Friday, 31 July 2009

Eksklusief: Mathys wys ‘nuwe’ huis


So gee jy vet, verduidelik die lenige man agter die stuur van sy silwer Jeep Cherokee. Sy skraal vingers wat gewoonlik so lig oor die kitaarsnare gly, vou stewig om die hefboom terwyl hy dit nader trek. ‘‘Wanneer jy wil rem, maak jy so,’’ wys Mathys Roets.

Die 43-jarige sanger se stem is net so ferm, net so selfversekerd soos sy greep om die spesiale hefboom teen die stuurwiel. En so, met sy bene bewegingloos voor die pedale gekruis, kyk Mathys die lewe weer vierkant in die oë. Hy is reg om die pad as parapleeg aan te pak.

Een van die dae vat hy weer die langpad Bloemfontein toe, waar hy lank in ’n koma gelê het ná die motorfietsongeluk waarin hy die gebruik van sy bene verloor het. Alleen, in dié silwer wa, en totaal onafhanklik, soos hy dit verkies. Dié keer om sy ondersteuners daar met twee musiekvertonings te bedank vir hul bystand.

Die gebrek aan privaatheid en die feit dat hy so afhanklik was van ander, het hom kwaai gehinder in die rehabilitasiesentrum in Randburg waar hy twee maande lank geleer het hoe om gewone dinge self te kan doen, soos om aan te trek en motor te bestuur. Maar dié irritasies het hom ook gedryf om intensief op sy herstelproses te fokus.

En met sy huis in Centurion in Pretoria, wat reeds verbreek en verbou is om in al sy behoeftes te voorsien, hoef Mathys niemand in die oë te kyk nie. Dis net soms, soos nou die dag toe hy met een van sy ratse bewegings uit sy Cherokee wou oorklim in sy rolstoel en die stoel buite bereik weggerol het, dat dinge nog lol.

‘‘Dan sit ek maar in die kar en skree of toeter tot iemand my hoor,’’ vertel hy.

Gelukkig is sy ma, Meisie, of sy pa, Boet, gewoonlik in die omtrek. Sy ouers het verlede jaar ná sy egskeiding by hom ingetrek.

Lees meer oor Mathys se nuwe lewe in Huisgenoot van 6 Augustus.