
Die boere het hul visier gestel, die vroue het hul hart in honderde briewe uitgestort en die keuse is gemaak. Van die aanvanklike tien deelnemers aan die nuwe reeks van Boer soek ’n Vrou bly nou net vyf oor.
Noem hulle sommer die Groot Vyf, want die jag is oop! In die vol-gende drie maande sal TV-kykers hulle weer kan verlustig in boere se naelbyt-ontmoetings met hul potensiële droomvroue – en hopelik sien hoe hulle smoorverlief raak.
Die vyf uitverkorenes wat die meeste briewe van hoopvolle vroue gekry het, is ’n mengelmoes van jeug en grysheid, maar almal het een ding in gemeen – hulle sit oorgehaal om hul lewensmaat te ontmoet.
In die volgende weke sal kykers sien hoe die mans elkeen uit ’n stapel briewe die tien nooiens kies van wie hulle die meeste hou. Daarna kom die ontmoetings en die keuses – ai tog, daardie keuses – tot daar op el-ke plaas net een vrou oorbly. En wie weet, dalk sal ons weer, soos met die vorige reeks, sommer gou huweliksklokkies hoor lui.
Die vyf boere om wie se hart die vroue gaan meeding, is Flip (54) van Uniondale, Pieter (44) van Franschhoek, Francois (25) van Deales-ville, Johann (29) van Standerton en Ludwig (36) van Ficksburg.
Flip (54) van Uniondale het nie die vorige reeks van Boer soek ’n Vrou gekyk nie en al die skielike belangstelling deur die skoner geslag was ’n groot verrassing – veral toe hy 197 briewe kry.
Flip het aanvanklik nie gedink die vroue gaan van hom hou nie, maar ná ’n draai op die reeks se forum het hy besef daar is ’n 50 persent-kans dat hy gelukkig kan wees en die vrou van sy drome kan ontmoet. “Ek het op die forum gaan lees en besef: Hel, hulle like dié outoppie. Ek is gewoond die man is die jagter en moet agter die vrou aanloop. Hier is dit andersom. ’n Mens voel maar ongemaklik,” sê hy effens verleë.
Nadat hy sowat 15 jaar gelede geskei is, is hy nou weer reg om sy trouvrou te kry.
Lees meer oor hoe die boere die strop om die nek wil kry in Huisgenoot van 30 Julie.