Friday, 31 July 2009

Eksklusief: Izak Davel se troue


Daar is geen teken van senuwees wat knaag toe die bruidegom en sy ma vroegoggend ’n entjie deur die tuin stap nie.

Ma en seun dwaal hand aan hand tussen die populierbome deur met blare blink in die wintersonnetjie en gesels rustig oor ditjies en datjies terwyl ’n pronkerige pou op die agtergrond na sy maat roep.

Was dit nie vir Izak Davel (26) se snyerspak en die beeldskone ruikers pienk rose en pers pronkertjies, lelies en krismisrose in die tuin by die Memoire Wedding and Function Venue in Muldersdrift nie, sou jy kwalik glo dis dié hartebrekersanger en voormalige Egoli-akteur se troudag. Hy is so rustig soos ’n man wat eintlik lankal in sy hart en kop getroud is.

Maar toe die fyn donkerkop Mericke de Wilde (28) ’n paar uur later in haar asemrowende Bondesio Couture-trourok met sy uitklokromp van 360 m gevoude stof in die kerk se deur verskyn, skiet Izak se oë vol trane.

Hy’s skielik oorweldig deur die grootsheid van die oomblik. ‘‘Ek kon nie anders as om te tjank nie; sy is die mooiste vrou in die land,’’ sê die bruidegom later en lag ’n bietjie vir homself.

Hy erken hy’s self verbaas oor hoe prentjiemooi en perfek alles uitgewerk het – hy en Mericke het immers op die ingewing van die oomblik besluit om hul troudag met ’n jaar te vervroeg, en hulle het die ganse makietie binne net vyf weke gereël. Nie omdat hulle moes nie, maar omdat hulle wóú.

Want hulle het op die harde manier geleer die lewe is kort en broos en belangrike dinge durf nie wag nie.

Kort nadat Mericke en Izak mekaar in Desember 2006 ontmoet het, is kanker by haar gediagnoseer en die aantreklike sanger het haar vanuit die staanspoor bygestaan in haar stryd om oorlewing.

Maar vandag tob hulle nie oor die verlede nie.

‘‘Ons pak nou die lewe van voor af saam!’’ sê Izak terwyl hy na sy beeldskone bruid kyk.

Lees meer oor die troue in Huisgenoot van 6 Augustus.

Eksklusief: Christina en ma praat


Toe Steve Hofmeyr so siek was verlede jaar, het tientalle dringende gebede vir hom en sy gesin opgegaan in die ouerhuis van die mooi, jong Kaapstadse eiendomsagent wat toe nog sy geheime minnares was.

Hier in die einste gesellige sitkamer van die huis in Oos-Londen, vertel Christina se ma, Bokkie Bergh (haar regte naam is Pierretta) hoe hul gemeentelede bymekaargekom het om vir hom te bid.

“Ons het so gehuil en was so bekommerd oor sy vrou en sy kinders. Ons het gevra dat die Here hom spaar vir sy familie. En toe hy weer op die been is, gaan hy maar net weer aan met sy dinge . . . Waar is sy trots?’’ vra sy verontwaardig.

Nadat Christina ’n week tevore in Huisgenoot eindelik die sluier gelig het oor die veertien jaar lange skelm verhouding wat sy met die sanger gehad het, het sy nou hier by haar geliefdes kom rus en troos vind.

En vir Bokkie is dit ’n reuse verligting dat alles nou eindelik tot ’n punt gekom het. Sy het nooit gedink haar dogter sou standpunt inneem teen Steve nie, sê die ma, maar dit was hoog tyd.

Christina was nog ’n tiener toe Steve vir haar gesê het: ‘‘Moenie dat iemand afbreuk doen aan jou drome nie.’’ En met romantiese gebare het hy gesorg dat sy bly droom het dat hy eendag dalk net hare sou wees.

As sy nou daaraan dink, is dit so ironies dat Steve haar destyds nog beloof het om mooi met haar dogter te werk, sê Bokkie.
Sy het geweet Christina is verlief op die hartebreker-sanger, maar was tog ’n bietjie geskok toe sy die foto’s sien van haar agttienjarige dogter wat die popster op die aand van hul ontmoeting by een van sy konserte soen. Hy was toe nog ongetroud.

Toe, ’n jaar later, het Steve vir haar, Christina en haar ouboet Bennie vir ete by die Spur geneem ná ’n konsert in King William’s Town.

Sy het geweet daar was iets tussen die twee, en sy het met die vinger na hom gewys en gesê hy moenie haar dogter seermaak nie.

“Hy het belowe hy sal mooi na haar kyk en haar nie kwaad aandoen nie,’’ sê Bokkie. “Maar tog het hy willens en wetens haar hart gebreek.”

Lees die res van die onderhoud met Christina en haar ma in Huisgenoot van 6 Augustus.

Eksklusief: Mathys wys ‘nuwe’ huis


So gee jy vet, verduidelik die lenige man agter die stuur van sy silwer Jeep Cherokee. Sy skraal vingers wat gewoonlik so lig oor die kitaarsnare gly, vou stewig om die hefboom terwyl hy dit nader trek. ‘‘Wanneer jy wil rem, maak jy so,’’ wys Mathys Roets.

Die 43-jarige sanger se stem is net so ferm, net so selfversekerd soos sy greep om die spesiale hefboom teen die stuurwiel. En so, met sy bene bewegingloos voor die pedale gekruis, kyk Mathys die lewe weer vierkant in die oë. Hy is reg om die pad as parapleeg aan te pak.

Een van die dae vat hy weer die langpad Bloemfontein toe, waar hy lank in ’n koma gelê het ná die motorfietsongeluk waarin hy die gebruik van sy bene verloor het. Alleen, in dié silwer wa, en totaal onafhanklik, soos hy dit verkies. Dié keer om sy ondersteuners daar met twee musiekvertonings te bedank vir hul bystand.

Die gebrek aan privaatheid en die feit dat hy so afhanklik was van ander, het hom kwaai gehinder in die rehabilitasiesentrum in Randburg waar hy twee maande lank geleer het hoe om gewone dinge self te kan doen, soos om aan te trek en motor te bestuur. Maar dié irritasies het hom ook gedryf om intensief op sy herstelproses te fokus.

En met sy huis in Centurion in Pretoria, wat reeds verbreek en verbou is om in al sy behoeftes te voorsien, hoef Mathys niemand in die oë te kyk nie. Dis net soms, soos nou die dag toe hy met een van sy ratse bewegings uit sy Cherokee wou oorklim in sy rolstoel en die stoel buite bereik weggerol het, dat dinge nog lol.

‘‘Dan sit ek maar in die kar en skree of toeter tot iemand my hoor,’’ vertel hy.

Gelukkig is sy ma, Meisie, of sy pa, Boet, gewoonlik in die omtrek. Sy ouers het verlede jaar ná sy egskeiding by hom ingetrek.

Lees meer oor Mathys se nuwe lewe in Huisgenoot van 6 Augustus.

Van oorgewig tot Mnr. SA!


Die dag toe hy vir die Mnr. Suid-Afrika-kompetisie ingeskryf het, het hy nooit kon dink dit sou sy huwelik, sy selfbeeld en moontlik sy lewe red nie.

Stephen Segal, die vleispaleis wat toe in Maart met die titel weggestap het, het inderdaad baie om voor dankbaar te wees. Maande voor dié prestasie was die aantreklike 29-jarige op ’n laagtepunt – depressief, werkloos en kwaai oorgewig. Hy het die skaal op ’n gewigtige 112 kg getrek nadat hy in die bose kringloop van eet vir vertroosting verval het, en hy was so verleë oor sy voorkoms dat hy geweier het om afgeneem te word.

Maar kyk net hoe lyk hy nou! Die lang, donker, aantreklike man is die ene glimlagge en sy handdruk is ferm met die groetslag by ’n hotel in Centurion, Pretoria, waar ons hom en sy vrou, Adéle, ontmoet.

Die twee het die hotel hier naby hul blyplek gekies omdat hulle die huis restoureer wat hulle met hul honde, Hugo, Stella, Coco en Chloe, en die kat, Gucci, deel. Hulle is al drie jaar lank daarmee besig, sedert hulle ingetrek het, skerts Stephen.

Die huis is nie al ding wat ’n metamorfose ondergaan het nie. Oor ’n uitmergelende vyf maande en met die hulp van ’n persoonlike afrigter en ’n dieetkundige het Stephen 27 kg afgeskud, spiere gebou en die titel verower wat Top Billing se Michael Mol en die Pasella-aanbieder Dieter Voigt in die kollig geplaas het.

In sy grootwordjare in Durban was Stephen ’n regte kind van die see. ‘‘Ek was baie aktief en het in allerhande soorte watersport soos branderry en waterpolo belanggestel. En ek het op flank rugby gespeel,’’ sê hy.

Sy ouers het sy liefde vir sport aangemoedig omdat hulle gedink het dit sou hom uit sy dop laat kruip, maar Stephen was steeds baie teruggetrokke. ‘‘Ek kon nie met vreemdelinge praat nie,’’ vertel hy. ‘‘Maar toe word ek in matriek ’n leerlingraadslid. En omdat ek noodgedwonge moes leiding neem, het ek ietwat van ’n ekstrovert geword. Deesdae kan ek ure lank met vreemdelinge gesels.’’

Lees meer oor Stephen se metamorfose in Huisgenoot van 6 Augustus.

Mickey, man agter Proteas se sukses


Die lug is onheilspellend donker en kinders haas hulle huis toe voor dit begin reën. Hulle spring oor plasse buite die hoë mure van Mickey Arthur se huis in die spogbuurt Nahoon in Oos-Londen. Afgeëts teen die lig in die voordeur wag die Proteas se afrigter met ’n gul glimlag. ‘‘Ons was met vakansie. Drie weke in Umhlanga, louter genot.’’

Die afrigter van die nasionale krieketspan lei ons deur die huis wat hy met Yvette en hul dogters, Brook-Leigh (16), Kristin (14) en Ashton (11), deel, verby die tafel besaai met die meisies se huiswerk na die bastion van manlikheid in dié huis vol vroue: sy kroeg in die woonkamer. Op ’n ereplek staan ’n houtstandbeeld van ’n krieketspeler met sy kolf gereed en sy oë op die bal. ‘‘Dis my kosbaarste besitting,’’ sê Mickey van die geskenk wat Yvette hom gegee het.

‘‘Ek het dit 12 jaar gelede in Kimberley gekry,’’ sê sy en kyk trots na haar man van 18 jaar. ‘‘Ek het dit gesien en gedink Mickey sal altyd dol wees daaroor.’’

Die Proteas het ’n uitsonderlike jaar agter die rug: hul toetsoorwinnings oor die Engelse en die Australiërs, en die hoogtepunt om die seisoen af te sluit as die nommereen-eendagtoetsspan en die naasbeste toetsspan.

‘‘As Engeland en Australië nou net gelykop wil speel in die toets om die As, kan ons nommer een wees,’’ mymer Mickey.

Die werk aan dié hoogtepunt het al 18 maande gelede begin. ‘‘Ek en Graeme (Smith) het gaan sit en beplan en toe in die rigting van ’n paar groot doelwitte begin werk.’’

Hy kyk na die medaljes en pryse om hom en spog: ‘‘Ons speel met die selfvertroue wat kom van voorbereiding vir die groot oomblikke. Die oorwinnings in Engeland en Australië het die span met ’n oorweldigende gevoel van prestasie vervul.’’

Lees wat Mickey oor die Protea-sterre te sê het in Huisgenoot van 6 Augustus.

Friday, 24 July 2009

Jacko Junior no. 4!


Sy lewe was raaiselagtig en sy dood skielik – en steeds bly die terg-ende vrae oor die Koning van Pop, Michael Jackson, onbeant-woord.En die skokkendste is dalk dié een: Het die popkoning ook ’n vierde kind gehad?

Dit gons onder Michael Jackson se aanhangers sedert die 25-jarige Omer Bhatti op 7 Julie die gedenkdiens in Los Angeles saam met die res van die familie bygewoon het. Op ’n foto by die gedenkdiens wat ons hier plaas, sit hy lewensgroot in die voorste ry tussen familielede van die popsanger. Michael het glo al in 2004 erken Omer is ná ’n nag van passie met Pia Bhatti gebore, vertel die Britse koerant The Sun.
Sy en haar man, Riz, het in Noorweë gewoon en ná die seun se geboorte het Michael glo twee van sy personeellede gestuur om Pia by te staan.

Later, toe Omer 13 was, het die gesin getrek na Neverland, Michael se fantasielandgoed, en verskeie jare daar gebly. Die seun was daar soos ’n kind in die huis.Boonop lyk die jong man op ’n kinderfoto van hom net soos Michael se jongste kind, Prince Michael II (7), oftewel Blanket. Omer wil blykbaar nou DNS-toetse laat doen om agter die kap van die byl te kom.

En wie sou dit nie doen nie, veral as jou pa dalk die wêreld se top-verkoper-musikant van alle tye was en jy ’n hele klomp miljoene ryker kan word?

Daar hou dit ook nie op nie. Daar word steeds gegis dat Michael nie die biologiese pa van die drie wesies is oor wie daar nou tougetrek word nie. En die 64-jarige dr. Arnold Klein, sy dermatoloog, het nou glo aan vriende erken hy is die biologiese pa van Michael se twee oudste kinders, Prince Michael (12) en Paris (11). Hy het dit vroeër ten sterkste ontken.

Arnold sê glo nou Michael se twee oudste kinders is met sy sperma by die verpleegster Debbie Rowe verwek. Sy het destyds as mediese assistent vir hom gewerk terwyl hy die sanger vir vitiligo, ’n velsiekte, behandel het.

Lees meer in Huisgenoot van 30 Julie nog nuwe vrae oor MJ se lewe.

Chris Chameleon sing vir Madiba in NY


Een stil Sondagaand amper 20 jaar gelede laai Chris Chameleon laataand ’n vriendin by die lughawe af. Dis 1990 en Chris is ’n weer-magtroepie. Sy kunstenaarslewe lê nog ver in die toekoms en hy is nog niemand in die oë van die mense wat dié aand by die lughawe is.

Toe hy sy vriendin groet, herken hy ’n lang, statige man wat verbystap. Dis Nelson Mandela, dink hy oorbluf. Dieselfde Mandela wat pas ná 27 jaar in die tronk vrygelaat is, dieselfde man wat hom so geïnspireer het om krities te dink dat hy drie jaar tevore as ’n rebelse laaitie op skool dié toe nog waaghalsige woorde op sy lessenaar uitgekrap het: “Free Mandela.”

Chris kon nie die kans laat verbygaan om hom aan sy held voor te stel nie. Hy het nader gestap om te sê: “Ek het my beskeie deel gedoen om jou uit die gevangenis te kry.”

Dit was die laaste keer dat hy Madiba ontmoet het. En toe kry hy vroeër vanjaar onverwags ’n SMS van Zelda la Grange, Madiba se assistent: “Haai, stel jy belang om by Nelson Mandela se verjaar-dagkonsert op te tree?”

Op sy tipiese nonchalante manier SMS Chris terug: “Haai, ja, dit sal lekker wees!” En so het hy toe op Madiba se 91ste verjaardag op 18 Julie in New York, Amerika, saam met internasionale musieksterre by die eerste Mandeladag-konsert opgetree om geld vir die 46664-lief-dadigheidsprojek in te samel. Chris was een van net ’n handjie vol Suid-Afrikaanse kunstenaars daar.

Hy het Gimme Hope Jo’anna, Eddie Grant se beken-de anti-apart-heidstreffer, voor die reuse gehoor ge-sing, en ook die liedjie My Own Two Hands saam met die Senegalese sanger Baaba Maal. Hy’t agter die skerms rondgedwaal tussen gróót sterre soos Cyndi Lauper, Josh Groban, Stevie Wonder, Wyclef Jean, Aretha Franklin, will.i.am en Angelique Kidjo. By die gala-dinee die aand voor die konsert het hy saam met die Amerikaanse oudpres. Bill Clinton, die Franse presidentsvrou en mede-sanger by die konsert, Carla Bruni-Sarkozy, en Hollywood-akteurs soos Susan Sarandon en Morgan Freeman geëet.

Lees die volledige artikel in Huisgenoot van 30 Julie.