
Eers was daar die Jackson Five en nou is daar die Jackson Three – dis nou as Michael Jackson se pa sy sin kry . . .
Joe Jackson sien blykbaar net sakke vol geld wanneer hy na sy drie oulike kleinkinders kyk. En hy’s glo klaar vol planne oor hoe hy Prince Michael (12), Paris (11) en Prince Michael II, oftewel Blanket (7), in jong supersterre gaan omtower.
‘‘Die familie wil graag hê die kinders moet die tradisie op die verhoog voortsit. Hulle is almal talentvol en die oudste, Prince Michael, het ’n lieflike stem. Hulle kan almal dans en sing,’’ vertel ’n bron na aan die Jackson-familie.
Joe beplan trouens reeds ’n wêreldtoer vir die kinders, sê Ian Halperin, Michael se nie-amptelike biograaf. ‘‘Joe wil hê die kinders moet in 2010 ’n wêreldtoer onderneem. Hy’t reeds platekontrakte aan twee van Michael se kinders aangebied. ‘‘Hy praat ook daarvan dat hy vir hulle die wêreld se beste orkes wil kry en hulle op toer neem as die Jackson Three.’’
Maar dit lyk asof sy vervreemde vrou en die kinders se ouma, Katherine Jackson, en die oudste twee se ma, Debbie Rowe, niks hiervan wil hoor nie. Katherine, die kinders se tydelike voog, en Debbie het juis eers hul hofstryd om toesig uitgestel om saam ’n ooreenkoms op te stel om die kinders se oupa uit hul lewe te hou. Daarvolgens sal die kinders by Katherine woon en Debbie sal gereelde besoekreg hê.
Michael het al vertel hoe sy pa, Joe, hom mishandel het, en Debbie (50) en Katherine (80) het nou net een doel voor oë: om die drie kinders so ver moontlik van hom af weg te hou.
Lees die jongste oor die Jackson-familie in Huisgenoot van 23 Julie.