Friday, 24 July 2009

Graeme Smith kyk terug na groot oomblikke


Smith-hulle het die eerste Suid-Afrikaanse span geword wat die Aussies in Australië kon troef, en vroeër was daar ook sy 154-tal by Edgbaston vir ’n toetsreekssege oor Engeland. Hier’s ’n kykie na die Protea-kaptein se dagboek oor die bloeityd van Oktober ’07 tot April ’09.

IN elke wedstryd en reeks waarin ek teen Australië gespeel, en ander reekse waarin ek Australië sien speel het, is hul benadering altyd deur selfvertroue en geloof in hulself gekenmerk. Ons sou hulle laat wankel op 40/5, of self 250/2 behaal, maar hul lyftaal het nooit ver-ander nie. Hulle het eenvoudig in die onmoontlike geglo. En dikwels sou hulle die onmoontlike verwesenlik en terugveg om 300 aan te teken of ons vir 300 uit te boul.

In 2008 was dit die Proteas se beurt om te glo. Ons het in Engeland gewen en daarna in Australië, en een van ons grootste wapens was ons gesamentlike geloof – in onsself as individue, in mekaar en in die krag van die span. So ingewikkeld as wat krieket kan wees, so eenvoudig is dit ook. Die sleutelelemente van my spanpraatjie voor enige toets-wedstryd bly konsekwent: geduld, vennootskappe en druk. Skep vennootskappe en druk, en gebruik geduld om dit te doen.

Ons het in die tweede toets [teen Bangladesj] ernstig oor Australië begin praat. Ons het gepraat oor dissipline, trots en die verwydering van emosie uit ons besluitnemingsprosesse. Ook belangrik was die verwydering van die frase “beste span ter wêreld” uit ons besprekings. Suid-Afrikaanse spanne het die woorde meer as ’n dekade lank ge-bruik as ’n teken van respek, maar “Snapper” [die Proteas se sport-sielkundige Jeremy Snape] het gou benadruk hoe sielkundig teen-produktief dit was.

Hulle is ’n baie goeie span, maar ons ook. Dié keer moes ons siel-kundig beter voorberei wees. Ons het almal besef hoe gebreinspoel ons geraak het in die jare en jare waarin ons van “Australië, die beste span ter wêreld” gehoor het.

Meer oor Graeme se boek in Huisgenoot van 30 Julie.