en ons was meer vriende as meisie en ou.’’

Tasmin sê sy wou nie haar seun, Nicholas, aan iemand blootstel wat voor die einde van die rugbyseisoen uit haar lewe kon verdwyn nie.

‘‘Ek was destyds huiwerig om ’n verhouding met hom aan te knoop, want ek was bang vir die wêreld waarin hy beweeg het. Daardie omgewing was te intens en te wild na my sin.’’

Wen!
Vyf getekende eksemplare van Monty deur Mark Keohane is te wen. SMS die woord MONTY gevolg deur jou naam, van en adres na 34922. Die sluitingsdatum is 11 Desember. Elke SMS kos R2. Jy kan soveel keer deelneem as wat jy wil.

– Lees in Huisgenoot van 4 Desember die volle uittreksel uit Monty: His Life Story deur Mark Keohane, uitgegee deur Mark Keohane en Highbury Safika Media (Edms.) Bpk.