Friday, 24 July 2009

Chris Chameleon sing vir Madiba in NY


Een stil Sondagaand amper 20 jaar gelede laai Chris Chameleon laataand ’n vriendin by die lughawe af. Dis 1990 en Chris is ’n weer-magtroepie. Sy kunstenaarslewe lê nog ver in die toekoms en hy is nog niemand in die oë van die mense wat dié aand by die lughawe is.

Toe hy sy vriendin groet, herken hy ’n lang, statige man wat verbystap. Dis Nelson Mandela, dink hy oorbluf. Dieselfde Mandela wat pas ná 27 jaar in die tronk vrygelaat is, dieselfde man wat hom so geïnspireer het om krities te dink dat hy drie jaar tevore as ’n rebelse laaitie op skool dié toe nog waaghalsige woorde op sy lessenaar uitgekrap het: “Free Mandela.”

Chris kon nie die kans laat verbygaan om hom aan sy held voor te stel nie. Hy het nader gestap om te sê: “Ek het my beskeie deel gedoen om jou uit die gevangenis te kry.”

Dit was die laaste keer dat hy Madiba ontmoet het. En toe kry hy vroeër vanjaar onverwags ’n SMS van Zelda la Grange, Madiba se assistent: “Haai, stel jy belang om by Nelson Mandela se verjaar-dagkonsert op te tree?”

Op sy tipiese nonchalante manier SMS Chris terug: “Haai, ja, dit sal lekker wees!” En so het hy toe op Madiba se 91ste verjaardag op 18 Julie in New York, Amerika, saam met internasionale musieksterre by die eerste Mandeladag-konsert opgetree om geld vir die 46664-lief-dadigheidsprojek in te samel. Chris was een van net ’n handjie vol Suid-Afrikaanse kunstenaars daar.

Hy het Gimme Hope Jo’anna, Eddie Grant se beken-de anti-apart-heidstreffer, voor die reuse gehoor ge-sing, en ook die liedjie My Own Two Hands saam met die Senegalese sanger Baaba Maal. Hy’t agter die skerms rondgedwaal tussen gróót sterre soos Cyndi Lauper, Josh Groban, Stevie Wonder, Wyclef Jean, Aretha Franklin, will.i.am en Angelique Kidjo. By die gala-dinee die aand voor die konsert het hy saam met die Amerikaanse oudpres. Bill Clinton, die Franse presidentsvrou en mede-sanger by die konsert, Carla Bruni-Sarkozy, en Hollywood-akteurs soos Susan Sarandon en Morgan Freeman geëet.

Lees die volledige artikel in Huisgenoot van 30 Julie.